Heffing gee stukrag om lede se saak uit te dra

SA Graan/Grain redaksie
Gepubliseer: 8 April 2022

852

Richard Krige, visevoorsitter van Graan SA, het tydens Kongres sy dank uitgespreek teenoor Graan SA-lede vir hul getroue bydrae tot die organisasie. Die heffings in Tabel 1 toon die nuwe heffingsbedrag per kommoditeit soos vanaf 1 Maart vanjaar wat by Kongres goedgekeur is.

Die heffing sal met 10% per jaar verhoog word om stelselmatig tot by 0,12% van die onderskeie kommo­diteite se waardes oor die volgende paar jaar uit te kom, het hy verduidelik.

Tydens haar finansiële verslag het Christa Herbst, hoof: Finansies & Korporatiewe Dienste by Graan SA, terugvoer gegee oor die impak van die spesiale hef­fing wat verlede jaar deur Kongres goedgekeur is om die verliese weens COVID-19 teen te werk.

Die verwagting was dat Graan SA weer soos die vorige jaar ’n verlies van R17 miljoen of selfs meer sou toon weens die pandemie en die feit dat die NAMPO Oesdag nie aangebied kon word nie. As gevolg van die spesiale heffing en die surplus vanaf die Heffingsfonds, is die verlies egter tot R5,4 miljoen beperk.

Richard Krige, ook voorsitter van die Bemarkingswerkgroep, spreek Kongres toe oor bedryfsheffingsake.

Tydens ’n video-opname wat by Kongres vertoon is, het verskeie rolspelers gesels oor die waarde van die heffing. Jozeph du Plessis, produsent en hoofbestuurslid van Graan SA, het gesê dit is belangrik om ’n sterk produsente-organisasie buite die plaashek te hê wat sy belange hanteer en wat die omstandighede in die graanwaardeketting vir produsente gunstiger maak deur onderhandelinge.

Hy het sojabone as voorbeeld gebruik: “In 2008 was daar net plek vir 300 000 ton sojabone in Suid-Afrika en vandag het ons die geleentheid om 1,8 miljoen ton sojabone te produseer. Graan SA het ’n instrumentele en leidende rol gespeel om saam met vennote die mark te ontwikkel en vergroot.”

Kallie Schoeman, eienaar van Schoeman-boerdery en hoofbestuurslid van Graan SA, het gesê hy wil soveel as moontlik tyd spandeer aan sy besigheid en daarom is hy ’n lid van die produ­sente-organisasie. “Graan SA is my agent wat namens my onderhandel – daar is soveel nuwe wette en regulasies waarvoor daar insette gelewer moet word. Hulle is daar op die belangrike platforms en rondom die tafels waar ek nie kan wees nie. Die gesegde wat lui ‘die wat nie aan tafel is nie, is op die spyskaart’, is baie waar in vandag se landbou-omgewing.”

Christa Herbst, hoof: Finansies & Korporatiewe Dienste, Graan SA.

Aspekte soos die omdraaistrategie vir wintergraan, die onlangse rekordkanola-oes en nuwe geleenthede vir garsverbouing, is van die mylpale waarin Graan SA in die wintergraanstreek ’n groot rol gespeel het, het Graan SA-voorsitter, Derek Mathews, in die voorlegging verduidelik.

Hy het verder die insette wat die organisasie gelewer het in die graderingshersiening, die jaarlikse kunsmismoniteringprojek, die af­wering van die Leaf Services-heffing wat deur die regering beoog is asook die dieselrabat wat danksy Graan SA se insette daar­gestel en in stand gehou word, as belangrike sake genoem wat vir lede ’n rendement van 2 142% op hul heffingsbydrae beteken.

Kyk gerus na die video oor die waarde van die Graan SA-heffing vir lede op die organi­sasie se YouTube-kanaal of klik op die QR-kode.