Weeg insetkoste op teenoor opbrengs

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 9 Desember 2020

563

Jaco Breytenbach

Jaco Breytenbach van Fouriesburg meen dit is belangrik om voor planttyd berekende besluite ten opsigte van insetkoste te neem.

Hy het die afdeling vir mielies in die Oos-Vrystaat in die Groei vir Goud-kompetisie gewen met ’n rekordoes van 13,63 t/ha met die DEKALB-kultivar, DKC 72-74R. “Dit is die beste opbrengs wat ek nog ooit behaal het. Ek is baie dankbaar dat die reën elke keer net op die regte tyd geval het. Dit is baie genade en ek kan net my oë in dankbaarheid sluit. Op die res van die plaas het ek net so goed gestroop en besef elke dag hoe geseënd ek die vorige seisoen was na ’n paar jaar van droogte in ons omgewing.”

Jaco het sy opbrengs gemeet aan die hoeveelheid vog wat gebruik is en dit bepaal op 25 kg graan/mm reën wat geval het. Sy veran­derlike koste was R612/ton wat die direkte koste van saad, chemie, kunsmis, kalk en diesel insluit. Die koste is verteenwoordigend van wat op die res van die mielieproduksie spandeer word.

Mielies vorm omtrent die helfte van sy aanplantings elke jaar. Hy pas wisselbou toe en plant ook sojabone, suikerbone en aartappels op ’n rotasiegrondslag. Sowat 13% van die lande rus jaarliks.

Jaco volg ’n standaardbemestingsprogram en laat meng kunsmis volgens sy spesifieke behoefte. Die kunsmis word twee maande voor plant breedwerpig oor die lande gestrooi. “Deur die jare het ek my grond opgebou. Ek ken dus my lande en pas my toediening aan by die land en die gewas wat ek gaan plant. Dit bly belangrik om grondontledings te doen en die program by jou grond se behoeftes aan te pas. Kalk word variërend op elke land toegedien.”

Die afgelope 18 jaar doen Jaco ’n vorm van verminderde bewerking op sy grond. “Ek ploeg lankal nie meer nie, maar doen ’n tandbewerking voor ek mielies plant. Dit is nodig om van tyd tot tyd in te gaan met ’n dis of om ’n tandbewerking te doen voor plant.”

Sy lande moet skoon wees van onkruid, aangesien onkruid kompetisie vir die gewas bied. Jaco doen chemiese onkruidbeheer en pas sy program na gelang van die seisoen se onkruiddruk aan. Met plant doen hy ’n bespuiting om breëblaaronkruide en grasse te beheer. Na opkoms dien hy glifosaat toe teen 2,4 ℓ/ha in 100 ℓ water. As dit nodig is, sal hy twee weke daarna ’n tweede bespuiting doen om veral uintjies te beheer.

Jaco plant die afgelope 25 jaar reeds verskeie DEKALB-proewe en daar word jaarliks ’n boeredag op sy plaas aangebied.

Jaco plant die afgelope 25 jaar reeds verskeie DEKALB-proewe, onder meer chemiese, plantestand- en wit- en geelmieliekultivarproewe. Daar word jaarliks ’n boeredag op sy plaas aangebied. “Om soveel verskillende proewe te plant, verg baie ekstra werk en tyd. Uiteindelik trek ek ook voordeel uit die proewe in terme van kennis wat ek opdoen. Ek glo die hele omgewing put ook voordeel uit die proewe wat ek plant. So voel dit of ek ook op ’n manier terugploeg in die gemeenskap,” sê hy.

Volgens Jaco is hulle plantvenster kort en het hy sowat vier weke speling om te plant. Na middel November raak die risiko’s net groter.

Hy glo die volgende drie punte is van kritieke belang en dat dit in ’n groot mate die sukses van jou boerdery kan bepaal. “Dit werk soos ’n driehoek – al drie punte is van kardinale belang. Kyk na jou grond. Grondgesondheid is van uiterste belang en ’n mens moet gereeld chemiese regstellings doen – veral voor planttyd. Dit is noodsaaklik vir volhoubare produksie. Kalkregstellings moet net so ’n hoë prioriteit geniet. Die laaste aspek wat aandag verg, is die regte kultivarkeuse vir jou plaas en omstandighede. Soek ’n kultivar wat onder alle omstandighede vir jou ’n opbrengs gaan gee.”

Jaco meen verder dis goed om jouself te omring met kundige mense op verskillende terreine van boerdery wat goeie advies kan voorsien. “’n Mens kan altyd by die spesialiste in die maatskappye leer en dan kyk wat op jou plaas toegepas kan word. Gesprekke met medeprodusente is net so waardevol.”