Glimbakkies om oor te glimlag

Gerrie Smit, lid van die SA Gilde van Motorjoernaliste
Gepubliseer: 4 November 2021

703

Nie te lank gelede nie is bakkies slegs gesien as werk­esels vir produsente en mense in die konstruksiebedryf. Met die koms van die dubbelkajuitweergawes het die prentjie egter verander en die dubbelkajuit het menige produsent se gesinsvoertuig geword.

’n Meer onlangse neiging is dat dubbelkajuit­bakkies ook met luukse sportnutsvoertuie begin meeding. Die Ford Ranger Raptor wat in 2018 in Suid-Afrika bekendgestel is, is ’n goeie voorbeeld. Die Raptor het nie net ’n vuurwarm hoëwerkverrigtingenjin nie, maar ook onafhanklike vering op al vier wiele tesame met al die nodige weelde-items waarmee duur sportnutsvoertuie spog. Ander vervaardigers het ook al hoe meer op hierdie terrein van eks­klusiewe luukse bakkies met uiters hoë spesifikasievlakke begin beweeg. Dink byvoorbeeld aan die Toyota Hilux GR Sport wat in 2019 bekendgestel is en waarvan net 600 eenhede aan Suid-Afrikaners beskikbaar gestel is.

In hierdie artikel kyk SA Graan/Grain na die land se glimbakkies: daardie bakkies wat “glim” van weelde en tegnologie en ’n glimlag op die aanskouer se gesig plaas.

Isuzu Arctic AT 35
Alhoewel die meeste Isuzu-handelaars sekerlik die 3-liter-Isuzu D-Max Dubbelkajuit LX Outomaties aan die voornemende koper sal bekendstel as hulle topbakkie, is die Isuzu Arctic AT 35 inderwaarheid hul geheime glimbakkie. Beide hierdie modelle het Isuzu se 3-literturbodieselenjin met ’n kraglewering van 130 kW teen 3 600 toere en ’n wringkrag van 380 Nm tussen 1 800 tot 2 800 toere. Hierdie enjin word aan ’n outomatiese ratkas met ses gange gekoppel. Hoewel die Arctic AT 35 meganies dieselfde as die luukse 3,0 LX 4×4 is, onderskei verskeie kenmerke hom van die LX. Die Arctic is ontwikkel in samewerking met Arctic Trucks, ’n Yslandse onderneming wat bekend is vir die ombouing van voertuie wat met hoë grondvryhoogte spog en enige terrein kan baasraak.

’n Beperkte aantal van dié model word vervaardig en dit is gemik op diegene wat soek na ’n uitstaande veldrybakkie wat bo die res uitstaan en in die veld én op die pad gebruik kan word.

Groot uitgeboude wielboë maak die Arctic 180 mm breër as sy gewone stalmaats, terwyl sy ryhoogte 48 mm meer is. Die bakkie word met BF Goodrich-bande van 35 duim toegerus, terwyl ’n Fox Performance-veerstelsel en dempers vir verbeterde veldryvermoë sorg.

Die Arctic AT 35 se vernaamste teenstander is die Ford Ranger Raptor. Soos die Arctic is die Raptor ’n meer gespesialiseerde veld­ryer as sy stalmaats. Beide het meer gespesialiseerde veerstelsels as al die ander glimbakkies, wat hulle bobaaspadhouvermoë op ongelyke padoppervlakke bied.

’n Isuzu Arctic kos R906 900.

Ford Ranger Raptors
Die Ford-motormaatskappy van Suider-Afrika (FMCSA) spe­sialiseer in verskillende vlakke van glimbakkies. Die Wildtrak, Stormtrak en Raptor-modelle kan almal as glimbakkies beskou word. Hierdie bakkies word aangedryf deur Ford se kragtige dubbelturbodieselenjin wat 157 kW teen 1 500 toere lewer. Dié enjin word aan ’n outomatiese ratkas met tien gange gekoppel. Die glimbakkie van alle glimbakkies in Suid-Afrika is sekerlik die Raptor.

Toe die Raptor vir die eerste keer in 2019 in Suid-Afrika bekendgestel is, was dit die eerste voertuig in ’n heeltemal nuwe segment in die Suid-Afrikaanse bakkiemark. Dit word beklemtoon deur die ultrasterk onderstel, die unieke veerstelsel en bande asook die Terrain Response Management-stelsel wat die Raptor se veldryvermoë onder selfs die moeilikste omstandighede verbeter.

FMCSA het pas ’n meer spesiale model van die Raptor, bekend as die Ranger Raptor Special Edition, vrygestel.

