Gespreksforum raak verskeie knelpunte aan

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 1 Julie 2022

622

Nasie in Gesprek het vanjaar sy tiende bestaansjaar met ’n wye verskeidenheid onderwerpe gevier – van die land se swak pad- en spoorweginfrastruktuur tot by die uitdagings wat die hedendaagse jeug in die gesig staar.

Francois Strydom (hoof- uitvoerende beampte van die Senwes-groep asook beskermheer van die Nasie in Gesprek-forum) het tydens die laaste sessie op Vrydag 20 Mei gesê dié forum het ’n lansie vir die totale voedsel- en veselwaardeketting gebreek deur bewustheid en begrip daar te stel.

Verskeie swaargewigrolspelers, soos dr Pieter Taljaard (uitvoe­rende hoofbestuurder van Graan SA), prof Ferdi Meyer (direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid, BFAP) en Karidas Tshintsholo (stigter en hoof- uitvoerende beampte van Khula) het deel aan die week se gesprekke gehad.

Die paneel wat oor “Die toekoms van landbou: ’n nuwe generasie” gesprek gevoer het, was Wandile Sihlobo (hoofekonoom van Agbiz as fasiliteerder), dr Tracy Davids (bestuurder: Kommoditeitsmarkte en Insigte by BFAP), Karidas Tshintsholo (stigter en hoof- uitvoerende beampte van Khula), Jeremia Mathebula (visevoorsitter van Graan SA), dr Johnny van der Merwe (besturende direkteur van AMT) en Sinelwe Fakade (besturende direkteur van Rocky Park-landbougroep en stigter van Ukhanyo Farmer Development).

Ekonomie
Heel eerste op die Nasie in Gesprek-spyskaart was “Die stand van die ekonomie, voorwaarts, mars” met Theo Vorster (hoof- uitvoe­rende beampte van Galileo Capital) in die fasiliteerderstoel. Deelne­mers was Kokkie Kooyman (portefeuljebestuurder: Denker Capital), prof Ferdi Meyer en Hugo Pienaar (hoofekonoom by die Buro vir Ekonomiese Navorsing).

In dié gespreksforum het dit na vore gekom dat hoewel die COVID-19-situasie in die land begin normaliseer, ander faktore die ekonomie verhinder om op die herstelpad te kom. Dit sluit die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne, die toename in beurtkrag en die vloede in KwaZulu-Natal in.

Deelnemers het saamgestem dat die Suid-Afrikaanse ekonomie tog ’n sprankie van hoop bied, mits uitdagings onverwyld op ’n verantwoordelike en deursigtige wyse aangepak word.

Die land se bevolking moet ’n meer aktiewe rol speel en as kampioene van verandering na vore tree. Die eerste tree in die aanpak van hierdie uitdagings is gegee toe president Cyril Ramaphosa in sy staatsrede die kardinale rol wat landbou in ekonomiese herlewing speel, bevestig het.

Paneellede by die Nasie in Gesprek-forum oor “Beter toegang: infrastruktuur en logistiek” was Theo Vorster (fasiliteerder en hoof- uitvoerende beampte van Galileo Capital), Misumzi Xata (streeksbedryfsbestuurder: PPECB, Oos-Kaap), dr Pieter Taljaard (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA), dr André van der Vyver (uitvoerende direkteur: SACOTA) en Jan-Louis Spoelstra (Flying Swans).
Jannie de Villiers (voormalige uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA) by die laaste sessie van vanjaar se Nasie in Gesprek-forum op NAMPO Park. Hy het ook die openingsrede by die sessie oor “Die toekoms van landbou: ’n nuwe generasie” gelewer. Hy het die jeug na analogie van die jaarlikse wildebeesmigrasie gemotiveer om die eerste stap te neem, in die rivier te spring en die oorkantste oewer te bereik. Hulle moenie wees soos die ou bulle wat teen verandering gekant is en agterbly waar leeus hulle kan opvreet nie.

Natuur
Die tweede sessie op Dinsdag 17 Mei het as tema gehad “Die na­tuur maak saak: die verantwoordelike gebruik van chemikalieë”.

Deelnemers was dr Klaus Eckstein (hoof- uitvoerende beampte van Bayer Suidelike-Afrika), Kobus Meintjes (president van CropLife SA), Egon Zunckel (Zunckel Boerdery) en Jaco Minnaar (produsent en voormalige SA Graan-voorsitter).

Die kern van hierdie gesprek het gehandel oor die fyn balans wat nodig is tussen die verantwoordelike gebruik van chemikalieë, die produsent se winsgrens en die volhoubare produksie van gesonde voedsel. Hier het dr Eckstein gesê: “Ons moet altyd onthou dat ons nie vir ’n dag boer nie, maar eerder in toekomstige generasies moet belê.”

Deelnemers aan die forum was dit eens dat die gebruik van chemikalieë in die landbou ’n gesprekspunt moet bly ter wille van volhoubare en verantwoordelike voedselproduksie in die land.

Francois Strydom (hoof- uitvoerende beampte van die Senwes-groep en beskermheer van die Nasie in Gesprek-forum) tydens die laaste sessie op Vrydag (20 April).

Infrastruktuur
Die onderwerp van die derde gespreksforum was “Beter toegang: infrastruktuur en logistiek”. Hierdie gesprek is deur Vorster gelei en het Misumzi Xata (streeksbedryfsbestuurder: PPECB, Oos-Kaap), dr Pieter Taljaard, dr André van der Vyver (uitvoerende direkteur: SACOTA) en Jan-Louis Spoelstra (Flying Swans) as deelnemers gehad.

