Die paradoks van 2021

Gepubliseer: 2 Februarie 2021

874

Jannie de Villiers
HUB, Graan SA jannie@grainsa.co.za

Vanjaar se stop-start begin maak die lewe vir almal moeilik. Mense was nog besig om vakansie te probeer hou na ’n taai 2020-jaar, toe laat COVID se “My fellow South Africans” ons weer in ons vier spore vassteek.

Die ondervinding wat ons in 2020 opgedoen het, help om die paniekvlakke effe in toom te hou, maar dit skep ook ’n stuk realisme van wat ons kan verwag in die jaar wat voorlê. Die paradoks van 2021 is dat alhoewel dit oor die algemeen lyk soos ’n goeie landboujaar vir produsente, dit ’n ernstige “droogte” vir Graan SA as organisasie inhou. Wat ek daarmee bedoel, is dat die gewasse meestal mooi vertoon en baie potensiaal het – selfs die pryse lyk goed. Tog word Graan SA deur ’n tweede opeenvolgende jaar van geen NAMPO in die gesig gestaar. Dit kan ernstige implikasies vir ons finansiële posisie as organisasie inhou.

Ons is verder terdeë bewus daarvan dat die goeie reën die afgelope seisoen tot swakker grade en meer siektes lei. Dit gee weer aanleiding tot ongelukkige produsente, kopers en verbruikers. Wie het gesê boerdery is maklik? Ons kan egter nie oor allerhande spekulasie in sak en as gaan sit nie. Kom ons verheug ons daarin dat die suide die afgelope seisoen mooi rekords gestroop het en dat die noorde vir ’n slag binne die optimum venster kon plant. Ons span by die kantoor het besluit dat ons nie paniekerig gaan word nie – ongeag wat na ons kant toe kom die jaar. Dit beteken nie dat ons nie realisties is oor die omvang van die moontlike risiko’s wat ons gaan trotseer nie.

Ek het die vakansie weer gaan oplees oor die lewensiklusse van organisasies en van mense. As organisasie kan ons beslis nie net fokus om slegs te oorleef nie – ons moet steeds oplossings soek en vind vir die uitdagings voor ons deur. As jou fokus net op oorlewing is, gaan jy nie net jou doel mis nie, maar dis gewoonlik ook die begin van die einde. Die dapper ding om te doen, is om in die stryd om oorlewing weer te droom.

Ons het agtergekom dat produsente nie die virtuele Zoom-ding verkies nie. Nee, ons wil handdrukke gee, mekaar in die oë kyk en saam lag en gesels. Produsente wil ander in die rede val met ’n geskerts en saam stoei en raad gee om probleme op die plaas op te los. Dis juis dié eienskappe wat ons by Kongres inbou en waarvoor NAMPO so bekend is. Dis moeilike dinge daardie waarby ons waarskynlik sal moet aanpas hierdie jaar. ’n Virtuele kongres is ver meer as net ’n uitdaging en as ons nog ’n jaar nie kan gaan bande smee op NAMPO Park nie, gaan dit erg lol. Tog is dit ’n realiteit.

Net om weer terug te kom na die stop-start aan die begin. Daar was ’n groep mense wat deur die woestyn moes trek en wat vir 40 jaar gestop en ge-start het. Dit was baie moeilik, maar solank hulle onder die wolkkolom en vuurkolom beweeg het, was dit goed en het hulle by hul einddoel uitgekom. Mag dit ook so met jou en jou geliefdes wees in hierdie tyd.

Ek sluit graag hierdie rubriek af met erkenning aan prof Mohammad Karaan wat ons in
dié dae weens COVID ontval het. Hy staan bo-aan my lys van brugbouers in die nuwe Suid-Afrika. Hy het ons produsente op grond­vlak verstaan én kon homself met al sy spesialiskennis op die hoogste vlak handhaaf. Hy het meer as sy deel gedoen om landbou te verenig. Dis onafgehandelde werk van hom wat ons beslis nog vorentoe sal moet neem. Ons groet jou, Big Moh!