Saadsamewerking goeie nuus vir bedryf en produsente

Lani Viljoen, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 9 Julie 2021

772

Wanneer ’n saadmaatskappy soos Sensako, wat oor meer as 60 jaar diep spore in die Suid-Afrikaanse saadbedryf getrap het, deel word van ’n multi­nasionale landboumaatskappy soos Syngenta, stel dit nuwe produkte en innovasie vir produsente en die saadbedryf in die vooruitsig.

Syngenta het in Augustus 2020 aangekondig dat die transaksie om Sensako te bekom, afgehandel is. Dié transaksie het die oorname van die totale besigheid, wat die gevestigde handelsnaam, alle fasiliteite en die personeel insluit, behels.

Dr Gerida de Groot staan aan die hoof van die graankwaliteitlaboratorium by die Bethlehem-fasiliteit, waar onder meer gesorg word dat slegs gesertifiseerde saad van die hoogste gehalte aan produsente gelewer word.

Op 13 Mei 2021 is ’n bekendstelling aan die media by Sensako se saadfasiliteit naby Bethlehem gehou. Antonie Delport (besturende direkteur van Syngenta Suid-Afrika) en Kobus Lindeque (besturende direkteur van Sensako) het ’n oorsig oor die Syngenta Groep se bedrywighede in die wêreld asook die opwindende vooruitsigte van Sensako en Syngenta se saadbesigheid in Suid-Afrika gegee. Hulle is bygestaan deur ander personeel wat in meer detail vertel het wat die toekoms inhou en wat reeds oor die afgelope maande vermag is.

Volgens Antonie is hulle fokus op navorsing en tegnologie. Syngenta se Good Growth Plan help produsente om klimaatsverandering en verlies aan biodiversiteit te beveg.

Die span van Sensako is net so opgewonde oor die samewerking tussen die twee maatskappye. Vir Kobus beteken die samevoeging van Syngenta se wêreldwye ervaring met Sensako se kundigheid in Suid-Afrika dat buitengewone produkte en innovasie aan produsente in die streek gebied kan word.

Kobus het ’n voorsmakie gegee van hul besigheidstrategie vir die volgende tien jaar:

  • Hulle beplan om hul nommereenkoringposisie in Suid-Afrika te behou.
  • Investering in somerseisoengewasse soos mielies, sonneblom en sojabone gaan plaasvind.
  • Gewasspesifieke strategieë gaan geïmplementeer word.
  • Groei gaan bevorder word met sterk tegniese en bemarkingsondersteuning, wat beteken mense word aangestel.
  • Navorsings- en ontwikkelingsvermoëns word vergroot.
  • Opgradering van produksie- en verskaffingsfasiliteite gaan plaasvind.
  • ’n Sterk fokus word geplaas op organisatoriese ontwikkeling en die opleiding van toekomstige leiers.

Volgens Pieter Craven, bemarkingsbestuurder by Sensako, is die graankwaliteitlaboratorium by Bethlehem een van die enigste inhuislaboratoriums in die land en is dit onontbeerlik vir hul koringnavorsing en -ontwikkeling. Die maatskappy beplan om dit ’n uitnemendheidsentrum vir Syngenta in Europa, Afrika en die Midde-Ooste (EAME) te maak. Gerida de Groot, hoof: Graananalise, het tydens die mediabesoek verduidelik hoe hulle te werk gaan om gesertifiseerde saad van uitstekende kwaliteit aan produsente te lewer.

Kultivars word ook hier getoets rakende die graanbedryf se kwaliteitsvereistes ten opsigte van vermalings-, reologiese (deeg-) en bakeienskappe. Hulle is verder deel van verskeie gesamentlike navorsingsprojekte. Sensako poog byvoorbeeld om in samewerking met Cengen, die Landbou­navorsingsraad en die Universiteit van Queensland, genetiese weerstand teen Fusarium-kroonvrot met behulp van molekulêre merkers te bepaal.

As deel van hul tienjaarstrategie word beplan om produksie- en verskaffingsfasiliteite op te gradeer. Die verwerkingsaanleg by Bethlehem gaan in die afsienbare toekoms verdubbel in grootte.

Drie nuwe koringkultivars word binnekort op die mark vrygestel, naamlik SST8175; SST8177 en die “volbloedrenperd” SST8205, wat met groot verwagting dopgehou word.

Volgens Andries Wessels, produkontwikkelingsbestuurder by Sensako, loop tegnologie soos ’n goue draad deur alles wat hulle doen.

Hy sê die toekoms van sonneblom lê in olie. In die verlede was die fokus altyd op opbrengs, met verwerkers wat aan die kortste ent getrek het. Die nuwe fokus is egter op kultivars met ’n hoë olie-inhoud en Syngenta beplan om die marksegment te draai deur hulle nuwe hoë-oliebasters.

Hul strategie is om geakkrediteerde medewerkers as derde partye te gebruik om produsente te kontrakteer, help om reg te plant en met logistiek by te staan. Die waardeketting word voltooi deur ’n premie van tot R2 000 wat deur die produsent verdien sal kan word op tonne met ’n hoë olie-inhoud. Die huidige standaard ten opsigte van olie-inhoud is 36% tot 38%, maar Syngenta het reeds ’n nuwe kultivar wat 42%- tot 50%-olie kan gee.

Wat mielies betref, beskik Syngenta oor die Agrisure Viptera-biotegnologie, wat beskerming bied teen insekte as ’n hulpmiddel om opbrengs te verhoog. Viptera is ’n vegetatiewe, insekdodende proteïen wat gekombineer word met bestaande hulpmiddels vir bogemiddelde insekweerstand. Dit is effektief teen herfskommandowurm (FAW), Busseola fusca en selfs snywurm.

Hierdie samewerking van Sensako en Syngenta kan betekenisvolle waarde vir produsente in Suider-Afrika inhou en bydra om genoeg veilige, voedsame kos vir die wêreld te produseer.