Broodkoring – nuwe kultivars sien die lig

Gepubliseer: 10 Augustus 2021

664
Jolanda Nortjé,
laboratoriumbestuurder, SAGL

Tydens ’n vergadering van die Koringforum se kultivar- en tegniese komitee gehou op 31 Mei 2021, is twee koringteellyne goedge­keur vir finale vrystelling in die besproeiings­areas as die kultivars SST 8217 en SST 8215.

Goedkeuring vir finale vrystelling is ook gegee aan die vyf lyne wat in 2020 voorwaardelik goedgekeur is, aangesien die elektroforetiese suiwer­heidsresultate van die lyne nie beskikbaar was nie vanweë ’n oponthoud in laboratoriumanalises by die Universiteit van die Vrystaat as gevolg van die COVID-19-pandemie. Sien Tabel 1 vir die lyne wat die afgelope drie jaar goedgekeur is vir finale vrystelling in die besproeiingsareas sowel as die suidelike en noordelike droëlandproduksie-areas.

Die kwaliteitsevaluasie, soos uiteengesit in die ont­ledingsprosedure van koringteellyne in Suid-Afrika, strek oor ’n minimum van twee jaar vir lyne bestem vir verbouing in die besproeiingsareas en ’n minimum van drie jaar vir lyne bestem vir die noordelike droëlandareas (somerreënval) en suidelike droëlandareas (winterreënval).

Vir voorlopige vrystelling van ’n besproeiingsteellyn moet ’n jaar se kwaliteitsdata oor minstens vyf lokaliteite aan die kultivar- en tegniese komitee van die Koringforum voorgelê word en vir finale vrystelling ’n minimum van twee jaar se data oor vyf lokaliteite per jaar. Vir droëlandlyne in die noordelike en suidelike produksie-areas word onderskeidelik ’n minimum van twee jaar en drie jaar oor vyf lokaliteite vir voorlopige en finale vrystelling vereis.

Graan SA-fotokompetisie

Kwaliteitseienskappe wat geëvalueer word, wissel van koringeienskappe soos hektolitermassa, valgetal, meelekstraksie en proteïeninhoud tot meeleienskappe soos kleur, mixogram-piektyd, farinogram-waterabsorpsie, alveogramsterkte en alveogram-P/L-waarde. Die kwaliteitsontledings word deur die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium NPC (SAGL) gedoen.

Die dokument waarin die ontledingsprosedure en evaluasienorme vir die vrystelling van broodkoringteellyne in Suid-Afrika beskryf word, is beskikbaar op www.sagl.co.za/wheat/industry-information. Die Koringforum se kultivarlys is ook hier beskikbaar. Beide dié dokumente word jaarliks hersien en dienooreenkomstig op­gedateer na die SAGL-web­werf na afloop van­ die kultivar- en tegniese komitee se vergadering. Vir vinnige toegang tot die inligting klik op dié QR-kode.