Chemiepryse: Internasionaal lyk die prentjie beter

Gepubliseer: 4 September 2023

561
Christiaan Vercueil,
landbou-ekonoom,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Suid-Afrika se landbouchemiebedryf is 100% afhanklik van invoere om aan die plaaslike vraag te voldoen. Die wêreld se waardekettings is onlangs omvergegooi deur die Covid-pandemie.

Net toe die situasie aan die verbeter was, het Rusland se inval van die Oekraïne die kaarte weer deurmekaargekrap. Genoegsame chemikalieë is noodsaaklik vir voedselsekerheid en om te verseker dat produsente optimaal en winsgewend kan produseer.

Winsgewendheid van die produsent
Chemiekoste kan ongeveer 10% tot 15% van ’n produsent se totale insetkoste uitmaak en het dus ’n relatief groot effek op die wins­gewendheid van produsente. In die vorige twee seisoene was die stygende insetkoste ’n groot punt van kommer. Gelukkig het kunsmispryse in hierdie seisoen verlaag, maar graanpryse het ook afwaartse druk ervaar.

Hoogtepunte in die landbouchemiemark
Soos reeds genoem, is waardekettings sedert die Covid-pandemie onder druk. In die geval van glifosaat, is China een van die grootste produseerders van dié bestanddeel met sowat 80% wat daar geproduseer word vir die uitvoermark. Die hoofdrywers vir die glifosaatmark is die kommersialisering van geneties gemodifiseerde onkruiddoderbestande gewasse en verhoogde landbou-en nielandboutoepassings van glifosaat.

Op ’n maandelikse basis in China het die prys in dollar van die meeste insek-, swam- en onkruiddoders vanaf Mei 2023 tot Junie 2023 gedaal.

Prys van internasionale landbouchemiese middels
Tabel 1 toon internasionale onkruiddoderpryse (in ’n Chinese hawe) per aktiewe bestanddeel. Die eerste gedeelte van die tabel toon ’n jaar-op-jaar-verandering van hierdie pryse aan. Prysbewegings op ’n jaarlikse basis toon dat die meeste van die belangrike aktiewe bestanddele prysverlagings ervaar het, behalwe trifluralien wat ’n toename van 0,1% aandui. Buiten vir die een aktiewe bestanddeel wat gelys is, het die ander gelyste bestanddele se pryse met tussen 9% en 65% afgeneem. Hierdie internasionale prysverla­gings kan egter net gedeeltelik na die plaaslike mark oorspoel weens die swakker wisselkoers.

Tabel 2 toon hierdie internasionale prysbewegings se impak op die plaaslike mark. Die tabel toon dieselfde internasio­nale onkruiddoderpryse, maar net in randterme. Omdat Suid-Afrika totaal afhanklik van invoere is, het die verswakkende wisselkoers ’n effek op elke skakel in die waardeketting en het sommige chemiese produkte prysgewys selfs toegeneem.

Dit blyk uit Tabel 3 dat insekdoders se pryse ook met ’n sterk afwaartse tendens verhandel.

Tabel 4 toon weer eens die duidelike effek van die swakker wisselkoers en hoe plaaslike pryse nie in verhouding afneem nie.

Wat internasionale swamdoderpryse betref (Tabel 5), word dieselfde sterk afwaartse tendense waargeneem, met net epoksikonasool wat slegs ’n marginale afname toon. Die prysbewegings in randterme word in Tabel 6 uitgebeeld. In rand neem epoksikonasool se prys toe met 17,8% in vergelyking met ’n 0,5%-afname in die internasionale mark. Die ander aktiewe bestanddele se dalings in randterme is tussen 20% en 26%.

Plaaslike mark
Op die plaaslike mark lyk die situasie dus anders as internasionaal weens die feit dat die meeste produkte wat in die formulering van chemiese produkte gebruik word, ingevoer word. Die koste van invoere van die aktiewe bestanddele en wisselkoers is rofweg verantwoordelik vir 55% van die prys van plaaslike chemie. Medeformuleringsmiddels dra 12,5% by, met vervoer en arbeid wat elkeen verantwoordelik is vir 7,5%. Die formule­ringsproses, verpakking en energie dra elkeen 5% by tot koste, terwyl skeepskoste verantwoordelik is vir die laaste 2,5%.

Ten slotte: glifosaatpryse
Dit blyk wel dat glifosaatpryse in die plaaslike mark sterk afwaarts verhandel. Ou, duurder voorraad is vervang met produk wat teen ’n laer koste aangekoop is. Die beskikbaarheid van glifosaat lyk ook goed met groot produksie in China. Die feit dat verskepingskoste met tussen 30% en 50% gedaal het, bevoordeel beskikbaarheid verder.

Grafiek 1: Kosteberaming vir chemikalieëpryse.
Grafiek 2: Glifosaatpryse