Om ’n droom te leef

Gepubliseer: 12 April 2024

177

Beste Grootneef

Ek gesels verlede week met ’n bekende radioman met ’n helder en soepel Engelse aksent. ’n Stem wat die handelsmerk van verskeie radiostasies en TV-programme geword het. Jy kan maar sê, ’n Engelse weergawe van Spiekeries of Edwill van Aarde!

As jy die stem hoor, sal jy weet jy gesels met David. David O’Sullivan. Omroeper en rugbyspesialis wat oor baie jare met sy innemende stemtoon en opregte belang­stelling gesprekke met beken­des oor die radiogolwe van die Suidland laat uitrol het. Vele reis­ure is verkort met David se vrae aan en spitsvondige kommentaar oor wie hy ook al ’n onderhoud op radio mee gevoer het.

Onlangs het sy loopbaan ’n nuwe wending geneem met ’n boek wat hy geskryf het oor die allemans­held, Rassie die Bokbreier.

Die aand om ’n spitbraai het vele manne aan David se lippe gehang om hom te pols oor wat agter die skerms gebeur het toe die Bokke laasjaar die Wêreldbeker verower het. En oor Rassie. Rassie, die rugbygenie wat met die Wêreldrugbyraad se koppe smokkel met sy flitsende ligte in rooi, geel en groen, of wanneer hy as waterdraer ’n vinnige boodskap aan die span op die veld deurgee!

Een van die vrae wat laataand aan David gestel is, was of hy sy werk geniet – synde in ’n vertrouensverhouding met die Bokke en hul breier. Met ’n selfoon waarmee van ’n nommer 1 tot ’n nommer 15 gebel kan word. ’n Rugbynetwerk op voornaamterme, met legendes wat rugby en wen so maklik laat lyk.

David se antwoord was bondig – dat dit wat hy doen nie as werk beskou kan word nie, want hy speel in die ruimte waar hy hou van wat hy doen en doen waarvan hy hou! Hy leef sy droom.

’n Ander David het die aand tydens die spitbraai met net soveel gesag boerevrae met hartlikheid beantwoord. David Hughes, al die pad van Argentinië af met sy sagte aksent en gemaklike Engels waarmee Vrystaters tuis voel. David het vertel van die uitdagings om in Argentinië te boer. Wie sou kon raai, hy boer met Bonsmaras waarvan die teelmateriaal uit die Suidland ingevoer is – op aangeplante buffelsgras! Hy plant sojabone, mielies en koring.

Argentinië se politiek is deurmekaar met ’n president wat onlangs met ’n skrale meerderheid verkies is en nog sy voete moet vind. Van korrupsie op alle vlakke van die owerheid, kan jy vir David niks vertel nie. En hoe daar deurlopend gespook word om beleidmakers daar te beïnvloed om nie dom besluite te neem wat boerdery nog moeiliker maak nie.

In Argentinië word min handel met die plaaslike geldeenheid gedryf, meestal met ruiltransaksies. ’n Ton soja vir kunsmis. Twee beeste vir agri-chemie. Of waarvoor daar ook al ’n vraag of aanbod is. Daar word met kontant in US dollars gewoeker, aangesien die plaaslike geldeenheid nie die papier waarop dit gedruk werd is nie. Die geldtrommel onder die kooi is dus vir die Argentynse boere ’n realiteit.

Die Argentynse regering kondig soms uit die bloute kwotas af om uitvoere van landbouprodukte te beheer, wat oornag hul prys kan laat daal. Of soos onlangs gebeur het, sommer ’n ter­loopse belasting van 30% op die uitvoer van sojabone om staatskoffers te vul. Die ergste is egter ’n wegholinflasie van tussen 20% en 25% per maand! Almal koop wat hulle kan teen maandeinde as kontant of lone vloei – want die volgende maand kan dieselfde produk se prys met 20% of meer styg.

Op ’n manier hou die Argentynse boeregemeenskap die land bymekaar met voldoende voedselproduksie vir hul plaaslike bevolking. Sou jy hongersnood by die Argentynse resep voeg, sou die plek heel waarskynlik totaal onstabiel gewees het.

Ook David Hughes leef sy droom – en dit is om te boer. Sy daaglikse handel en wandel is graan- en beesboerdery. Ten spyte van vele uitdagings sal hy sy boerdery in die Argentynse hartland vir niks verruil nie.

In die nanag is die kuierplek terstond herdoop na “Twee-Davids-op-een-aand-morsdood-gekuier-fontein”. ’n Belangrike les is by die David-dubbeldoor geleer. Leef jou droom deur te doen waarvan jy hou en te hou waarvan jy doen. Dit is ’n kopskuif wat in jou eie hande is. Sinkplaatpaaie gaan daar altyd wees. As jy ’n sandkol sien aankom, sit oor in difflock en gee vet. Om jou droom te leef beteken nie noodwendig elke dag in die paradys nie, maar dat jy in ’n gebroke werklikheid ’n verskil vir mense om jou maak.

Op pad huis toe, bevind ek my agter ’n ou Landy met ’n bufferplakker wat die twee Davids se boodskap in ’n enkele frase saamvat: “One Life, Live It!”

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.