Jy dok meer op vir wintersaad in 2023

Gepubliseer: 1 Maart 2023

878
Petru Fourie, landbou-ekonoom en navorsings­koördineerder, Graan SA, petru@grainsa.co.za
Christiaan Vercueil, junior landbou-ekonoom, Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Saad bly seker een van ’n produsent se heel belangrikste insette, alhoewel die prys nie so beduidend soos die van ander insette is nie. Die genetiese potensiaal van ’n kultivar bepaal uiteindelik die potensiële produksie en winsgewendheid van ’n wintergraanprodusent en is daarom die beginpunt om ’n suksesvolle oes te vestig.

Vandat die teling-en-tegnologieheffing op koring sewe jaar gelede geïmplementeer is, is baie goeie vordering in die saadmark opgemerk:

  • Twee nuwe saadmaatskappye het die koringsaadmark betree asook een potensiële tegnologieverskaffer.
  • Nege nuwe kultivars is in 2022 deur die Tegniese Komitee vir Koring goedgekeur.
  • Van hierdie nege was vier vir besproeiing, vyf vir die Wes-Kaap en een vir die noordelike droëlandareas.
  • Nuwe tegnologie in die pyplyn sluit in Bioceres se HB4-droogtebestande geen wat op koring getoets gaan word.

In hierdie artikel word die jongste saadpryse van koring- en garskultivars wat kommersieel in die mark beskikbaar is, met produsente gedeel asook wenke om seker te maak die beste word uit die saad gehaal.

Alle maatskappye wat koring- en garssaad bemark, is genader om aan die prysvergelykings deel te neem. Kaap Agri het aangedui dat hulle nie aan die opname wil deelneem nie.

Tabel 1 dui wintergraansaadpryse vir 2021, 2022 en 2023 aan. Daar is altesaam nege koringkultivars vir die noordelike droëlandgebiede en 18 besproeiingskultivars beskikbaar, terwyl daar kommersieel agt verskillende kultivars vir die Wes-Kaap beskikbaar is. Daar is vier garskultivars waaruit produsente in die Wes-Kaap kan kies.

Koringsaadpryse het in 2023 met gemiddeld 20,91% gestyg. Sommige maatskappye se kultivars het tot soveel as 35,5% gestyg, terwyl ander maatskappye se kultivars in geheel met net 14,1% gestyg het. Wat interessant is, is dat koringsaad in die noordelike produksiegebiede gemiddeld R592 per 25 kg-sak kos, terwyl saad in die Kaap R622 per 50 kg-sak kos. Garssaadpryse het gemiddeld met 22,8% gestyg.

Die inligting in Tabel 1 neem nie afslag vir vroeë bestellings en grootmaataankope in ag nie. Dit is belangrik om self navraag by die saadmaatskappye te doen om te verseker dat die beste moontlike prys beding word.

Kultivarkeuse
Belangrike riglyne wat gevolg behoort te word wanneer kultivarkeuses uitgeoefen word, sluit die volgende in:

  • Plant ’n pakket van kultivars om risiko’s ten opsigte van agronomiese eienskappe, plaag- en siekteweerstand, valgetal en gradering te versprei.
  • Moet nie ’n staatmakerkultivar summier met ’n nuwe en onbekende kultivar vervang nie. Plant die nuwe/onbekende kultivar eers op ’n kleiner skaal aan en maak seker dat dit aan persoonlike vereistes voldoen.

Raadpleeg die LNR-Kleingraan se handleidings vir wintergraanverbouing en verseker dat die kultivar onafhanklik geëvalueer en volgens eienskappe wat op die plaas belangrik is, presteer. Sien ook die wintergraankultivarbylaag waarin die resultate van die nasionale kultivarevaluasieprogram deur die LNR-Kleingraan gepubliseer is. Raadpleeg die betrokke kundiges indien inligting ontbreek of onsekerheid bestaan. Waak daarteen om ’n ongetoetste kultivar aan te plant.