Tydsberekening gee die deurslag

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 9 Desember 2020

1461

Japie Breedt

As ’n gekwalifiseerde sjef wat in die buiteland gewerk het, het Japie Breedt van Bapsfontein geleer dat tydsberekening vir bykans alles in die lewe deurslaggewend is. Des te meer in boerdery.

“Alles in boerdery gaan oor tydsberekening. In ’n plant se fisiologie gebeur sekere dinge op sekere tye en daarom soek die plant sekere dinge op spesifieke tye. As dit nie gebeur nie, ontwikkel die plant nie optimaal nie en is daar nie ’n manier om die optimale opbrengs uit daardie plant te kry nie.”

Japie was die wenner in die afdeling vir sojabone in die sentrale gedeelte van die land met ’n nuwe opbrengsrekord van 5,29 t/ha. Hy het Agriseed RA 560RR geplant op ’n land waar mielies die vorige seisoen geproduseer is. Sy insetkoste, wat saamge­stel is uit saad, bemesting, brandstof en arbeid, was R1 191,90/ton.

Hy plant vroeg in die seisoen wanneer die grondvog voldoende en die grondtemperatuur bo 10˚C is. “Op my plaas is daar dele wat baie maklik versuip en deur so vroeg as moontlik te plant, met vog en temperatuur in ag genome, bestuur ek daardie risiko. Ek ken my grond en ek probeer om dit reg te bestuur en so verwante risiko’s te vermy.”

Met ’n rekordopbrengs van 5,29 t/ha was Japie die sojaboonwenner in die sentrale gedeelte van die land.

Op droëland plant Japie 50% van sy lande met mielies en 50% met sojabone. Van tyd tot tyd plant hy ook suikerbone, maar dit is nie ’n jaarlikse gebruik nie. Onder aanvullende besproeiing plant hy aartappels, koring en ertjies in rotasie met mielies. “Die peul-gewasse werk goed in beide sisteme, want dit plaas stikstof terug in die grond.”

Japie plant Roundup Ready-sojabone en stapelgeenmielies – veral met die oog op die beheer van stronkboorders. Glifosaat word slegs op die sojaboonlande gespuit en middels met ander metodes van wer­king word op die mielies gebruik om onkruidweerstand te bestuur.

Hy is ten volle toegespits op presisie­boerdery. Elke aspek van die boerdery word gemeet en inligting wat deur die jare bymekaargemaak is, word op een platform verwerk tot ’n bestuurstelsel wat op die plaas toegepas word.

Al die grond is gekarteer en grond­ontledings word jaarliks op al die grond gedoen. Die bemesting word na gelang van die resultate uitgewerk en kalium en kalk word variërend toegedien. Voor plant strooi Japie hoendermis op die lande waar hy mielies gaan plant en kalium op die lande waar hy sojabone gaan plant.

Blaarontledings word elke twee weke gedoen en bemesting of blaarvoeding word daarvolgens aangepas en toegedien.

Op mielies plant hy ’n variërende plantestand. Hy het vanjaar 20 proewe geplant om verskillende plantestande en kunsmistoe­dienings te ondersoek. Hy kyk onder meer na die uitwerking van die hoeveelheid kunsmis, tyd van bemesting, die metode en plek van toediening op die gewas. Hy glo hierdie inligting is deurslagge­wend om te bepaal wat die optimum toe­die­ningsvlak en metode is vir die winsgewendste opbrengs.

Hy meet ook sy vog en die uitwerking daarvan op die gewasse noukeuring. So kon hy maklik aandui dat die sojaboonopbrengs wat ingeskryf is vir die kompetisie 6 kg graan/mm reën was.

Japie volg verskeie mediaplatforms en bestudeer daardeur die verbouingspraktyke van sojaboon- en mielieprodusente in veral die VSA. Hy evalueer hulle manier van boer en kyk hoe hy van die metodes in sy boerdery kan toepas. “Ek leer ongelooflik baie by Randy Dowdy van die VSA – hy stel ’n voorbeeld wat ek graag volg,” sê Japie.

Hy meen verder investering in goeie presisietoerusting is die moeite werd. “Dit wat ’n mens verloor op die lang duur deur nie die toerusting te gebruik nie, is veel meer as die aanvanklike koste wat ’n mens in die toerusting belê. Verkeerde en onnoukeurige toe­diening van bemesting kos nie net onnodig geld nie, maar lei ook tot ’n verlies aan opbrengs. ’n Mens kan jouself in die moeilikheid in spaar as jy aan die begin van die seisoen te suinig is om in goeie praktyke, toerusting en tegnologie te investeer.”

Sy raad aan jong produsente is om nie alles self te probeer doen nie. “Identifiseer die regte kundiges op elke vlak van die boerdery en tap hulle kundigheid.”