HOË BRANDSTOFPRYSE BLY

Gepubliseer: 6 Mei 2024

137
Christiaan Vercueil,
landbou-ekonoom,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Vir die maand van Maart 2024 het Brent-ruolie gemiddeld teen $84,74/vat verhandel. Dit het gelei tot ’n verhoging in die brandstofprys vir April 2024. Die basiese brandstofprys – die werklike koste van diesel – het egter vanaf R14,19 in Maart na R13,90 in April gedaal. Vir April 2024 is daar ’n staatsoliefondsheffing van 21 sent/liter bygevoeg, wat die totale verhoging in die brandstofprys veroorsaak.

Werklike data vir die 2022/2023-seisoen toon dat brandstof naastenby 11% van produsente se totale koste uitmaak. Brandstofpryse het jaar op jaar vanaf April 2023 tot April 2024 met 7,5% gestyg.

Hoe die dieselprys bepaal word
Die bepaling van die brandstofprys is nie ’n konsep waarmee die meeste Suid-Afrikaners bekend is nie. Die koste van die aankoop van petroleumprodukte teen invoerpariteit op die internasionale mark en die vervoer daarvan is die grootste faktore wat die basiese brandstofprys opmaak. Hierdie koste word beduidend deur die internasionale olieprys en die rand/dollar-wisselkoers beïnvloed. Addisioneel tot die basiese brandstofprys word belas­ting en heffings deur die regering bygevoeg. Grafiek 1 toon hoe die groothandelprys van diesel (0,05% S) teen R22,45/liter (soos aangeteken vir April 2024) opgemaak word:

  • Basiese brandstofprys: R13,89/liter (62%)
  • Belasting en heffings: R6,29/liter (28%)
  • Ander: R2,26/liter (10%)

Grafiek 2 toon die verandering in die olieprys (indeksbasis), basiese dieselprys (werklike koste van diesel) en die groot­handeldieselprys vanaf Februarie 2014 tot Maart 2024. Die grafiek toon ’n duidelike korrelasie tussen die verandering in die olieprys en ’n gekorreleerde verandering in die basiese dieselprys. Die korrelasie tussen die olie- en groothandeldieselprys is 67% vanaf Januarie 2021 tot Maart 2024. Die afwyking van die gelande dieselkoste en groothandeldieselkoste kan verduidelik word deur die veranderinge in heffings, belasting, vervoer- en groothandelsmarges.

Belasting en heffings
Die twee grootste heffings is die algemene brandstofheffing en die Padongelukkefonds-heffing (RAF-heffing).

Die algemene brandstofheffing is ’n heffing op elke liter brandstof. Dit het in die 2019/2020- fiskale jaar R80 miljard gegene­reer wat gelykstaande is aan omtrent 6% van die totale nasionale belastinginkomste. Hierdie heffing vloei na die Nasionale Inkomstefonds. ’n Gedeelte daarvan word geoormerk vir verdeling tussen Suid-Afrika se agt metro-munisipaliteite. In die 2019/2020- fiskale jaar is gesament­lik R13,2 miljard aan die munisipaliteite uitbetaal.

Die RAF-heffing staan tans op R2,18/liter en het vir die 2019/2020- fiskale jaar R41,2 mil-jard gegenereer.

Grafiek 3 toon die verhouding van die beweging van gelande koste van diesel met die beweging van heffings en belas­ting. In die jaar 2000 was die groothandelprys R3/liter. Van hierdie R3,00 was 26% belasting. Gelande koste speel deesdae ’n heelwat groter rol in brandstofpryse, met heffings en belasting wat ’n kleiner rol begin speel weens hoër oliepryse en ’n swakker wisselkoers.

Grafiek 4 dui die gemiddelde jaarlikse toename in die prys van die basiese brandstofprys, die algemene heffing, die RAF-heffing en ander bydraende faktore as indekse aan. Dit is duidelik uit die grafiek dat die belasting en heffings konstant sterk toeneem ongeag die basiese brandstofprys. Die RAF-heffing het met 381% toegeneem en die algemene brandstofheffing het met 247% toegeneem vanaf 2008. Die basiese brandstofprys het met 93% toegeneem in dieselfde tydperk. Dit blyk dus dat die RAF-heffing 288% en die algemene heffing 154% vinniger toegeneem het as die basiese brandstofprys.

Grafiek 1: Uiteensetting van die groothandelprys van diesel.
Nota: Die “Ander”-segment sluit opberging en verspreiding asook die vervoer- en groothandelmarge in.
Bron: Sentrale Energiefonds en Graan SA
Grafiek 2: Die verandering in pryse van ruolie, gelande diesel en groothandeldiesel in indeksvorm vanaf Februarie 2014 tot Maart 2024.
Bron: Graan SA
Grafiek 3: Beweging van die gelande koste van diesel teenoor die totale heffing op diesel.
Bron: Graan SA
Grafiek 4: Dieselprys as indeks.
Bron: Graan SA

Gevolgtrekking
Heffings en belasting van R6,29/liter vorm 28% van die totale groothandeldieselprys van R22,45/liter.

Individue verkeer dikwels onder die wanindruk dat brandstofpryse, ongeag belasting en heffings, nie korrek aan­gepas word nie. Dit is egter nie die waarheid nie. Soos gesien in Grafiek 2 is daar ’n duidelike verhou­ding tussen die brandstofprys en die olieprys. Die groot teenstrydigheid is belasting en heffings en die groot effek wat dit op die groothandelprys van brandstof het.

Hierdie effek kan deur produ­sente verminder word deur getrou boek te hou van brandstofverbruik en die dieselrabat vir produsente van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens af terug te eis. Die waarde van hierdie rabat wat teruggeëis kan word, is R3,66/liter.

Vir interessantheid
Suid-Afrika ervaar tans uiters hoë brandstofpryse. Dit is nie net ’n klip in die skoen vir produsente nie, maar vir die hele waardeketting tot by die eindverbruiker. Elke produk moet deur die waardeketting beweeg om in sy finale vorm te kom waar dit uiteindelik verbruik word. Hoë dieselpryse veroorsaak dat alle produkte se pryse styg, wat weer hoër inflasie tot gevolg het. Dit is ’n bose kringloop met die hele waardeketting wat die las moet dra.