Brandstof: Oliefondsheffing (slate levy) weeg swaar op pryse

Gepubliseer: 7 September 2022

1497
Christiaan Vercueil, junior landbou-ekonoom, Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Die heel eerste heffing op Suid-Afrikaanse brandstof, die algemene brandstofheffing, is in April 1983 ingestel ingevolge die Doeane- en Aksynswet (Wet Nr. 91 van 1964). Vandag is daar nege heffings van toepassing op brandstof, elkeen met ’n spesifieke doel.

Sedert Januarie 2020 het dieselpryse al 32 bewegings agter die rug: Van hierdie 32 bewegings was 12 afwaarts en 20 opwaarts. Die groothandelprysbeweging vanaf Januarie 2020 tot September 2022 was ’n toename van 64% vanaf R14,62/ℓ na R23,96/ℓ. Die verskil tussen Mei 2020 en Julie 2022 (die laagste en die hoogste punte in hierdie tydperk) is ’n toename van 129% vanaf R11,09 na R25,40.

Uit Grafiek 1 kan duidelik gesien word dat die groothandeldieselprys en die gemiddelde olieprys ’n sterk korrelasie het en dat die dieselprys wel in verhouding met die olieprys se beweging aangepas word. Hierdie groot prysstyging, soos voorheen genoem, word ook duidelik in die grafiek uitgebeeld. Alhoewel die diesel- en olieprys ’n baie sterk korrelasie het, is daar vele faktore wat ’n rol speel in die prysbepaling. Die wisselkoers het onder meer ’n enorme impak op die prys van brandstof.

Grafiek 1: Groothandeldieselprys en die gemiddelde olieprys.

Grafiek 2 toon die verhouding van beweging tussen die groothandeldieselprys en die gemiddelde olieprys op ’n maandelikse basis. Dit is duidelik dat die olieprys groter en meer wisselvallige bewegings maak, terwyl die dieselprys op ’n meer gematigde wyse aangepas word om oor- en onderverhaling in ewewig te probeer bring.

Grafiek 2: %-verandering van die olie- en dieselprys op ’n maandelikse basis.

Staatsoliefondsheffing (slate levy)
Die staatsoliefondsheffing verskil van die ander heffings wat op brandstof geplaas word in die opsig dat die inkomste van daardie heffing nie deur die staat ingepalm word nie. Dié heffing word gebruik as vergoeding aan brandstofmaatskappye.

Hierdie heffing bestaan as gevolg van die manier waarop Suid-Afrika se basiese brandstofprys bepaal word. Die plaaslike brandstofprys word bepaal deur wat die koste sou beloop om geraffineerde brandstof vanaf die buiteland in te voer. Elke maand se plaaslike pryse is gekoppel aan die vorige maand se invoerkoste, dus betaal verbruikers wat hulle eintlik die vorige maand moes betaal het. Die prys word vir ’n volle maand bepaal en verander nie daagliks soos pryse verander nie.

Alhoewel die basiese brandstofprys maandeliks aangepas word, ontstaan daar steeds klein ongelykhede wat veroorsaak word deur die gemiddelde prys vir die maand en die datums waarop brandstofmaatskappye transaksies gedoen het. Byvoorbeeld, indien die daaglikse prys vir diesel R25/ℓ is vir die eerste helfte van die maand en R27/ℓ vir die tweede helfte, is die gemiddeld R26/ℓ vir die maand. Indien ’n brandstofmaatskappy al sy transaksies in die eerste helfte van die maand gedoen het, is sy eintlike prys R25/ℓ en nie die R26/ℓ gemiddeld nie. Dus is die maatskappy in ’n agterstand van R1/ℓ wat verhaal moet word uit die staatsoliefondsheffing. Dié heffing is dus meer soos ’n egalisasiefonds.

Indien die maatskappy oorverhaal het (dus slegs die tweede helfte van die maand teen R27/ℓ), word die fondse wat aan die verbruiker “geskuld” word, saamgepoel vir wanneer die verbruikers weer die maatskappye skuld. Die oomblik as hierdie poel leegloop, word die staatsoliefondsheffing ingestel “to wipe the slate clean”. (Joubert, 2012)

Samevatting
Die plaaslike brandstofprys word saamgestel soos in Grafiek 3 uiteengesit. Vir meer inligting oor presies hoe die groothandeldieselprys bepaal word, sien asseblief SA Graan/Grain se April 2022-uitgawe, bladsy 56. Die staatsoliefondsheffing is nie deur die staat vir sy eie sak ingestel nie, maar word gebruik om brandstofmaatskappye wat die koste van brandstofinvoere vir ’n maand vooruit dra, te vergoed.

Grafiek 3: Samestelling van die brandstofprys.

Bron
Joubert, P. 2012. What is the slate levy? Retrieved from Solidariteit: https://solidariteit.co.za/what-is-the-slate-levy/amp/