Rekordoes weer plaaslik verwag

Gepubliseer: 9 Februarie 2022

757

Luan van der Walt,
landbou-ekonoom, Graan SA, luan@grainsa.co.za
Christiaan Vercueil,
intern: Toegepaste Ekonomie,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

18/01/2022

Die internasionale mark vir groente- en plantaardige olies het die afgelope jaar goeie ondersteuning gevind en het meestal sterker verhandel. Dit was ook die geval vir die internasionale kanolamark waar ongunstige produk­sietoestande gelei het tot laer beskikbare voorraad.

Internasionale marktendense
Produksie in Kanada, wat een van die grootste produseerders, verwerkers en uitvoerders van kanola is, is veral swaar getref deur die ongunstige produk­sietoestande. Tesame met die laer produksie in Kanada, was die beginvoorraad vir die seisoen ook op rekordlaagtepunte. Tabel 1 toon die wêreldvraag en -aanbod van kanola sedert die 2018/2019-seisoen. Die beginvoorraad vir die 2021/2022-seisoen is ongeveer 24% laer as die vorige seisoen se beginvoorraad, terwyl die geskatte produksie vir die seisoen ongeveer 5,5% laer as die vorige seisoen se produksie is.

Die laer wêreldvoorraad demp die verwerking en die verwagting is dat internasionale kanolaverwerking ongeveer 6% laer behoort te wees gedurende die 2021/2022-seisoen. Ten spyte van die laer verwerking, is die verwagting dat die wêreldeind­voorraad aan die einde van die 2021/2022-seisoen sal daal tot 4,9 miljoen ton (7,6% van die wêreldverbruik). Hierdie uiters lae voorraadvlakke hou die internasionale kanolamark sterk. Die laer verwerking van kanola het ook ’n impak op die beskikbare kanola-olie en -meel en dit ondersteun hierdie pryse verder. Kanola-olie speel ’n belangrike rol in die groter oliesaadkompleks en die tekorte aan dié olie het nie net die kanolamark sterk gehou nie, maar het ook bygedra tot die ondersteuning van die ander oliesaadmarkte soos byvoorbeeld sojabone en sonneblomsaad.

Plaaslike kanolamark
Grafiek 1 toon die oppervlakte aangeplant, produksie asook die gemiddelde opbrengs per seisoen behaal vanaf die 1998/1999-seisoen. Dit kan duidelik uit die grafiek gesien word dat die oppervlakte wat aangeplant word goeie groei getoon het oor hierdie tydperk. Waar dit in die beginstadium vanuit beskikbare inligting ongeveer 20 000 ha was, het dit toegeneem tot en met ongeveer 83 000 ha gemiddeld oor die afgelope drie jaar. Daar was wel gedurende die 2017/2018- en 2020/2021-seisoen ’n effense afname in die oppervlakte wat aangeplant is. Gedurende hierdie tydperk was daar jare wat die Wes-Kaap, waar die meeste kanola geproduseer word, uiters moeilike produksieseisoene beleef het, wat bygedra het tot die laer oppervlakte wat aangeplant is. Die gemiddelde kanola-opbrengs wat die afgelope twee jaar gerapporteer is, was aansienlik beter as die gemiddeld van die vorige paar seisoene. Dié hoër opbrengste het bygedra tot die rekord- binne­landse produksie wat die laaste twee seisoene gerealiseer het.

Grafiek 1: Kanola-oppervlakte, -produksie en -opbrengs in Suid-Afrika.
Bron: Nasionale Oesskattingskomitee (NOK)
*NOK-skatting

Grafiek 2 is ’n grafiese voorstelling van die plaaslike vraag-en-aanbodsituasie van kanola sedert die 2000/2001- tot en met die 2021/2022-seisoen. Die grafiek toon dat plaaslike produksie oor die algemeen genoeg is om in die vraag te voorsien. Dit is duidelik dat die plaaslike produksie en verbruik oor tyd baie naby aan mekaar was, wat beteken dat Suid-Afrika genoeg kanola produseer vir plaaslike verbruik. Gedurende die 2016/2017-seisoen het binnelandse verbruik die produksie oorskry en moes kanola ingevoer word om die plaaslike behoefte te bevredig. Dit was die eerste noemenswaardige invoere van kanola sedert die ontstaan van die vrye mark (beskikbare voorraad in die grafiek sluit invoere in).

Grafiek 2: Binnelandse kanolaproduksie, beskikbare voorraad, verbruik en voorraad-tot-verbruiksverhouding.
Bron: SAGIS
*skatting

Oor die algemeen is Suid-Afrika redelik selfvoorsienend wat betref kanola­produksie en kanola word uiters selde ingevoer. Die afgelope twee seisoene (2020/2021 en 2021/2022) het die plaaslike produksie jaar op jaar nuwe rekord­vlakke bereik. Die produksie het plaaslike verbruik noemenswaardig oorskry, wat gelei het tot ’n surplus van kanola in die binnelandse mark. Daar is gedurende die 2020/2021-seisoen ongeveer 30 000 ton se kanola uitgevoer, wat ook die eerste noemenswaardige uitvoere sedert die ontstaan van die vrye mark is. Volgens die huidige projeksie vir die 2021/2022-seisoen behoort daar weer ’n noemenswaardige surplus van kanola te wees. Dit is hoofsaaklik weens die geskatte rekordproduksie van 190 000 ton vir die seisoen. Die voorraad-tot-verbruiksverhouding kan aan die einde van die 2021/2022-seisoen tot 63% toeneem indien daar nie addisionele binnelandse verwerking of enige uitvoere plaasvind nie.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.