Kanolasaad vir 2022: Beskikbaarheid kan pla

Gepubliseer: 9 Februarie 2022

992

Corné Louw
hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste,
Graan SA, corne@grainsa.co.za
Ikageng Maluleke
landbou-ekonoom, Graan SA, ikageng@grainsa.co.za

As produksie-inset maak saad ongeveer 15% van ’n kanolaprodusent se lopendeproduksiekoste-rekening uit. Al Suid-Afrika se behoeftes aan kanolasaad word ingevoer vanaf Australië, Europa of Kanada – en hierdie seisoen selfs van Argentinië.

Beskikbaarheid van saad
Daar is altesaam tien kultivars kommersieel beskikbaar vir kanolaprodusente om uit te kies, met drie nuwe kultivars wat vrygestel is.

Geen kanolasaad word plaaslik vermeerder nie. Saadmaatskappye meen die plaaslike mark is te klein daarvoor en dat die vermeerdering van bastersaad, wat die grootste persentasie van die mark beslaan, te duur is. Volgens hulle is die isolasievereistes van sulke vermeerderings ook van so ’n aard dat dit vir Suid-Afrika se relatief klein area nie prakties moontlik is nie.

Dit is iets wat Graan SA hierdie jaar weer met saadmaatskappye wil opneem, omdat hektare groei en beskikbaarheid ’n uitdaging bly.

Omdat 100% van Suid-Afrika se kanolasaadbehoeftes ingevoer word, maak dit die voorsiening van genoeg saad ’n kuns. Dit maak dit moeilik vir plaaslike saadmaatskappye: Word daar te veel saad ingevoer, moet hulle die voorraad dra. Die kans bestaan dan dat hulle dit sal moet ver­nietig, omdat die kieming van kanolasaad ’n pro­bleem raak hoe ouer dit word.

Graan SA het met al die saadmaatskappye gesprekke gevoer om voldoende saad van die regte kultivars vir 2022 te help verseker. Die 2021-kanolaseisoen het alle vorige rekords oortref.

Vanuit terugvoer ontvang van die verskillende maatskappye, blyk dit dat genoegsame saad van die regte kultivars vir die 2022-seisoen ’n uitdaging gaan wees. Daar was uitdagende produksie-omstandig­hede in verskeie wêrelddele, soos droogte in Kanada en reën tydens oestyd in Australië. Boonop is die logistiek om die saad betyds hier te kry ’n groot uitdaging. Populêre kultivars – veral korter groeiers – kan vroeg uitverkoop.

In 2021 was die verdeling in kanola-aanplantings soos volg: 47% van die oppervlakte was geplant met Clearfield-kultivars; 30% met konvensionele kultivars en 23% met TT-kultivars (sien Grafiek 1).

Grafiek 1: Kanolakultivars per groep volgens 2021-aanplantings.
Bron: SOILL

Saadpryse
Pryse van kanolasaad vir die 2022-seisoen het met 18,7% toegeneem. Tabel 1 toon die saadpryse vir die seisoen aan. Tabel 2 toon aan wat met die rand/Australiese dollar-wisselkoers gebeur het sedert 2019. Jaar op jaar het die rand met 1,2% versterk teenoor die Australiese dollar, wat beteken dat invoere effe goedkoper plaasvind as verlede jaar dieselfde tyd. Die stygende koste van logistiek moet egter in berekening gehou word.

Heelwat maatskappye moes ook besluit om saad in te vlieg wat koste opgejaag het.

Oplossings vir kanolasaadprobleme
Ingevolge die Plantverbeteringswet word saad se kieming en suiwerheid beskerm. Volgens dié wet is die minimum ontkiemingsvereistes vir kanola 60%. Vir gesertifiseerde saad moet die ontkieming ten minste 70% wees, maar die meeste maatskappye waarborg tussen 80% – 90% of 90% – 100%.

Dit is noodsaaklik dat saad by ’n erkende maatskappy met ’n bewese rekord in Suid-Afrika gekoop word – ervaring het dit reeds bewys. Dit is altyd goed om ’n kontrole te hê om na te verwys, probeer dus om nie net een kultivar aan te plant nie.

Wenke as produsente vermoed daar is fout met die saad
Indien enige saadprobleme vermoed of ondervind word, moet die volgende stappe geneem word:

    • Dring by die saadverteenwoordiger aan op ’n ondersoek ter plaatse.
    • Hou rekord van datums en gesprekke.
    • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames.
    • Indien die probleem nie opgelos is nie, moenie te lank wag voordat die volgende stappe oorweeg word nie:
      • Tree in verbinding met ’n onafhanklike wetenskaplike om ’n ondersoek ter plaatse te doen.
      • Lede kan Graan SA in kennis stel indien die nodige aandag nie by die saadmaatskappy verkry word nie.
      • Neem die saak met die Departement van Landbou, Grondhervor­ming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) op indien dit steeds nie opgelos is nie.
      • ’n Handelskontrole-ondersoek sal gedoen word ingevolge die Plantverbeteringswet.

Die DALRRD het ook die volgende wenke
Produsente word aanbeveel om rekord van lotnommers of kodenommers te hou.

Tydens die aankope van saad behoort ’n ontledingsertifikaat van die kwaliteit van die spesifieke saadlot aangevra te word wat uitgereik is deur ’n geregistreerde saadlaboratorium. Hierdie uitslae behoort nie ouer as drie maande te wees nie.

Produsente word verder aangeraai om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is, te bewaar sowel as die faktuur wat uitgereik is.