Pimpel en pers geslaan deur Moeder Natuur

Gepubliseer: 1 Oktober 2020

72
Dr Maryke Craven,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Dele van Noordwes, die Noord-Kaap asook die Wes-Vrystaat het die afgelope seisoen erg onder haelbuie deurgeloop, wat tot 30%-oesverliese op mielies en 60%-oesverliese op sonneblom veroorsaak het. In baie gevalle eindig die impak van hael egter nie net by die aanvanklike skade nie en kan verdere opbrengsverliese ongesiens plaasvind.

Plante word voortdurend blootgestel aan verskillende soorte stremming wat natuurlik in die land voorkom. Internasionaal is reeds bewys dat hierdie stremming ’n invloed op die interaksie tussen die plant en siekteveroorsakende organismes (patogene) wat in die omgewing teenwoordig is, kan hê. So is daar dus gevind dat abiotiese stremming, soos droogte, versuiptoestande en ekstreme temperature (ryp en hitte), die plant se vatbaarheid vir patogeenaanvalle kan verhoog.

Houtskoolvrot van mielies is ’n tipiese voorbeeld van ’n stamvrot wat baie algemeen is in jare wanneer droogtetoestande ervaar word. Die rede hiervoor is dat die meeste stamvrotswamme nie die vermoë het om gesonde, lewenskragtige selweefsel te be­skadig nie. Die meeste variëteite het dus ’n genetiese komponent wat weerstand veroorsaak teen patogene, solank as wat die plantselle gesond en le­wenskragtig bly.

Internasionaal is getoon dat die voorkoms van stamvrotte kan verhoog wanneer blare beskadig is weens blaarsiektes soos noordelike mielieblaarskroei of grysblaarvlek. Hierdie verskynsel word toegeskryf aan die konsep van fotosintetiese stremmingstranslo­keringsbalans. Wanneer daar nie genoegsame koolhidrate in die plant geproduseer word nie, geld die beginsel dat die ontwikkelende pitte prioriteit bo alle ander weefsel sal hê. Die verlaagde koolhidraatreserwekonsentrasies lei daartoe dat die wortelweefsel nie meer voldoende in stand gehou word nie en die wortels en stamme se algehele gesondheid in gedrang kom. Die gevolg hiervan is dat die wortel- en stamselle begin afsterf. Wanneer dit gebeur, is hulle meer vatbaar vir patogeenkolonisasie.

Haelskade in ’n mielieland.

Haelskade veroorsaak stremming
Haelskade is ook ’n faktor wat stremming by plante kan induseer (Foto 1 en Foto 2). Internasionaal is navorsing oor die direkte verband tussen haelskade en siektes soos stamvrot egter baie gebrekkig en is beskikbare inligting meestal gebaseer op waarnemings wat oor tyd gemaak is. Hael kan ’n tweeledige impak op stamvrotte hê. Eerstens kan dit die blaarmateriaal genoegsaam vernietig dat die plant nie meer effektief kan fotosintetiseer nie en – soos reeds genoem – die plant dan sy stamme en wortels begin verwaarloos. Tweedens kan dit direkte skade aan die stamme veroorsaak en ingangspunte skep waardeur swamme die plant kan infekteer.

Haelskade in ’n mielieland.

In 1964 doen Larry J Littlefield in Plant Disease Reporter verslag rakende die impak van 1963 se verwoestende haelbuie in Minnesota en die effek wat dit op stamvrotte gehad het. Byna alle stamme het een of ander graad van stamvrot gehad in en om die letsels wat deur die hael veroorsaak is (Foto 3 en Foto 4). Die graad van vrot wat voorgekom het, was verder nie gekoppel aan die grootte van die letsel nie en was eers werklikwaar sigbaar vyf tot ses weke nadat die haelskade aangerig is. Ongeveer die helfte van die swamme wat uit die letsels verwyder is, was saprofities van aard, wat beteken dat dit swamme was wat op dooie plantmateriaal voed. Die res het behoort tot Fusarium-spesies wat wel met stamvrotte geassosieer word. Sy gevolgtrekking was dat hierdie indringing van swamme deur letsels of wonde wat deur hael aangerig is, gelei het tot ’n afname in opbrengs.

