Vrede se dansakademie

Gepubliseer: 22 Februarie 2022

961

Beste Neef

Buurman laat weet die ander dag dat hy wil gesels. By die hoekpaal gekom, was Buurman al daar en het hy met sy pyp na die westekant beduie waar donker wolke met ’n veraf gedreun saamgepak het.

Hy vra toe of ek weet van Vrede se dansakademie. Synde in ’n heel ander provinsie, het ek nog nooit daarvan gehoor nie. Maar Buurman steur hom nie veel aan ’n antwoord nie en begin toe met groot smaak vertel van sy neef wat by ’n vrind op Vrede gaan kuier het.

Laat die middag het Neef se vrind die bakkie reggetrek en die 243 uit die kluis gaan haal. Die gedagte was om te kyk of jakkals se kind nie vroegaand losloop nie, sodat hulle die ongedierte met die 243 kon bles. Met die groetslag het Neef se vrind sy goeie gade laat weet dat hulle net nou terug sou wees.

Na ’n paar draaie met geen jakkals in sig nie, druk die vrind toe die bakkie se neus in die rigting van Vrede. En toe Buurman se neef sy oë uitvee, hou hulle voor Vrede se dansakademie stil.

Buurman vertel van sy neef wat inkennig met sober gewoontes was. Stil en op sy plek. Diaken en alles. Maar na die aand by die dansakademie het alles verander. Die neef luister nou selfs Radio 5!

Oor wat alles die aand by die dansakademie gebeur het, wou Buurman se neef nie veel vertel nie. Wat hy wel uit hom kon trek, was dat danksy die hulp van al die vriendelike akademiemeisies, Buurman se neef gou reggekom het en verskeie danspassies leer ken het. Foxtrot, two-step, tango, bokjol, briekdans, leeuloop, volkspele, sokkie – alles het die meisies hom in net een aand geleer.

Nodeloos om te sê, toe die twee laatnag sonder ’n jakkals tuis kom, het Neef se vrind se vrou lankal gaan slaap – en ’n koue skaapboud en groente op die tafel gelos.

Buurman se neef het homself die volgende oggend douvoordag uit die voete gemaak, sonder dat ’n vloerplank gekraak het. Want hy het, soos met die donderweer in die weste, ’n paar blitse uit sy vrind se slaapkamer hoor slaan. Dié se vrou wou weet watter soort jakkals lipstick op ’n kakiehemp los en of hy raak of mis geskiet het. En wie Doris is wie se kaartjie vir danslesse in dieselfde kakiehemp se sak was.

Twee weke later het die vrind laat weet dat hy steeds elke aand buffet kry – met ’n koue boud en ’n warm tong. En dat hy die 243 verkoop het.

Buurman vat ’n diep trek aan sy pyp en vertel verder. Vrede se dansakademie het hope ontevredenheid tot gevolg gehad. Maar hy praat nie uit nie – wat in Vrede gebeur, bly in Vrede.

Ou Neef, Desember was aanvanklik ’n maand vol belofte met goeie en vroeë reëns wat wyd geval het. In baie distrikte was die aanplantings voor Kersfees afgehandel. Maar die belofte van ’n droomseisoen het na Nuwejaar in baie gebiede in ’n nagmerrie van vloedwater veran­der, wat landerye tot ’n geel pappery verswelg het. Baie grondpaaie het na die vloedreën in rivierlope verander, wat die gruis met bogrond weggevoer het en dongas en slote agtergelaat het.

Met paaie se instandhoudingsgeld wat oral heen herverdeel is, is die kanse skraal dat hierdie paaie ooit herstel sal word. Die groter prentjie se vraag is egter hoe die oeste by die meulenaars sal uitkom indien paaie só agteruitgaan dat selfs die grootste vragmotor nie meer kos na die stede sal kan aanry nie.

Groete en loop lig vir jakkalse!

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.