Verby die kantelpunt

Gepubliseer: 25 Februarie 2021

1320

Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

Hier aan die einde van Januarie het ek ’n paar artikels gelees en oor ’n klompie gebeure in die landbousektor en in die algemene samelewing nagedink. Dis vir my so al asof ons met ’n paar goed, wat nie noodwendig met mekaar verband hou nie, by ’n kantelpunt (tipping point) verby beweeg het. Daar is nie juis ’n eksakte teorie hiervoor nie, maar ’n mens kry soms daar diep onder in die maag so ’n gevoel.

My klokkie hieroor het gelui toe ek Max du Preez en Tim du Plessis se kom­mentaar gelees het oor die stand waarin ons land is ten opsigte van die diens wat die staat aan die landsburgers moet lewer.

Hulle advies was dat ons as burgers onsself ernstig moet begin organiseer om sekere dienste self te lewer en nie langer vir die staat moet wag nie. Hiermee saam het ek ook die Koster-saak se uitkoms gelees, waar die hof die inwoners toestemming gegee het om hulle eie drinkwater te verskaf in die lig van die munisipaliteit se totale onvermoë om dit te doen. Aan die een kant moet ek sê dat dit nie nuut is vir landbou nie – ons ken dit.

Ek het nagedink oor hoe ons nou al vir jare sekere dienste privatiseer. Ons rapporteer gereeld aan produsente waar ons met die “privatisering” van ons navorsing staan en dan het ons ook heffings ingestel om seker te maak die nuutste saadtegnologie is vir produsente beskikbaar. SAGIS doen al vir bykans 25 jaar die staat se werk betreffende die situasie van ons strate­giese voorraad. Net so word die hart van die oesskattings deur die privaat sektor gedoen. Ons monitor al vir jare die kwaliteit van ingevoerde graan en kunsmis. Dit is alles funksies wat op een of ander staatsdepartement se pligstaat staan en waarvoor belastinggeld heel waarskynlik begroot word.

Ek wil nie eers begin praat oor sake soos veiligheid en diefstal nie. Dis bloot ’n skande dat die burgers van die land miljoene se belasting moet betaal en dan in elke geval self vir polisiëring en veiligheid moet betaal. So, wat is nou eintlik my punt? Vir die eerste keer het ek na produsente-organisasies begin kyk as ’n lig­gaam wat daardie rol speel. Ek het ook nagedink oor die rol wat ons vorentoe sal moet speel. As gekyk word na die tipe opleiding wat ons personeel die afgelope vyf jaar of meer ondergaan het, dui dit alreeds ’n seker rigting aan. Ons het op die sagter tipe vaardighede gekonsentreer: konflikhantering, traumabera­ding, selfbestuur (om ander te help) en onderhandelingsvaardighede. Ons het begin om die produsent ook te bedien en nie net sy besigheid nie.

My tyd by Graan SA is vinnig aan die uitloop en dit is dalk iets waaroor ons leierskap in die toekoms mooi moet besin. Ons primêre fokus behoort altyd te wees om volhoubaarheid vir die graanprodusent te verseker, maar ons kan nie miskyk dat ’n reusediensverskaffer in die volhoubaarheids­ketting ons faal nie. Watter rol moet georganiseerde landbou speel om die gaping te vul en wat moet aan burgerregte-organisasies oorgelaat word? As ek so na ons insette in die meesterplan vir landbou kyk, is daar heelwat voorstelle vir vennootskappe waar dit uiteindelik neerkom daarop dat die staat sy wetlike pligte aan die privaat sektor sekondeer om seker te maak voedselsekerheid word in stand gehou.

’n Baie kosbare Joodse vriend van my – dr Eugene Brock – het altyd vir my gesê: “Jannie, eers die beginsel en dan die prys.” Voor ons baklei oor dubbeld betaal, moet ons die beginsel daarvan om niks te doen nie, bespreek. Louw Steytler het my geleer van die ondergang van ’n nasie – nie omdat mense slegte goed doen nie, maar omdat goeie mense niks doen nie.

My laaste stukkie advies is dat ons nie net moet fokus op die hier en die nou om COVID te oorleef nie, maar dat ons die kantelpunte om ons mooi moet analiseer en dan die pad vir die toekoms begin bou. Die prys daarvan om niks te doen nie en mekaar slegs te kritiseer, is bloot net te groot.