Beste bydrae by Kongres, artikel en artikelreeks aangewys

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 30 Maart 2021

894
Johan Smit, besturende redakteur van SA Graan/Grain, het die beste aanlyn bydrae by Kongres aangekondig.

Die media wat Kongres bywoon, word elke jaar gevra om die beste bydrae wat van die vloer af gelewer word, aan te wys.

Daar was hierdie jaar weens die virtuele aard van Kongres twee platforms waar kykers kommentaar kon lewer. Op die YouTube-platform kon verskeie rolspelers in die graanfamilie ’n bydrae lewer, met heelwat uiters interessante kommentaar wat ontvang is. Op die platform vir die afgevaardigdes is meer as 70 bydraes gelewer. Die media het Japie Grobler van Streek 23 aangewys as die persoon wat die beste bydrae op dié platform gelewer het.

Hierdie ope brief, geskryf deur Jannie de Villiers, is aangewys as die beste artikel in SA Graan/Grain in 2020.

Jaco Breytenbach, voorsitter van die SA Graan/Grain-redaksiekomitee, het tydens Kongres die beste artikel in 2020 aange­wys. Die artikel, geskryf deur die uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, Jannie de Villiers, was die hoofartikel in November 2020­– getiteld “Dis wie ons is”. Dié besonderse arti­kel wat in die vorm van ’n brief aan die Minister­ van Polisie,­ generaal Bheki Cele, geskryf is, is wyd en syd gedeel en het baie kommentaar ontlok. Klik gerus op die QR-kode om dit op www.sagrainmag.co.za te lees.

Corné Louw het in 2020 die beste reeks artikels in SA Graan/Grain geskryf en ontvang daarmee die Koster-skild.

Die Koster-skild word jaarliks aan die skrywer van die beste reeks in SA Graan/Grain oorhandig. Sarel Haasbroek van Streek 7 en lid van die Koster-studiegroep het die wenner by Kongres aangekondig. Die wisseltrofee gaan hierdie jaar aan Corné Louw vir sy reeks artikels oor insette.