Internasionale voorrade is moontlik onder druk

Gepubliseer: 4 Julie 2022

593
Heleen Viljoen, intern:
Toegepaste Ekonomie, Graan SA, heleen@grainsa.co.za

15/06/2022

Suid-Afrika se graanmarkte funksioneer in ’n vryemarkekonomie. Dit beteken dat markkragte, tesame met vraag en aanbod, pryse bepaal. Die afgelope paar maande was wêreldgraanvoorrade in die kollig en tans bied kommer oor moontlike voorraadtekorte sterk fundamentele ondersteuning vir kontrakpryse.

Die media, tesame met politici, speel ’n groot rol in die verspreiding van inligting, maar op die ou end moet daar vertrou word op die grondbeginsels in die mark.

Wanneer vraag en aanbod oorweeg word, word verskeie faktore in ag geneem. Die vraag verwys na die hoeveelheid aanvraag wat daar vir ’n gegewe produk is. Vir grane word daar gekyk na die vraag vir industriële, veevoer-, saad- asook menslike verbruik. Aanbod verwys na die hoeveelheid graan wat beskikbaar is vir dié verbruik en bestaan uit produksie, invoere asook beginvoorraad.

Koringvraag
Die wêreldkoringvraag het oor die afgelope paar jaar konstant gegroei. Die vraag na koring vir menslike verbruik maak die grootste gedeelte uit van die totale vraag en dit is dus ’n belangrike faktor om dop te hou. Volgens die voorspelling vir die 2022/2023-bemarkingsjaar is die vraag na koring hoër as vorige jare. Daar is verskeie redes hiervoor, maar een van die groot drywers is die onsekerheid wat veroorsaak word deur die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne.

Internasionaal is lande – veral ontwikkelende lande – bekommerd oor voedselsekerheid en die beskikbaarheid van koringuitvoervoorrade. Groot invoerlande, soos Egipte, is afhanklik van invoere om in hul plaaslike vraag te voorsien. Egipte, wat in 2021 meer as 66% van hul koring vanaf Rusland en die Oekraïne ingevoer het, moet nou ander bronne vir koringinvoere oorweeg.

Koringaanbod
Die internasionale koringaanbod word grotendeels bepaal deur hoeveel voorrade beskikbaar is vir uitvoer vanaf die belangrike koringuitvoerlande. Aanbod word verder deur die plaaslike produksie van elke land bepaal. Nie net het die oorlog die vraag na koring beïnvloed nie, maar dit het ook tot ’n groot mate uitvoerbeskikbaarheid beïnvloed. Lande soos Indië, Kazakstan, Egipte en Serwië het in reaksie op die konflik koringuitvoere verban. So is ’n gedeelte van die wêrelduitvoervoorrade weggeneem.

Grafiek 1 toon dat die voorspelling vir wêreldkoringproduksie vir die komende seisoen gaan afneem. Produksietoestande in groot dele van Amerika, Kanada en Europa was droog gedurende die vroeë fases van plantontwikkeling, wat kan lei tot laer opbrengste – en dus laer voorrade beskikbaar vir uitvoer. Die stroopproses is egter aan die gang in die grootste dele van die Noordelike Halfrond, wat addisionele voorraad in die wêreldmark inbring.

Grafiek 1: Wêreldvraag, -produksie en pryse vir koring. Bron: Internasionale Graanraad (IGC); JSE
Bron: Internasionale Graanraad (IGC); JSE

Wêreldkoring se huidige vraag-en-aanbod-scenario bied fundamentele ondersteuning vir kontrakpryse. Al word die 2018/2019- en 2022/2023-seisoene gekenmerk deur produksie wat nie die totale vraag kan dek nie, moet daar in ag geneem word dat beginvoorraad en invoere ook ’n rol speel om totale aanbod uit te maak. Die Oekraïne se vermoë om gedurende Julie en Augustus koring uit te voer, is dus ’n brandpunt wat dopgehou moet word.

Mielievraag
Die wêreldmielievraag is afwaarts aangepas vir die 2022/2023-bemarkingseisoen. Die vraag na mielies word saamgestel uit industriële, voedsel- en voerverbruik. Hiervan maak verbruik vir veevoer die grootste gedeelte uit. Die hoë mieliepryse wat tans ervaar word, het tot gevolg dat gekyk word na alternatiewe om voerkoste te verminder. Die hoë Brent-ruolieprys het ook ’n uitwerking op die wêreldvraag na mielies. Lande met etanolproduksiemandate, soos Kanada en Amerika, beskou mielies as ’n alternatief om hoë energiekoste te probeer beperk. Amerika het reeds in Junie hul etanolproduksiemandate opwaarts aanpas.

Mielie-aanbod
Die internasionale mielie-aanbod word grotendeels bepaal deur wêreldproduksie, tesame met hoeveel voorrade beskikbaar is vir uitvoer. Wêreldproduksie-voorspellings vir die 2022/2023-bemar­kings­jaar deur die Internasionale Graanraad (IGC), is skerp afwaarts aangepas. Die grootste afwaartse aanpassing vir produksie is gemaak vir Amerika – die grootste produseerder ter wêreld. Die keuse tussen die aanplanting van mielies of sojabone te midde van historiese hoë kunsmis- en insetkoste, het tot gevolg gehad dat Amerika vir hierdie seisoen minder mielies geplant het. Die stroopproses is wel aan die gang in die grootste dele van die Suidelike Halfrond, wat addisionele voorraad in die wêreldmark inbring.

Soos op Grafiek 2 waargeneem kan word, is die tendens sedert die 2017/2018-seisoen dat produksie nie genoeg is vir die totale vraag nie. Daar moet egter in ag geneem word dat die totale aanbod deur produksie, invoere en beginvoorrade uitgemaak word. Die grafiek toon verder dat plaaslike sowel as internasionale kontrakpryse saam met hierdie tendens gestyg het. Die vooruitskatting vir die 2022/2023-seisoen is egter nog onderhewig aan die bepaling van opbrengste in die lande wat eers later in die jaar geplant het.

Grafiek 2: Wêreldvraag, -produksie en pryse vir mielies. Bron: Internasionale Graanraad (IGC); JSE
Bron: Internasionale Graanraad (IGC); JSE

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.