Wes-Kaapse prysopnames wys groot verskille uit

Gepubliseer: 23 Februarie 2022

803
Heleen Viljoen,
intern: Toegepaste Ekonomie, Graan SA

Enige graanwaardeketting se eerste skakel is landbou-insette. In ’n tyd waar produ­sente geweldige prysdruk ervaar, is dit deur­slaggewend om seker te maak dat die regte pryse vir insette betaal word.

Die 2021/2022-wintergraanproduksieseisoen het afgeskop met ’n positiewe vooruitsig wat graanpryse betref. Tog kan stygende insetpryse produsente se marges onder druk plaas. Marges word veral bedreig deur skerp stygings in kunsmis- en landbouchemiese pryse asook brandstof en arbeidskoste. In die huidige klimaat waar krimpende marges ’n realiteit is, is dit belangrik om waaksaam te wees oor die pryse wat betaal word vir produksie-insette.

Graan SA moniteer deurlopend plaaslike sowel as internasionale insetpryse met die doel om deursigtigheid in die mark te bring. Ten einde hierdie doel te bereik, het Graan SA ’n insetprysstudie gedoen om die deursigtigheid van insetpryse te verbeter. Dié projek het afgeskop tydens die planttyd van wintergrane in die Wes-Kaap. Die doel van die projek is nie noodwendig om ’n produsent met sy buurman te vergelyk nie, maar eerder om hom in staat te stel om homself met die gemiddeld van sy streek te vergelyk.

Kunsmisprysoorsig vir 2021/2022-produksieseisoen
Die huidige kunsmismark beleef besonder hoë prysvlakke. Hierdie hoë pryse kan onder meer toegeskryf word aan kuberaanvalle by die Durbanse hawe; verhoogde energiekoste asook ’n lae aanbod van internasionale grondstowwe. Die algemene plaaslike prys vir ureum en MAP het as gevolg hiervan sterk opwaartse neigings getoon. Met die algemene prysstyging van kunsmis moet produsente veral op hul hoede wees om nie nog verder uitgebuit te word nie. Grafiek 1 toon die pryse wat produsente uit verskillende streke vir ureum en MAP betaal het vanaf Februarie 2021 tot en met Julie 2021.

Grafiek 1: Prys (R/ton) betaal vir MAP en ureum deur produsente vir spesifieke streke.
Bron: Graan SA

Kunsmis maak die grootste deel van insetkoste uit vir enige gegewe produksieseisoen. Dit is dus een van die belangrikste insette om te monitor om sodoende kompeterend te produseer. As die fokus op MAP-pryse in die winterstreek geplaas word, word die gemiddeld in Grafiek 1 bereken as R7 772,64/ton. Produsente van Piketberg betaal dus tot 26% hoër as die gemiddeld vir dieselfde produk. Die gemiddelde prys van ureum word bereken op R6 120,89/ton, met ’n verskil van 36% tussen die hoogste en laagste prys.

Chemikalieë­prysoorsig
Gedurende die afgelope paar maande het die gemiddelde prys vir landbouchemiese produkte skerp gestyg. Die stygings kan toegeskryf word aan aanbodtekorte in die markvir swam- en onkruiddoders; vervoervertragings asook ’n aansienlike styging in veral glifosaatpryse. Met die algemene stygings in insetpryse, veral kunsmis en landbouchemikalieë, is dit belangrik vir produsente om seker te maak dat hulle die regte prys vir kwaliteitprodukte betaal.

Grafiek 2 plaas die landbouchemiese produk, Triflurex 480 EC, se prys in konteks vir die winterreënvalstreek. Die gemiddelde prys wat produsente vanaf Piketberg tot en met Napier betaal het, is R88,30/ℓ. Hierdie gemiddelde prys plaas produ­sente in Riviersonderend en Moorreesburg in ’n kompeterende posisie. Produsente van Riviersonderend betaal 15% minder as die ander produsente in omliggende areas, wat beteken dat hulle tot R23,54/ha spaar.

Grafiek 2: Triflurex 480 EC (R/ℓ) in konteks vir die winterstreek.

Wanneer die onkruiddoder Sakura egter in die kollig geplaas word, kan gesien word dat produsente in Moorreesburg en Porterville aansienlik meer as die gemiddeld betaal (Grafiek 3). Die gemiddelde prys (R/kg) word bereken om R5 208,10/kg te wees. Dit beteken dat die produsente in Moorreesburg R114,74/ha (14%) meer as die gemiddeld betaal en R155,00/ha (21%) meer betaal as die produsente in Malmesbury wat slegs 40 km weg is.

Grafiek 3: Sakura (R/kg) in konteks vir die winterstreek.

Groot verskille word ook waargeneem tussen produsente in dieselfde streek. Die hoogste betaler in Porterville betaal byvoorbeeld R139,50/ha (19%) meer as ’n ander produsent wat ook in Porterville is.

Grafiek 4 vergelyk drie ander landbouchemiese produkpryse. Die pryse is verkry vanaf deelnemers aan die studie in die 2021/2022-produksieseisoen. As die fokus op Select 120 EC geplaas word, word waargeneem dat die produsent wat die duurste betaal het, 24% meer as die gemiddelde prys betaal het. Dit kos die produsent dus R66,42/ha meer.

Grafiek 4: Oorsig vir landbouchemiese produkte.
Bron: Graan SA

Saadprysoorsig
Saad word gesien as die katalisator vir enige winsgewende produksieseisoen. Graan SA poog deurlopend om deursigtigheid in die saadmark te bring. Vir die winterreënvalstreek se produksieseisoen het die Graan SA-insetprysstudie gefokus op saadpryse vir koring, kanola en moutgars.

Grafiek 5 bied ’n grafiese oorsig van die saadpryse vir die 2021/2022-produksieseisoen. Hier word die grootste verskille waargeneem by die pryse vir kanola­saad. Die hoogste prys wat betaal is vir ’n sak van 1 kg PHI 44Y90CL-kanola­saad, was R414,80/kg. Dié produsent betaal 16,5% meer as die gemiddelde prys van R375,90/kg vir PHI 44Y90CL.

Grafiek 5: Prys (R/kg) vir winterstreeksaad.
Bron: Graan SA

Die groot verskille wat waargeneem is tussen die landbouchemiese produkte, Triflurex 480 EC en Sakura, bevestig die be­langrikheid daarvan om waaksaam te wees oor die pryse wat vir insette betaal word. Deur die regte pryse vir insette te betaal, kan die verskil tussen wins en verlies beteken en bydra tot langtermynvolhoubaarheid.

Hierdie inligting kan ook gebruik word om individuele vergelykings vir ’n produsent teenoor sy streek te doen. Die insetprysver­gelykingsopname vir 2022/2023 skop op 1 April af. Produsente wat wil deelneem of meer inligting verlang, kan vir Heleen Viljoen by heleen@grainsa.co.za of Corné Louw by corne@grainsa.co.za kontak.