Uiteindelik ontmoet ons weer van aangesig tot aangesig

Gepubliseer: 23 Februarie 2022

564
Alzena Gomes, skakelbeampte, Graan SA alzena@grainsa.co.za

Dit is eers as ’n mens by die eerste Graan SA-streeksvergadering arriveer en produsente weer met ’n glimlag kan verwelkom dat ’n mens besef hóé groot die gemis aan fisiese vergaderings die afgelope ruk was.

Die eerste streeksvergadering het vroeg op 13 Januarie 2022 in Nylstroom plaasgevind. Teen spertyd is 21 vergaderings reeds afgehandel, met nog ’n paar in die pyplyn. Bywoningsyfers in die meeste streke het goed gegroei vergeleke met vorige jare en die samekoms het aan produsente die ideale geleentheid gebied om die nuwe uitvoerende hoofbestuurder, dr Pieter Taljaard, te ontmoet.

Dié jaar se streeksvergaderings het gefokus op die suksesse wat behaal is betreffende die mieliegradering sowel as die Leaf-dienste. Die alternatiewe differensiaal, die JSE se fisiese leweringskontrakte, inspeksies en fisiese voorrade is ook bespreek. Produsente het insae in die nuwe sojaboontegnologie, ’n oorsig oor die navorsingskonsortia en ’n volledige verslag oor insetprysmonitering ontvang. Laastens is belangrike kwessies van die afgelope jaar beklemtoon, wat onder meer die graanpaspoortsisteem, die sojaboonuitvoerprotokol, onderhandeling van die nuwe dieselrabat, lugtoediening van glifosaat asook saadkieming- en bestuiwingsprobleme ingesluit het. Elke streek se kommunikasiestrategie is bekendgestel en die heffings­vorderings per streek is uitgelig.

Kommer is uitgespreek oor die hoë insetkoste en verdere verhogings wat in die vooruitsig is. Verder is produsente wat sukkel met dieselrabat-terugbetalings herinner om met Graan SA se hoof: Toegepaste Ekonomie & Lededienste, Corné Louw, te skakel. Streke het individuele terugvoer ontvang oor die huidige stand van bedryfsheffings gevorder tot op datum en Graan SA het elke lid vir hul bydrae bedank.

Wes-Kaap praat prontuit
Drie streeksvergaderings is in die Kaap gehou, met baie goeie bywo­ning. In sy opening het voorsitter Derek Mathews produsente versoek om interaktief deel te neem – en sonder lang voorleggings kon lede se hoogtepunte en bekommernisse deel van die gesprek vorm. Dr Taljaard het die landbou­meesterplan sowel as die grondhervormingskwessie aangeraak – hier ook was die aansienlike styging in insetkoste hoog op die agenda.

Jose de Kock, Graan SA-hoofbe­stuurslid van streek 27, het saam met AB InBev die garsbedryf se kwelpunte uitgelig. Gars vorm ’n groot deel van saaiboerderystelsels in die Kaap en beleef tans ’n slegte tyd. Aandag sal dringend aan die bou van verhoudings tussen produsente, opbergers, aanko­pers en AB InBev as verwerker gegee moet word.

Johan Strauss van die Universiteit van die Vrystaat het sy model vir die vervoerdifferensiaal op sojabone bekendgestel en ’n verduideliking van implemente­ring in die koringbedryf aangebied. Positiewe kommentaar op die model is van lede ontvang met die uitgesproke hoop vir spoedige implementering, aangesien die differensiaal nog altyd ’n uitdaging vir Kaapse produsente is en sal bly. Graan SA bedank graag alle borge van hierdie streekvergaderings vir hul betrokkenheid en bydrae om van die geleenthede ’n sukses te maak.

Tydens die streeksvergadering in Lichtenburg.
Visevoorsitter van Graan SA, Richard Krige, gesels met lede in Bultfontein.

Die streeksvergaderings in die Wes-Kaap is by Riversdal, Moorreesburg en Rietpoel gehou.