Toewyding en waardevolle ondervinding dryf dié span

Dr Dirk Strydom, hoof: NAMPO, Bemarking en Navorsingskoördinering
Gepubliseer: 1 Augustus 2022

458

Die NAMPO-, Bemarking- en Navorsingskoördinering-departement bestaan uit drie afdelings – elk met ’n bekwame span en ’n magdom ondervinding.

NAMPO
Die handelskou is nie net ’n tradisie op die Graan SA-­kalender nie, maar is ook ’n hoeksteen van die orga­nisasie se volhoubaarheid. Die inkomste wat uit NAMPO voorsien word, help om begrotings te laat klop en minder heffings van produsente te verhaal. NAMPO het drie groot doelwitte, naamlik om ’n addisionele inkomste vir Graan SA te bring, om die beeld van landbou uit te dra en om ’n handelsplatform vir die landbousektor te wees. NAMPO Park word deur die jaar uitverhuur vir funksies om seker te maak dat die bate deurlopend benut word.

Addisionele handelskoue, soos NAMPO Kaap, is die afgelope klompie jare ontwikkel en vir die eerste keer gaan daar ook vanjaar ’n lewendehawe-, jag- en buiteleweskou genaamd NAMPO Alfa aan die einde van September wees. NAMPO en die handelsmerk is iets waarop ieder en elk trots kan wees.

Bemarking
Media- en produsenteskakeling is ’n noodsaaklike en uitdagende taak binne Graan SA. Hier is die verantwoordelikheid om seker te maak dat kommunikasie effektief plaasvind en dat die media en die publiek die belang van graanprodusente besef. Dit is ook deur­slaggewend dat produsente verstaan wat Graan SA vir hulle doen en dat hulle eienaarskap van die organisasie neem.

Heffings is die basis van Graan SA – daarsonder is die organisasie nie volhoubaar nie en kan dit ook nie produsente ondersteun nie. Slegs produsente is lede van Graan SA – om outonomiteit te behou, is dit nodig om so veel as moontlik heffings in te samel en die lededatabasis akkuraat te voltooi en onderhou. Nie net samel hierdie afdeling heffings in nie, maar dit ondersoek ook nuwe voordele vir lede én verduidelik hoe lede baat vind by hul lidmaatskap van Graan SA.

Die SA Graan/Grain-tydskrif is die mondstuk van Graan SA. Hier­die is ’n publikasie waarop die organisasie baie trots is en dit word as ’n besigheidseenheid bedryf. Die tydskrif verduidelik nie net wat Graan SA doen nie, maar dit bied ook vir produsente oplossings vir probleme deur middel van relevante artikels. Dit is vir Graan SA be­langrik dat produsente aanhou deel vorm van die redaksie – vir relevansie asook die plasing van tydige artikels. Die tydskrif word grootliks befonds deur middel van advertensies. Die laaste paar jaar is moeite gedoen om die elektroniese media beter te benut. Lees gerus die elektroniese weergawe van die tydskrif by sagrainmag.co.za.

Navorsing
Graan SA se vernaamste navorsingsprioriteite is gewasverbete­ring, plantgesondheid en klimaataanpasbaarheid. Die primêre doelwit van die organisasie se graannavorsing is om navorsings­konsortiums te vestig wat innovering gebruik om die produktiwiteit, winsgewendheid en volhoubaarheid van Suid-Afrikaanse graan- en olie­saadprodusente te verbeter en die bedryf asook Suid-Afrika tot voordeel te strek. ’n Bykomende fokuspunt is om mensekapitaal deur studente-opleiding en die aanstelling van tegnici te ontwikkel – veral in skaars vaardighede soos teling, agronomie, plant­patologie en nematologie. Die navorsingspan is ook betrokke by die koördi­nering van nasionale kultivarevaluasies vir mielies en sorghum.