Van die drukpers tot by die Breederivier

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 4 November 2021

873

Kobus en Hannie Kemp boer sedert 1989 met skaap, bees en gesaaides op Napkysmond, hul familieplaas langs die Breederivier. Hoewel hulle tans afgetree is en die grond verhuur, is hulle steeds baie betrokke by die boerdery. Toe ek skakel, was Hannie besig om vleis te werk, terwyl Kobus op die lande gehelp het met die stroop van kanola.

Volgens Rossouw Swart, wat sedert die begin van die jaar sy pos as hoofbestuurslid van Graan SA se streek 32 opgeneem het, is Hannie ’n ywerige SA Graan/Grain-leser. “Wanneer ons kans kry om gou ’n koffietjie te drink, gesels Hannie graag oor die artikels wat haar daardie maand opgeval het,” vertel hy.

Ten aanhoor hiervan het die SA Graan/Grain-redaksiekomitee vir Rossouw, wat die belange van produsente en Graan SA-lede van Swellendam tot in die Langkloof verteenwoordig, gevra om Hannie te verras met ’n geskenkpakkie wat die nuutste uitgawe insluit.

Hannie vertel dat sy altyd heel eerste na die HUB van Graan SA se hoofartikel blaai. Een van haar gunstelingrubrieke is E-posse aan Grootneef, wat sy vir heel laaste los. “Ek hou daarvan om die tydskrif in die hand te hê en te ontspan terwyl ek lees. Artikels wat op ons van toepassing is, trek altyd eerste my aandag. Dit is natuurlik artikels oor kanola en gars, maar ek hou ook daarvan om meer te wete te kom oor grondbone en mielies,” voeg sy by.

Dit is altyd heerlik om van ons lesers te hoor. Kontak my gerus deur ’n e-pos te stuur na valerie@infoworks.biz.

Ywerige SA Graan/Grain-leser, Hannie Kemp, saam met Rossouw Swart (links) en Toit Wessels, Graan SA se assistentbestuurder: Bemarking en NAMPO. Hulle het haar verras met die nuutste tydskrif en ’n geskenkpakkie.