Nuut aan die stuur by SAGIS

Mariana Purnell, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 3 Mei 2022

741

Ons lewe in ’n wêreld van verandering. In die landbousektor en meer spesifiek die graanbedryf, was daar onlangs heelwat omwentelinge, met prominente rolspelers soos Jannie de Villiers en John Purchase wat uit- of afgetree het, talle individue wat weens COVID-19 nie meer met ons is nie en dan ook die onverwagse emigrasie van Leon du Plessis. Laasgenoemde was jare lank ’n steunpilaar vir die graanbedryf met sy administratiewe dienste vir die onderskeie trusts en hul stuurkomitees.

By die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) was daar ook talle veranderings. SAGIS het onlangs ’n nuwe trust, genaamd die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust (South African Winter Cereal Industry Trust – SAWCIT) as lid verwelkom. Na die bedanking van die Winter Cereal Trust as SAGIS-lid, is SAWCIT deur die bedryf gestig. Hierdie trust vorder ’n vrywillige heffing in om inligtings- en navorsingsprojekte namens die wintergraanbedryf te finansier en is vanaf 1 Maart 2022 ’n gewone lid van SAGIS.

Bernard Schultz

Dit was egter nie al verandering by SAGIS nie. Bernard Schultz het op 1 Maart 2022 die leisels as hoofbestuurder by Nico Hawkins oorgeneem. Schultz het agt jaar ondervinding by die diens en was voorheen die hoof van die Inligtingsafdeling.

“Mnr Schultz sal deur ’n uitstekende span ondersteun word om voort te gaan om die nodige dienste te lewer met betrekking tot die versameling, verwerking, ontleding en tydige verspreiding van betroubare en bruikbare markinligting van graan en oliesade aan alle rolspelers,” sê dr Erhard Briedenhann, voorsitter van SAGIS.

Suid-Afrika en spesifiek SAGIS, is al dikwels deur die International Grains Council (IGC) aangeprys as die beste verskaffer van betroubare, tydige agronomiese inligting oor graanproduksie.

Die Inligtingsafdeling van SAGIS is verantwoordelik vir die byhou van inligting oor die beweging van die verskillende grane en oliesade in Suid-Afrika tussen die rolspe­lers soos produsente, graanopbergers, verwerkers en vervaardigers van graanprodukte, eindgebruikers van graan asook in- en uitvoerders van graan. Die afdeling verkry ook graanverwante inligting van eksterne bronne.

Schultz het sedert 2016 in sy vorige posi­sie toesig gehou oor alle sagteware-ontwikkelings­projekte vir SAGIS. Die hooffokus van hierdie projekte was verenigbaarheid vir suksesvolle gebruik binne SAGIS om betroubare en nuttige markinligting vir die graan- en oliesadewaardeketting te verskaf.

As deel van die voortdurende strewe na kwaliteitdata, het hy diepgaande kennis en begrip van elke program se funksie en moontlikhede opgedoen. As hoof van die Inligtingsafdeling het Schultz gefokus op interne ontwikkeling met PHP en data-onttrekking uit die SQL-databasis om addisionele verslae vir die verskillende departemente in SAGIS te verskaf en verskeie funksies te ou­tomatiseer.

As hoofbestuurder wil Schultz in die toekoms graag meer doeltreffende tydsgebruik en die volgehoue kwaliteit van data wat deur SAGIS gepubliseer word, verseker – en selfs verder verbeter. Waardetoevoeging is vir hom belangrik. Hy sien hierdie geleentheid as ’n perfekte pasmaat vir sy unieke vaardighede en rykdom van ervaring. Die bou van vertroue in die orga­nisasie sal ’n groot fokus wees. Vertroulikheid is ook die sleutel om die integriteit en mandaat van SAGIS te handhaaf.

Schultz bied SAGIS-data op verskeie bedryfsforums aan en is betrokke by die Nasionale Landboubemarkingsraad (NAMC) se vraag-en-aanbod-komitee wat verantwoordelik is vir Suid-Afrika se amptelike vraag-en-aanbod-projeksies.

Meer onlangs was hy deel van die leierskap in die landbou­sektor se konneksie-ekonomieprogram wat gedurende 2021 voltooi is. Hy het ’n onderskeiding vir hierdie program verwerf en waardevolle ondervinding en verhoudings met verskeie deelnemers in die landbousektor opgedoen, wat produsente, telers, meulenaars, handelaars en batebestuurbeleggers ingesluit het.

Nadat Schultz aan die Hoërskool Hartbeespoort gematrikuleer het, het hy ’n BCom-graad in finansiële bestuur aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf. Met verdere opleiding in rekenaarprogrammering en gepaardgaande vaardighede, het hy sy data-agtergrond met sy programmeringsvermoëns gekombineer.

Schultz het wye ervaring in die privaat sektor opgedoen. Hy was aanvanklik by ’n ouditeursfirma werksaam en het later sy vaardighede in finansies, bestuur en IT-dienste by ’n koeriermaatskappy geslyp. Voordat hy by SAGIS aange­sluit het, het Schultz ’n bestuurspos in ’n staalprodukvervaardigingsmaatskappy beklee met verantwoordelikhede in finansies, gesondheid en veiligheid, opleiding, logistiek, IT­dienste en produksiebestuur.

Nico Hawkins, die vorige posbekleër, het einde Februarie 2022 afgetree na ’n lang en roemryke loopbaan. Hy was sedert April 2012 aan die stuur van SAGIS.

Neo Masango, ’n inligtingskontroleur wat al 15 jaar in diens van SAGIS is, is as die nuwe hoof van die Inligtingsafdeling aangestel en lei die span van drie kontroleurs en vyftien inligtingverwerkers vanaf 1 Maart 2022.

SAGIS word finansieel ondersteun deur die Mielietrust, die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust, die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust en die Sorghumtrust. Lees meer oor die aktiwiteite van SAGIS by www.sagis.org.za.