Wanneer haelskadeletsels oopgesny word, kan verkleuring weens stamvrot dikwels binne die stam waargeneem word.

Alhoewel hael dus ’n besliste bydrae tot die ontstaan van stam­vrotte kan lewer, is dit baie moeilik om die voorkoms van stamvrotte in so ’n geval volkome aan haelskade toe te skryf. Om werklik te bepaal of daar sekondêre probleme ontstaan het weens haelskade, moet daar na plante van lande wat deur hael getref is asook na lande wat dit vrygespring het, gekyk word. Verder moet sulke waarnemings reeds voor die duikstadium (R5) gedoen word, omdat plante teen strooptyd weens natuurlike veroudering altyd een of ander graad van wortel- en kroonvrot het.

Wanneer haelskadeletsels oopgesny word, kan verkleuring weens stamvrot dikwels binne die stam waargeneem word.

Wanneer hael laat in die seisoen voorkom, kan die koppe be­skadig word en soos met die stamme kan die letsels wat ontstaan, dien as infeksiepunte vir swamme (Foto 5, 6 en 7). Wanneer skade so laat in die seisoen voorkom, is die aangetaste plante geneig om vinniger fisiologiese volwassenheid te bereik, maar vat die koppe langer om af te droog. Hierdie verlengde periode van afdroging skep weer tyd vir swamme om verder binne-in die koppe te versprei en tot groter opbrengsverliese te lei. Verder gaan haelbuie gepaard met ’n verlaging in temperatuur en ’n verhoging in humiditeit, wat die infeksie van byvoorbeeld Fusarium graminearum in mieliekoppe kan bevoordeel.

Haelskade op koppe en die gevolglike kopvrotte wat kan ontstaan.
Haelskade op koppe en die gevolglike kopvrotte wat kan ontstaan.

Wat staan ’n produsent te doen?
Wanneer hael voorgekom het, is daar bitter min wat gedoen kan word om die direkte skade sowel as die sekondêre skade, wat in die vorm van siektes voorkom, te keer. Navorsing het bevind dat die toediening van swamdoders geen opbrengsverhoging tot gevolg gehad het nie. Wat die produsent wel kan doen, is om te verseker dat sy plante dwarsdeur die seisoen die beste moontlike kans gegun word om infeksies via stam of kop af te weer. Wisselbou bly een van die belangrikste siektebeheerstrategieë. Deur gewasse te wissel, word die voedingsbron vir die meeste swamme en bakterieë uit die stelsel gehaal. Dit dra dus daartoe by dat inokulumvlakke afneem van een jaar na die volgende. Wanneer daar minder inokulum teenwoordig is, sal infeksies deur skadelike patogene ook afneem. Monitering vir die voorkoms van stamvrotte van lande met vogvlakke vanaf 30% tot 40% sal verder help met die besluitneming oor wanneer geoes moet word. Deur so vroeg moontlik te oes, kan verhoed word dat plante wat tekens toon van stamvrot later omval. Plante wat op die grond lê kan tot verdere opbrengsverliese lei omdat kopvrotte toeneem. Addisionele koste moet ook aangegaan word om sulke plante geoes te kry.

Haelskade op koppe en die gevolglike kopvrotte wat kan ontstaan.

Deur haelskadedekking uit te neem, kan die impak van haelskade ten opsigte van oesverliese wat gely is, vereffen word. Produsente moet hulself egter deeglik vergewis van wat gedek word volgens die versekering, aangesien dit nie noodwendig die gevolglike skade (dit is siektes wat ontstaan as gevolg van die haelskade) dek nie.

Kontak dr Craven by 018 299 6100 vir enige navrae.