Raad vanuit die pylvak

Gepubliseer: 8 Julie 2021

122

Jannie de Villiers
HUB, Graan SA jannie@grainsa.co.za

Hierdie is die tweede laaste hoofartikel wat ek vir SA Graan/Grain skryf. Die plan is steeds dat ek aan die einde van Augustus 2021 die tuig as HUB neerlê. Verlede maand is ’n artikel geplaas wat oor my bietjie meer as tien jaar hier by Graan SA gehandel het. Ek kan my nie indink dat daar genoeg spasie in die tydskrif is om laaste boodskappe te skryf nie, maar ek wil egter van hierdie geleentheid gebruik maak om tog ’n gedagte of twee oor die toekoms te deel vir dié wat die aflosstokkie by my oorneem.

Oor die afgelope twee jaar, veral in die COVID-tyd, het ek so bewus geraak van die strategiese waarde wat Graan SA vir die hele landbousektor bied. As die grootste kommoditeitsorganisasie, plaas dit ’n geweldige verantwoordelikheid op ons leiers om rigting te gee. Ek het in menige vergadering gesit met uiters komplekse probleme op die tafel – en dan die bekende stilte: Wat nou? Dit was asof almal vir Graan SA wag om te sê hoe nou gemaak.

Hierdie scenario gaan nie gou verander nie. Ons leiers het lank gelede reeds besluit om kapasiteit te skep in die vorm van mense en fondse om behoorlik leiding te kan gee. Ons vorm immers die basis van die voedselpiramiede en die kundigheid van ons mense staan in dié verband uit. As Graan SA dus in die toekoms nog die toon wil aangee, moet ons aanhou belê in die kundigheid van ons mense – dit sluit die leiers op ons Hoofbestuur in.

Die tweede opmerking wat ek wil maak, handel oor ons onafhanklikheid as organisasie. Met vrywillige heffings is daar altyd die negatiewe kant van rugryers, maar ten minste skryf niemand vir ons voor wat om met ons eie fondse te maak nie. Daardie “dreigement” van lede dat hulle sal bedank en ophou betaal as die organisasie nie meer vir hulle waarde bied nie, is juis wat vir ons ’n voorsprong gee. Dit hou ons op ons tone. As ek rondom my kyk en die gemor hoor van my kollegas wat die oënskynlike gemak van statutêre heffings geniet, is ek nie so seker dít is die plek waar ek my wil bevind nie.

Statutêre heffings sal waarskynlik meer fondse in Graan SA se sak plaas. Dit bring egter ook meer voorskrifte van hoe dit spandeer moet word en dan is daar natuurlik die politieke geveg oor aan wie die fondse toegeken word. As ons ’n statutêre heffing op mielies instel, gaan die rye van dié wat dit graag wil hê, net so lank of langer as die inentingsrye wees! My raad is dus om eerder outonoom te bly en skerp te wees, al maak dit soms seer.

Met die sluiting van die rade in 1995 het die eertydse Minister van Landbou, Derek Hanekom, my versoek om op ’n kommissie te dien wat moes besin oor die nasionalisering van al die graansilo’s. Ek was nog nat agter die ore en het maar tien jaar se ondervinding in die graanbedryf gehad. Toe ek gaan kers opsteek by een van my mentors (hy is vandag steeds een van my mentors) om te hoor wat my mandaat sou wees, was sy raad eenvoudig en reguit: “Ons as privaat sektor sal veel eerder ’n privaat monopolie beveg as ’n staatsmonopolie!”

Daar was heelwat emosie in ons debatte en as jongman was dit my eerste kennismaking met die bitterheid wat apartheid by sommige mense veroorsaak het. Die uiteinde van die kommissie was om nie die silo’s te nasionaliseer nie. Vandag, meer as 25 jaar later en met heelwat meer ervaring agter die blad, is my antwoord steeds soos Hamish McBain s’n aan almal van julle: “Hou die staat sover moontlik uit die graanwaardeketting uit – laat die mark sy werk doen.” As ek so na al die mislukte staatsbeheerde ondernemings kyk, is daar waarskynlik heelwat meer mense wat vandag hierdie siening van minimum staatsinmenging sal ondersteun.

Ek sal nooit so arrogant wil wees om dit voor te skryf nie, maar na 36 jaar in die graanbedryf dink ek dit verdien ernstige oorweging.