Liefdefontein

Gepubliseer: 3 Mei 2024

313

Beste Grootneef

’n Plaas se naam is nie net ’n plek nie – dit bied ook ’n stukkie emosie wat deur die eerste inwoner wat daar gewoon en gewerk het, ervaar is. Welgegund, Blydschap en Fonteinblau vertel van ’n stukkie grond wat die eerstes wat hul voetspore daar gelaat het se hartsnare só geroer het dat hulle besluit het om af te saal en ’n huis te bou.

Misgund en Smaldeel klink weer of die erfgename nie heeltemal tevrede met hul erfporsie was nie. Skilderykrans wil ’n mens laat afdraai om San-tekeninge êrens onder ’n holkrans te loop soek.

En dan kry jy ’n plek met ’n groot ou huis met ’n noorde- en suidestoep, soos Liefdefontein.

Wanneer die naam Liefdefontein in die gedagtes na bo dryf, ontroer die naam steeds emosies met kleur en geur van blink houtvloere, ’n kombuis vol oggendson en ’n dak wat in winters­nagte kraak.

Langs die stoep was ’n reusesuurlemoenboom met heldergeel vrugte wat takke swaar laat hang het.

Die huis met sy lang gang het gestrek tot op ’n ruim stoep met trappe wat afgelei het tot in die blomtuin. Effe verder weg, onder die dam se leiwater, was die vrugtetuin – netjies met ’n klipmuur omhein met ’n voetpad en ’n hekkie wat toegang tot lowergroen vrugtebome gebied het. Nog verder was die groentetuin in helder son, wat genoeg te ete vir ieder en elk op die plaas gebied het.

Wintersnagte naby Dewetsdorp was yskoud met spierwit gerypte oggende. In die aand het die kaggel met die kassie mieliestronke die koue uit die voorhuis geweer. Die donker gang het na die slaapka­mers gelei, waar onder ’n dik donskombers ingeduik kon word om van die koue te ontsnap.

Liefdefontein se liggaam, siel en gees was ’n oupa Klaas en ’n ouma Daisy, met Herta die wolfhond wat die werf “skoongehou” het. Oupa en ouma was beide konsentrasiekampkinders. Hulle het nie graag daaroor gepraat nie, maar het tog van tyd tot tyd vertel hoe hulle op waens gelaai is terwyl die plaashuise deur die Engelse soldate aan die brand gesteek is. Oupa en ouma moes hul dae in afsonderlike konsentrasiekampe slyt, terwyl die boerekrygers heen en weer tussen blokhuislinies oor die Vrystaatse vlaktes gejaag is. Na die oorlog was die meeste plaashuise in die Vrystaat afgebrand – die gevolge van ’n beleid van verskroeide aarde.

Vrouens en kinders wat ná die oorlog uit die konsentrasie­kampe vrygelaat is, moes meestal te voet die pad na verwoeste huise aanpak. Van die mans wat oorleef het, was in gevangenis­kampe in Ceylon, Sint Helena, Indië of waar ook al – en is eers lank na die Vrede van Vereeniging met ’n seereis terug na die Suidland beloon.

Van die familielede het mekaar ná die oorlog nooit weer gekry nie. Van die mans het in die slagveld geval of is in gevangeniskampe oorlede. Van die vrouens en kinders het erge wanvoeding in die konsentrasiekampe beleef en sou nooit weer die vryheid ervaar om huis toe te gaan nie. Oupa het tot op sy oudag gesidder oor sy kleinboet wat langs hom in ’n tent oorlede is, maar eers die volgende oggend in die eenvoud van ’n konsentrasiekampkerkhof begrawe is.

Hoe ongelooflik dan dat twee konsentrasiekampkinders mekaar na ’n oorlog kon ontmoet om op die plaas Liefdefontein te vestig. Met kinders en kleinkinders wat jaarliks tussen Kersfees en Nuwejaar hul lewe en samesyn kon vier. Die sagte gedreun van die grootmense se gesels op die stoep langs die suurlemoenboom en die niggies en neefs wat die randjieveld, gronddamme en die vrugteboord verken, bly ’n mens by.

Liefdefontein is lank reeds nie meer in familiebesit nie. Die niggies en neefs van destyds is self nou oupas en oumas. Maar Liefdefontein ontsluit steeds nostalgie en ’n verlange na wat lank gelede was.

Ou Neef, nou is dit jou en my plig om ’n heenkome te bied vir ons kinders en kleinkinders wat húlle een­dag met heimwee sal gedenk. Die naam van die plek maak nie regtig saak nie. Dis die emosie van gebondenheid en vrede wat onthou moet word.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.