NAMPO Kaap 2022 groter en nog beter

Jan Greyling, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 1 Julie 2022

1631

NAMPO Kaap beloof om vanjaar nog groter en beter as die laaste aanbieding in 2019 te wees. Die nuutste werktuie en jongste tegnologie vir graan-, vee-, vrugte-, groente- en wingerdprodusente asook ander rolspelers in die landboubedryf, sal hiervoor sorg.

Die skou in Bredasdorp word vanjaar vir die eer­ste keer oor vier dae aangebied – van Woensdag 14 September tot Saterdag 17 September. Dit is die eerste keer dat die ekspo op ’n Saterdag oop sal wees.

Kaartjies is reeds van die begin van Julie af aanlyn beskikbaar teen R80 per volwassene en R40 per skoolgaande kind per dag. Kinders onder ses se toegang is gratis.

Lede van Graan SA, die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) sal daagliks by die Graan SA-ontvangs in die Absa-sentrum verwelkom word. Hier kan hulle tydens NAMPO Kaap kom bladskud en bene rek. Vir die lede is daar spesiale parkering aangrensend tot die ingang na die saal.

Na die sukses van 2018 en 2019 is skouer aan die wiel gesit om vanjaar ’n nog groter en beter uitstalgeleentheid aan uitstallers uit die landbouprodukte- en -dienstemark te bied. “Strategiese veran­deringe is op die terrein aangebring om meer uitstallers te huisves,” sê Henk Aggenbach, voorsitter van NAMPO Kaap.

Die Santam-ouditorium is nou ’n dubbelverdiepinggebou waar Nasie in Gesprek onder aangebied en die nuwe skoonheidsalon op die boonste vlak gehuisves sal word,” sê Aggenbach.

Iets vir almal
Produsente en Jan Alleman kan uitsien na die Nasie in Gesprek-reeks met Theo Vorster in die Santam-ouditorium; die Graan SA/Omnia/Landbouweekblad Boereplanne-kompetisie; leersame saadpersele waar besoekers prakties die aangeplante gewasse kan besigtig en meer inligting van kundiges kan bekom; demonstrasies van ’n volledige akwaponiese en hidroponiese kweekstelsel; daaglikse 4×4-demonstrasies; waterboor-demonstrasies asook die Engen-vete­raantrekkers.

Die skoner geslag word vanjaar behoorlik getrakteer met ’n leersame damesprogram wat kuns, kos, klets en vermaak sal insluit. Boonop is daar die splinternuwe salon met skoonheidsterapeute in die verbeterde Santam-ouditorium om na uit te sien.

Vee
Buiten die nuutste werktuie en die jongste tegnologie, kan besoekers ook uitsien na hoogtepunte in die veebedryf:

  • Die BKB Merino Classic ’22 (14 en 15 September), die Merino-ras se nasionale kampioenskappe.
  • Die eindronde van die Toyota SA Nasionale Jongafslaerskompetisie. Die kompetisie word deur Plaas Media aangebied.
  • ’n Uitstalling van 15 veerasse.
  • Wolskeerdemonstrasies in die Voermol-gebou.

Fokus op môre se produsente
Die Overberg Streekjeugskou in die BKB-veesentrum sal vanjaar sowat 175 deelnemers hê. Toyota SA se Nasionale Jong­afslaerskompetisie vir 2022 se uiteindelike wenners word tydens NAMPO Kaap gekroon. Die kompetisie het vroeër vanjaar afgeskop vir deelnemers tussen 19 en 35 jaar oud. Die pryse sluit ’n oorsese reis in ter waarde van R55 000, waartydens die wenner homself teen internasio­nale afslaers kan meet.

’n Omvattende skoleprogram word aangebied vir leerders uit die Swartland met landbou as ’n skoolvak. Overberg-skole se biologie- en wiskundeleerders word ook genooi. Die program word met ondersteuningsborge soos Neptun deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou gekoördineer. Leerders sal blootgestel word aan die nuutste tendense in vertikale boerderystelsels, akkerbou, diere­produksie en volhoubare landbou. Spesiale klem sal op die rol van die departement en loopbaangeleenthede in die landbou geplaas word.

