Beter toerusting benodig ’n beter operateur

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 10 Augustus 2021

929

Met die vooruitgang in landboutoerustingtegnologie en die uitdagings wat hoëtegnologie-toerusting bied, speel operateursopleiding ’n al hoe belang­riker rol. Enigeen wat agter die stuur inskuif, moet dus toegerus word om die toerusting ten beste te kan hanteer.

Kennis maak ’n verskil
Die opleiding van trekkeroperateurs is vir enige produsent belangrik – nie net vir die praktiese gebruik van die trekker of implemente nie, maar ook om die algemene instandhouding van die toerusting te bemeester. Suksesvolle kursusgangers ontvang gewoonlik ’n sertifikaat ná die voltooiing van ’n kursus wat bewys dat hulle die nodige werksprosedure van die trekker verstaan en kennis het oor die sleep van verskillende implemente. Dit kan die operateur ook die nodige selfvertroue agter die stuur gee.

Vir Danie Nortje, tegniese bestuurder by Argo Industrial, is dit uiters belangrik dat alle trekkeroperateurs ’n kursus bywoon – of hulle ’n beginner of geoefende hand agter die stuur is. Hy is ’n voorstan­der van die fisiese bywoning van ’n kursus omdat daar baie aspekte is wat prakties gedemonstreer en ingeoefen moet word. “Deur ’n kursus te doen, word die operateur toegerus om toerusting met vertroue te hanteer. Dit voeg waarde by tot die boerdery.”

Tydens Argo se kursus word daar gefokus op die verantwoordelikhede rondom die daaglikse onderhoud en inspeksie van die trekker. Die gevolge van swak daaglikse onderhoud word ook bespreek. Volgens Danie moet ’n trekker en implement bymekaar pas vir optimale werking. “90% van alle breekskade is die gevolg van swak onderhoud, swak produkkennis en die verkeerde aanwending van implemente.”

John Deere se trekkerkursus is ontwerp vir beginner- én ervare bestuurders van wie daar verwag word om ’n trekker en verskillende werktuie en toebehore te sleep tydens die verrigting van hul daaglikse take. Hulle glo dat goeie inligting noodsaaklik is en bied daarom ’n verskeidenheid opleidingsopsies aan. Buiten tradisionele kursusse waar ’n instrukteur die opleiding verskaf, is daar ook aanlyn en simulatorgebaseerde sessies vir toerustingoperateurs en dienstegnici om hul kennis en vaardighede uit te brei.

Uitdagings van hoëtegnologie-toerusting
Met die toename in die wêreldbevol­king is voedselsekerheid noodsaaklik en hoëtegnologie-toerusting word in­gespan om hoër landbouproduksie te verseker. Vir die produsent kan trekkers sonder bestuurders, “robot”-implemen­te en ander hoëtegnologie-implemente meer wins beteken, mits die toerusting binne die vervaardigers se aanbevelings gebruik word. So­doende word instandhouding beperk en doeltreffendheid verseker.

Hoëtegnologie-toerusting maak opleiding belangriker as ooit. Aangesien minder operateurs nodig is vir hierdie werktuie, kan ’n produsent een of twee operateurs deeglik laat oplei om die toerusting te hanteer.

Onderhoud aan hierdie tipe toerusting het ook meer uitdagings gebring. Vroeër jare kon die produsent, buurman, trekker­operateur of een van die plaaswerkers sommer inspring en ’n fout herstel, maar hoë­tegnolo­gie-toerusting benodig spesiale kundigheid. Wanneer dit breek of onderhoud benodig, is produsente afhanklik van tegnici van die vervaardiger of handelaars.

Kursusse vir die opleiding van hoëtegnologie-toerusting moet gereeld aangepas word om tred te hou met tegnologie wat voortdurend vernuwe, veral omdat die tegniese versoenbaarheid tussen trekkers en werktuie uiters belangrik is. In die verlede het produsente almal dieselfde basiese praktyke toegepas en kon dieselfde soort implemente agter hul trekkers ingespan word. Vandag is daar so ’n groot verskeidenheid implemente uit verskillende lande – elk met sy eie funksies met soveel tegnologie ingebou – dat ’n eie unieke kursus vir elkeen nodig is.

Danie glo nie dat die opleiding vir hoë­tegnologie-toerusting van ’n pamflet af gedoen kan word nie. “Interaksie en praktiese verduideliking is nodig om te verseker dat almal die werking daarvan verstaan.” Volgens hom is die groot uitdaging van hoëtegno­logie-toerusting om die werking daarvan ten volle te begryp. “Hierdie toerusting is duur en as dit nie vir maksimum produktiwi­teit aangewend word nie, verloor die produsent.”

Bron
https://www.deere.com/en/stellarsupport/training/