Weerprofeet ’n held in baie se oë

Gepubliseer: 3 May 2024

81

April se held: Johan van den Berg

Môre se weer en môre se reën bepaal baie produsente se aksies – en welvaart. Produsente wil weet hoe die seisoen gaan uitdraai, want hulle beplan en bestuur daarvolgens. As landbouweerkundige het Johan van den Berg baie jare vir ons in die kristalbal gekyk en sodoende ’n goeie idee van die volgende jaar se verwagting gegee. Hierdie inligting is en word deur baie produsente gebruik om hul boerderypraktyke aan te pas.

Die wenner in die My Hero-reeks vir April is Johan van den Berg.

Met ’n landbouweerkundegraad wat hy met onderskeiding aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het, het Johan nog altyd sy verwagtinge op feite en ervaring gebaseer. Hy het nie net sy aandag aan weer­voorspellings gegee nie, maar het probeer om die effek van die klimaat op gewasse in diepte na te vors en norme daar te stel om die intydse impak van weer te kwantifiseer. Dit is iets wat veral in graanprysbepaling belangrik is.

Johan het ’n klompie inligting wat ons vandag as algemeen aanvaar, help ontwikkel. Hy het navorsing gedoen oor die bepa­ling van waterstremming by mielies en was een van die eerste navorsers in Suid-Afrika wat afstandswaarneming gebruik het deur van ’n infrarooitermometer gebruik te maak. Vandag word dié tegnologie vir heelwat meer aspekte aangewend.

Johan is deur Cobus van Coller, produ­sent en voor­sitter van Asset Research se werkgroep vir bewaringslandbou, genomineer as held in die My Hero-reeks.

Hy het ook saam met kollegas geografiese inligtingstelsels (GIS) begin gebruik om besluitnemingsmodelle na te vors – so ontwikkel en gebruik hulle die eerste GIS-model om graanoesskattings te doen.

Daar was en is altyd ’n behoefte aan ’n betroubare langtermynweervooruitskatting. In 1995 begin Johan hieraan aandag skenk en hy spesialiseer in langtermynklimaatsvoorspellings deur van die ENSO-verskynsel (El Niño Suidelike Ossilasie) gebruik te maak. Dit stop egter nie daar nie en hy wend weer eens sy kennis tot voordeel van produ­sente – eintlik die hele landbousektor – aan. Banke maak gebruik van die inligting om hul risiko’s te help verskans en graankopers en -verwerkers gebruik dit ook.

Oorspronklik het Johan die konsultasiemaatskappy Envirovision begin, maar raak toe betrokke by die oesversekeringsmaatskappy Agri Risiko Spesialiste (ARS) wat later Santam Oesversekering geword het. Hier wend hy sy kennis aan as ’n risiko-analis en word bestuurder van verskeie versekeringsprodukte, onder meer die sogenaamde “insetversekering”. Nuwe versekeringsprodukte is deur hom ontwikkel, soos byvoorbeeld ’n reënvalindeks-droogteversekeringsproduk vir natuurlike weiding asook ’n veldbrandversekeringsproduk.

Hy spesialiseer tans in die gebruik van weer- en klimaatsinligting vir beter besluitneming in landbou en hoe om beter klimaatsrisikobestuur te doen. Hy fokus ook op langtermynklimaatsvooruitskouings en die ontleding van klimaatdata om die effek van klimaatsverandering op landbou in Suid-Afrika te kwantifiseer. Voorbeelde van inligting wat aan die landbou verskaf word, is byvoorbeeld aanbevelings ten opsigte van plantdatums, wanneer om lusern te sny en oespotensiaalbepalings.

Johan het sy kennis op verskeie platforms oorgedra. Baie artikels, praatjies en lesings het uit sy pen gevloei, maar sy nederige persoonlikheid staan uit.

Weervoorspellings is ’n ingewikkelde proses, maar hy het die vermoë en geduld om hierdie ingewikkelde en aaneengeskakelde aspekte so te verduidelik dat enige persoon dit kan verstaan. Johan kon nuwe tegnologie sinvol implementeer en tot almal se voordeel aanwend. Hy skrik ook nie vir uitdagings nie en het hulle met passie aangepak en uitgesorteer. Boonop was hy self ’n boer en sy skape het hom uit die kwaad gehou.

Hy is vir seker ’n landbouheld: Sy bydrae is sonder twyfel tot voordeel van alle produsente en die landbousektor in geheel.