Maak besproeiingsmielies meer geld as vroeër jare?

Gepubliseer: 31 Julie 2023

513
Markus Monteiro, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit
van die Vrystaat

Dr Hermias van Niekerk, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit
van die Vrystaat

Suid-Afrika se landbousektor het oor die laaste paar jaar relatief konstante groei getoon. Die land se graanbedryf is ’n goeie voorbeeld van hoe landbou floreer, met onlangse produksiejare wat gepaard gegaan het met goeie reën en hoë graanpryse.

Daar was ook verskeie uitdagings vir graanprodu­sente, insluitend skerp stygende insetkoste, versuiptoestande in sommige streke asook graderingsprobleme. Spesifiek stygende insetkoste word beskou as een van die mees kommerwekkende faktore wat produsente moet trotseer.

Tabel 1 bied ’n illustrasie van die afgelope klom­pie jare se insetkoste vir mielieproduksie in Suid-Afrika. Dit toon hoe die pryse van plaaslike brandstof, totale kunsmis en saad gestyg het en ’n duidelike opwaartse tendens oor tyd vertoon, veral oor die laaste paar jaar. Ten spyte van die gunstige produksiejare en graanpryse, is sommige produsente steeds van mening dat hulle nie meer winsgewend as vroeër jare is nie weens die hoë insetkoste. Dus bly die vraag staan of graanprodusente vandag meer winsgewend is as vroeër jare. Die Universiteit van die Vrystaat se Departement van Landbou-ekonomie het ondersoek ingestel om agter die kap van die byl te kom.

Historiese bedryfstakbegrotings is gebruik om ’n vergelyking te doen van graanprodusente se wins­gewendheid oor tyd. Om pryse oor tyd te vergelyk moet die uitwerking van inflasie eers verwyder word, met ander woorde nominale pryse moet na reële pryse omgeskakel word. Die nominale waarde verwys na enige ekonomiese statistiek wat gemeet word volgens die werklike pryse wat op daardie tydstip bestaan. Die reële waarde verwys na dieselfde statistiek nadat dit vir inflasie aangepas is. Die reële prys word verkry deur die effek van prysvlakveranderings van die nominale prys te verwyder om sodoende ’n ware beeld van ekonomiese tendense te verkry.

Dink so daaroor: R1 000 het tien jaar gelede meer koopkrag gehad in vergelyking met vandag. Om ’n geldige vergelyking van twee pryse op verskillende datums te verkry, moet ons randwaardes van ekwivalente koopkrag gebruik. Dit is dus belangrik om eers nominale pryse om te skakel in reële waardes voordat akkurate gevolgtrekkings gemaak kan word.

Die eerste stap in die omskakeling van nominale ekonomiese data van verskeie afsonderlike jare na reële data is om arbitrêr ’n basisjaar te kies, waarna pryse met behulp van ’n prysindeks omgeskakel word om die vlak van koopkrag in die basisjaar te reflekteer. Die produsenteprysindeks (PPI) is gebruik om die verskeie insetkoste in werklike terme om te skakel, aangesien die PPI bekend staan as ’n maatstaf van inflasie vanuit die oogpunt van produsente. In plaas daarvan om die PPI van Statistieke Suid-Afrika (SSA) te gebruik, is ’n aangepaste PPI bereken wat bestaan uit ’n mandjie belangrike insette wat normaalweg in graanproduksie gebruik word.

Grafiek 1 toon die mandjie van insette wat gebruik is. Hierdie benadering is gevolg om die spesifieke inflasionêre druk wat graanprodusente ervaar beter te verreken, eerder as om staat te maak op die algemene PPI wat deur SSA verskaf word. 2023 is gekies as basisjaar, wat beteken dat al die historiese insetpryse in die verskeie bedryfstakbegrotings in 2023-randterme uitgedruk word.

Grafiek 1: Jaar-tot-jaar-inflasiegroeikoers vir spesifieke insetmandjie tesame met die prima rentekoers.

Nadat die aangepaste PPI bereken is, is die jaarlikse inflasiegroeikoers vir die insetmandjie afgelei en word dit grafies in Grafiek 1 voorgestel saam met die prima rentekoers. Die vergelyking van prima ren­tekoers met jaarlikse inflasiekoers kan insig gee in die impak van monetêre beleid op prysstabiliteit. Gebaseer op Grafiek 1, blyk dit dat daar ’n omgekeerde verband tussen die prima koers en die jaarlikse inflasiekoers kan wees. Spesifiek, wanneer die prima rentekoers hoog is, is die jaarlikse inflasiekoers vir die mandjie insette geneig om te daal. Dit kan wees as gevolg van die feit dat hoë rentekoerse lenings duurder maak, wat lei tot minder besteding en dus die vraag na die insette ook verminder.

Volgens Tabel 2 kan waargeneem word dat die nominale totale koste per hektaar oor tyd toegeneem het. As die totale koste per hektaar egter in reële terme oorweeg word, kan gesien word dat die koste per hektaar relatief stabiel gebly het met sommige jare wat selfs ’n daling toon. Dit dui daarop dat terwyl die nominale pryse gestyg het, die werklike koste van mielieproduksie in reële terme nie noodwendig teen dieselfde tempo toegeneem het nie. In nominale terme het die marge bo koste aansienlik van jaar tot jaar gewissel, maar in reële terme was die prentjie anders. Interessant genoeg, in sommige jare waar die nominale marge bo koste hoog was, was die reële marge bo koste eintlik laer. Die marge bo koste was die hoogste in 2016 in beide nominale en reële terme. Dit dui daarop dat produsente in daardie jaar meer winsgewend was in vergelyking met ander jare.

Gebaseer op die ontleding van die data wat aangebied word, kan die gevolgtrekking gemaak word dat daar ’n beduidende verskil tussen nominale en reële pryse is, veral wanneer dit kom by die meting van totale koste per hektaar en marge bo koste. Terwyl nominale pryse ’n stygende neiging oor tyd toon, dui die omska­keling na reële pryse aan dat hierdie waardes sywaarts beweeg of selfs in sommige jare daal. Dit beteken dat produsente inflasie en ander faktore wat die koopkrag van hul inkomste en uitgawes beïnvloed, in ag moet neem. Deur hul koste en inkomste in reële terme te ontleed, kan produsente meer ingeligte besluite neem oor pryse en beleggings, wat hulle uiteindelik kan help om langtermynvolhoubaarheid en winsgewendheid in hul boerderybedrywighede te bereik.

Figuur 1: Belangrike insette wat in mielieproduksie onder besproeiing gebruik word om ’n aangepaste produsenteprysindeks (PPI) saam te stel.