Staan ’n bietjie nader
Vir diegene wat glo in die ware Jakob, is dit goed om te weet dat Syngenta-Sensako, Sabbi, AB InBev, Omnia, AECI en verskeie ander verskaffers gewasdemonstrasies op hul akkerboupersele sal aanbied.

Die Universiteit Stellenbosch sal die belangrikheid van landboumetodes op beperkte grond en deur optimale waterbenutting bekendstel.

In die hidroponika-uitstalling in die Waterwise-sentrum word van nader gekyk na die waarde wat vertikale stelsels tot volhoubare, wins­gewende tuinbou kan maak. Kleinboere se behoeftes word onder meer by die Waterwise-sentrum en op die akkerboupersele hanteer.

Wes-Kaapse blommeprag
’n Spesiale nuwe ruimte is ingerig vir die blommeskat van die UNESCO Kaapse fynbos-bioom. Blomliefhebbers kan hulle in die juwele van die Elim-veldblomskou kom verlustig in die Shell-saal. ’n Wye verskeidenheid fynbos- en veldblomfamilies word uitgestal.

Met die Nedbank-blommerangskikkingsprogram sal Marjolijn Malan, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Blomme-unie se nasionale onderwyspaneel en ’n lid van die Wes-Kaapse Blommerangskikkersvereniging, haar slag met fynbos en veldblomme uit die streek wys.

Hap en tap
Etes en vloeibare lafenis kan vanjaar onder meer geniet word by die Standard Bank/Ruêns Kollege-steakhouse, die Hollard-bistro, die BKB/Suideroord-teetuin, die Elim-teetuin en verskeie snoepies en rusareas.

Verkeerbeheer
NAMPO Kaap het die verwagte verkeersvloei rondom Bredasdorp Park deeglik hersien. Die twee parkeerterreine wat vroeër met twee hektaar vergroot is, het nog ’n parkeer­terrein, noord van die park, bygekry. Bredasdorp Park het vier ingangshekke vir besoekers asook die veeskouhek.

Produsente, insetverskaffers en kopers wat beoog om na NAMPO Kaap 2022 te vlieg, sal die aanloopbaan by Andrew’s Field-lughawe buite Bredasdorp kan gebruik.

Borge is die ruggraat
Aggenbach sê NAMPO Kaap 2022 is slegs moontlik met borge se ondersteuning. “Die pilare van hierdie landboutoonvenster is die vertroue wat landboubesighede in NAMPO Kaap stel. Daarvoor is ons dankbaar.” Vanjaar se hoofborge is: Overberg Agri, BKB, Absa, AB InBev, Total Energies, Toyota, Voermol, Hollard, Standard Bank, Shell SA, Feedem, Nutec, Santam, SRS Roofing, die Wes-Kaapse Departement van Landbou, die Wes-Kaapse regering en Kaap Agulhas Munisipaliteit.

Hy gee ook erkenning aan die 2022-mediaborge: die hoof­mediaborg, Plaas Media, sowel as Graan SA se skakelafdeling en AgriAbout.

Bespreek kaartjies en blyplek
Toegangskaartjies kan by www.ticketpros.co.za gekoop word.

Verblyfbesprekings moet vroegtydig gedoen word. Skakel die Kaap Agulhas-toerismekantoor by 028 424 2584/082 896 2225 en vra vir Tirzah Atkins of besoek www.overberginfo.com vir ver­blyf naby of in Bredasdorp, Napier, Struisbaai, Waenhuiskrans en L’Agulhas, Swellendam, Caledon, Stanford en Hermanus.

Vir inligting oor NAMPO Kaap 2022 besoek www.expo.org.za.
Skakel 028 050 1385/072 905 5111 of stuur ’n e-pos na admin@expo.org.za.