LEERGIERIGE JONGBOER DEEL GRAAG SY KENNIS

Gepubliseer: 12 April 2024

106

Maart se held: Danie Bester

In die 20 jaar wat Danie Bester in boerdery betrokke is, vergestalt hy die beeld van ’n jong, moderne boer – nuuskierig, leergierig, tegnologie-bedrewe en gedrewe. Bester se wetenskaplike benadering tot boerdery is alombekend asook die feit dat hy nie skroom om sy bevindinge en kennis by sy eie boeredag, op sosiale media en as spreker tydens konferensies en inligtingsessies met ander te deel nie. Om hierdie rede kan hy gesien word as een van die bedryf se helde.

Danie is deur landboujoernalis Magda du Toit genomineer as held in die My Hero-reeks.

Die feit dat hy jaarliks in sojaboon- en mielieverbouing in die Graan SA Groei vir Goud-opbrengskompetisie presteer, is ’n teken van sy soeke na beter praktyke en oplossings vir produksie-uitdagings. Vir hom gaan dit nie oor spogregte nie, maar oor waar die opbrengsgrense lê binne die potensiaal van ’n spesifieke gewas op ’n plaas. Hy wil kyk hoe ’n mens met klein verstellings nog meer doeltreffend kan boer.

Op die plase Rietbult, Modderbult en Rietfontein in die Balfour-omgewing plant hy 55% mielies, 45% sojabone en elke tweede jaar sonneblom om ’n gedeelte van die sojaboonhektare te vervang. Presisieboerdery, grondgesondheid en wisselbou vorm die drie bene waarvolgens hy sy boerdery bestuur. Hy is ’n groot voorstander van presisietegnologie waar alle aspekte van die boerdery behoorlik ontleed word – en hy glo aan eie proewe.

Bester boer saam met sy pa, Dawie, en broer, Arno. In 2020 is hy aangewys as TLU SA se Jongboer van die Jaar en in 2022 as die Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar (Gauteng). Hy is met Janet getroud en hulle het twee kinders, Dawie en Janike.