’n Beperkte aantal Special Editions word vervaardig om eks­klusiwiteit te verseker en verskeie kenmerke onderskei hom van die gewone Raptor. Nuwe, opvallende kentekens en rooi aksente word vir die Special Edition gebruik en ’n geïntegreerde sportstaaf saam met ’n oproldeur vir die agterklap, wat soos ’n garagedeur werk en gesluit kan word, is standaardtoerusting. Laasgenoemde word ook vir die Ranger Thunder gebruik.

Die Special Edition is beskikbaar in wit, grys, blou en swart en word met swart strepe met rooi aksentlyne op die enjinkap, die dak, die onderkant van die bakwerk, die agterklap asook sleephake wat in rooi afgewerk is, toegerus. Die uitgeboude modderskerms, die sierrooster met die Ford-naam, die voorste en agterste stampers en die deurhandvatsels is in swart afgewerk.

Die prys van die Special Edition is R965 300, terwyl die “gewone” Raptor se prys R920 300 is.

Nissan Navara Pro 2-X en Pro 4-X
Die nuwe Nissan Navara is, soos sy voorganger, ’n besonder aantreklike bakkie. Die reeks het twee glimbakkies, naamlik die Pro 2-X en die Pro 4-X, wat onderskeidelik met twee- en vierwielaandrywing toegerus is. Albei is outomatiese modelle wat deur ’n kragtiger weergawe van Nissan se 2,5-literturbodieselenjin aangedryf word. Hierdie enjin lewer 140 kW teen 3 600 toere en het ’n wringkrag van 450 Nm teen 2 000 toere. Die Pro 2-X kos R699 000 en die Pro 4-X R749 000.

Mahindra Pik Up S 11 Karoo
Mahindra se Pik Up-reeks is in 2017 in Suid-Afrika bekendgestel en het só gewild geword dat die maatskappy besluit het om die reeks plaaslik te monteer. Die dubbelkajuitreeks is met drie spesifikasievlakke beskikbaar, naamlik die S6, die S10 en die S11. Die mHawk-enjin wat vir al hierdie modelle beskikbaar is, lewer 103 kW teen 3 750 toere en het ’n wringkrag van 320 Nm tussen 1 500 en 2 800 toere. Die meeste modelle word toegerus met ’n sesganghandratkas, maar ’n outomatiese sesgangratkas is standaardtoerusting vir die S11-model. Al drie spesifikasievlak­ke is met die Karoo-stileringspakket beskikbaar, wat bestaan uit ’n bulstaaf aan die voorkant, spesifieke swart-en-chroom allooiwiele, ’n rolstaaf agter die kajuit, ’n laaibak met rubbervoe­ring en Karoo-kentekens aan die kante. Die S11 Karoo kos R451 999.

Toyota Hilux 2.8 GD6 4X4 Legend RS
Die Toyota Hilux is beslis ’n legende wat al langer as vyftig jaar ’n topverkoper in Suid-Afrika is. Die reeks is verlede jaar weer opgeknap en is pas as die naaswenner in die SA Gilde van Motorjoernaliste (SAGMJ) se Motor van die Jaar-toekenning aangewys. Die glimbakkie in Toyota se Hilux-reeks is die Legend RS, wat in beide handrat- en outomatiese modelle beskikbaar is. Die maksimum kraglewering van die Legend RS se 2,8-literenjin is 150 kW teen 3 400 toere vir die handratweergawe en 150 kW teen 3 000 toere vir die outomatiese weergawe. Die wringkrag­syfers verskil ook: 420 Nm teen 1 400 toere vir die handratmodelle en 500 Nm teen 1 600 toere vir die outomatiese modelle. Die Legend RS 4×4 staan stewig met sy breë 265-60 R 18-bande en die weergawe met die outomatiese ratkas kos R876 800.

Volkswagen Amarok 3,0 V6 Extreme
Volkswagen se eerste toetrede tot die Suid-Afrikaanse bakkiemark was met die Amarok, wat reeds in 2010 bekendgestel is. Die glimbakkie van die Volkswagen Amarok-reeks en die kragtigste bakkie op die plaaslike mark, is die Amarok 3,0 V6 Extreme. Sy 3-literturbo­dieselenjin lewer 190 kW teen 3 000 toere en het ’n wringkrag van 580 Nm teen 1 400 toere. Volkswagen se 4Motion-aandrywingstelsel is standaardtoerusting. Die Extreme word van die ander Amarok-modelle onderskei deur onder meer 20-duimallooiwiele en ’n sportstaaf agter die kajuit. Dié glimbakkie kos R996 000, wat hom ook die duurste op die Suid-Afrikaanse mark maak.