Die slotsom hier was dat ten einde vorentoe te beweeg, dit van kardinale belang is om in private-openbare vennootskappe te belê en ’n balans tussen kort- en langtermynbehoeftes te vind.

Plattelandse gemeenskappe
“Kom ons maak reg: die herlewing van plattelandse gemeenskappe” was die onder­werp van die tweede sessie op Woensdag 18 Mei. Barend la Grange (hoof- uitvoerende beampte van die Privilege-stigting), Lennox Plaatjies (direkteur van Bambisane Boerdery en raadslid van PALS), Chris Burgess (hoofredakteur van Landbouweekblad) en Theo Boshoff (hoof- uitvoerende beampte van Agbiz) het aan die gesprek deelgeneem.

Uit die gesprekvoering het dit geblyk dat samewerking tussen landbougemeenskappe en individue, vennootskappe en oop kommunikasiekanale belangrik is. Die lede van die paneel het saamgestem dat ’n vertrouensverhouding nodig is om doeltreffend te herskep.

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die neem van eie­naarskap en die beskikbaarstelling van mense nie beteken dat plaaslike regeringstrukture omseil moet word nie.

Lewende hawe
Die eerste sessie op Donderdag 19 Mei het oor die “Diversifikasie en integrasie van lewende hawe” gehandel.

Vorster het die gesprek gefasiliteer en deelnemers was Dewald Olivier (SA Feedlot), dr Faffa Malan (virtuele veearts van Landbou.com), Gerrit van Zyl (Hanzyl Bonsmaras) en Cobus van Coller (voormalige voorsitter van Graan SA se NAMPO-komitee en produsent).

Dr Malan het gemeen elke lewendehaweprodusent moet eienaarskap van die nasionale kudde aanvaar en homself as leier op die gebied van volhoubaarheid beskikbaarstel.

Die paneel was eenparig daaroor dat die volgende stappe in die diversifikasieproses gevolg moet word:

  • Biosekuriteit is nie onderhandelbaar nie.
  • Raadpleeg altyd jou plaaslike veearts en maak seker dat jy weet watter kritieke probleme in jou gebied is.
  • Naspeurbaarheid is ’n prioriteit.
  • Ontwerp ’n jaarlikse strategie en hou daarby.
  • Maak seker jy werk saam met vennote met goeie reputasies.

Data
“Data in landbou: ’n nuwe era” was die gespreksonderwerp in die tweede sessie op 19 Mei. Vorster het weer die gesprek gefasiliteer en deelnemers was Gerhard van der Burgh (BFAP), Estelle Lubbe (The Awareness Company), Alf White (Senwes) en Stehan Cloete (John Deere AME).

Volgens Vorster neem die gemiddelde graanprodusent sowat 40 deurslaggewende besluite wat gedurende ’n seisoen ’n regstreekse impak op sy winsgewendheid het. In die lig hiervan moet data toeganklik wees en doeltreffend tot die besluitnemingsproses kan bydra.

Die paneellede was dit eens dat Suid-Afrika nog onderworpe is aan groot verdeeldheid oor data. Volgens Lubbe is ’n uiters groot onontginde segment van data in landbou die verlore data van die verlede. Dié onontginde data is volgens Van der Burgh nie slegs ’n datagaping nie, maar eerder ’n ruimte so groot soos die Grand Canyon. Hy meen voorts dat dit tyd sal neem om data van die grond af tot in die argitektuur op te bou – iets wat ’n reusegeleentheid vir die sektor bied.

Henk Boonzaaier, Werner Kruger, Elbé van der Walt en Kara Muller-van Schalkwyk (gr. 11-leerders van Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp) het die Nasie in Gesprek-sessie oor “Die toekoms van landbou: ’n nuwe generasie” bygewoon.

Toekoms
Die gesprekke is op Vrydag 20 Mei met die onderwerp, “Die toekoms van landbou: ’n nuwe generasie”, afgesluit. Wandile Sihlobo, hoof­ekonoom van Agbiz, het gefasiliteer en die deelnemers was Sinelwe Fakade (besturende direkteur van Rocky Park-landbou­groep en stigter van Ukhanyo Farmer Development ), dr Johnny van der Merwe (besturende direkteur van AMT), dr Tracy Davids (be­stuurder: Kommoditeitsmarkte en Insigte by BFAP), Karidas Tshintsholo en Jeremia Mathebula (visevoorsitter van Graan SA). Verskeie skoolgroepe het hierdie sessie bygewoon.

Hierdie groep paneellede het saamgestem dat jongmense wat die landbousektor betree hulself so moet posisioneer dat hulle ondersteuning sal kry, wat beteken dat hulle ’n balans moet skep tussen teoretiese kennis en praktiese ervaring.

Hul raad aan jongmense wat hierdie sektor wil betree, was die volgende:

  • Vind ’n mentor wat jou meer oor die bedryf kan leer.
  • Ontwikkel ondersteuningsnetwerke en vennootskappe wat waarde sal toevoeg tot dit waarvoor jy jou beywer.
  • Skakel met gevestigde rolspelers in die bedryf.
  • Kry praktiese ervaring.
  • Bekom toepaslike en intydse inligting.
  • Moenie bang wees vir mislukking nie.

Lees ook Theo Vorster se indrukke oor Nasie in Gesprek by https://sagrainmag.co.za/2022/07/01/samewerking-sterk-beklemtoon-tydens-nampo-gesprekke/.