Opname wys wat insette produsente gekos het

Gepubliseer: 9 Mei 2023

585
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom, Graan SA, heleen@grainsa.co.za

Graan- en oliesadeprodusente raak toenemend bekommerd oor tendense in insetkoste. Insette is ’n graanprodusent se grootste belegging in sy oes. Dit is ook die grootste uitgawe. Pryse wat produsente vir insette betaal, is dikwels ondeursigtig en kan wisselvallig wees.

Graan SA monitor deurlopend plaaslike sowel as internasionale insetpryse met die doel om deursigtigheid in die mark te bevorder, en sodoende lede te bemagtig om internasionaal te kan meeding. Graanprodusente in somerreënvalgebiede het in die afgelope plantseisoen deelgeneem aan ’n opname wat produsentepryse met die gemiddeldes van elke omliggende area vergelyk. Van die resultate van die opname word in hierdie artikel bespreek.

Landbouchemikalieë
Die landbou- chemiese mark in Suid-Afrika is allesbehalwe deursigtig. Toegang tot pryslyste of prysaanduidings van maatskappye is feitlik onmoontlik om te bekom. Graan SA is in die proses om markdeursigtigheid te bevorder. Graan SA-lede is deel van ’n globale graan- en oliesadebedryf en as hulle nie die regte pryse vir hulle landbouchemikalieë betaal nie, kan hulle nie meeding nie.

Grafiek 1 toon die gemiddelde prys (R/ℓ) wat produsente vir Roundup Powermax betaal het. Die gemiddelde produsenteprys vir Roundup Powermax in somersaaigebiede was R171,11/ℓ. Van die 19 produsente het 47% meer as hierdie gemiddeld betaal. Daar is opgemerk dat produsente in die oostelike gebiede en die Noord-Kaap geneig is om meer as die gemiddelde prys vir die produk te betaal.

Deelnemer 1 en 2 produseer hoofsaaklik in die suide van die Noordwes-provinsie. Daar is ’n 16%-prysverskil tussen die pryse wat dié deelnemers onderskeidelik in Desember 2022 en Januarie 2023 vir die produk betaal het. Dit is in teenstelling met internasionale tendense wat aangedui het dat landbou- chemiese pryse skerp afgeneem het.

Grafiek 1: Produsenteprys betaal vir Roundup Powermax in die 2022/2023-produksieseisoen.
Bron: Graan SA

Saad
Naas kunsmis is saad ’n somergraanprodusent se grootste insetkoste en saadpryse is beslis die koste waarmee produsente hierdie seisoen die meeste worstel. Grafiek 2 toon die produsentepryse betaal vir sojaboonsaad (PAN 1521R) in die 2022/2023-produksieseisoen. Die grafiek visualiseer die groot variasie tussen pryse wat produsente vir sojaboonsaad betaal het. Area 5 verteenwoordig die area tussen Koster, Brits en Ogies; area 6 strek van Lydenburg na Ermelo; area 2 verteenwoordig Bultfontein; en area 3 is tussen Hoopstad, Hennenman en Bothaville.

Een van die waarnemings wat gemaak is, is dat produsente wat saad vir saadproduksie aangekoop het minder as die gemiddelde pryse betaal het. Die opname het verder aan die lig gebring dat die spesifieke kultivar se pryse in die Bultfontein-omgewing oor die algemeen hoër was as die somerstreek- gemiddelde prys van R584,30/140 duisend pitte (DP). Die hoogste pryse is egter betaal deur produsente in die ooste van die land.

Grafiek 2: Produsenteprys betaal vir PAN 1521R in die 2022/2023-produksieseisoen.
Bron: Graan SA

Samevatting
Suid-Afrika se somergraanprodusente was in 2022 uitgelewer aan besonder hoë insetkoste wat winsgewendheid geknou het. Tesame met die monitering van internasionale prystendense, is dit belang­rik om deursigtigheid in die mark te bewerkstellig. Die Roundup Powermax- en sojaboonsaadpryse wat bespreek is, is slegs twee voorbeelde van insetkoste.

Om af te sluit met ’n finale gedagte: Gedurende ’n gegewe plantseisoen word daar nie net een landbou- chemiese produk op die lande gebruik nie; ’n produk word nie net een keer gebruik nie, en wanneer die produk gebruik word, word daar nie net een liter of kilogram gebruik nie. Klein verskille in pryse kan lei tot groot koste wat elders meer effektief aangewend kon word.

Die resultate van die opname is aan deelnemers gestuur tesame met die volledige datastelle vir elke area. Vir enige verdere inligting, kontak gerus vir Heleen Viljoen deur ’n e-pos te stuur na heleen@grainsa.co.za.