Hoër risiko, koste as moutgars geberg word

Gepubliseer: 1 Oktober 2020

1278
Johan Lusse,
hoofbestuurder:
Graan en Agridienste, Overberg Agri
Wessel Lemmer,
hoofbestuurder,
Agbiz Grain

Suid-Afrikaanse produsente produseer moutgars wat in die grootste deel van plaaslike bierbrouers se behoefte voorsien. Dit maak ’n integrale deel van die boerderyaktiwiteite in die Suid- en Wes-Kaap uit en is ’n belang­rike vertakking vir die produsente in dié produksieareas.

Weens die streng kwaliteitsvereistes van moutgars is die produksie en opberging daarvan nie so eenvoudig soos die van ander gewasse soos koring en mielies nie en is dit ook duurder.

Anders as in ander wêrelddele, waar voergars in groot maat geproduseer word en gars wat geskik vir moutdoeleindes is tydens uitlaai uit die opgebergde voergars geselekteer kan word, word daar spesifiek gars vir moutdoeleindes in Suid-Afrika geproduseer. Indien moutgars afgekeur word omdat dit nie aan moutvereistes voldoen nie, moet dit as voer verkoop word teen ’n afgeleide prys van mielies, wat aansienlik laer is as dié van moutgars. Oor die afgelope paar jaar was die hoofredes waarom moutgars afgekeur is ’n te lae ontkiemingspersentasie, te lae of te hoë stikstof­vlakke asook gebarste korrels.

Die opbergingskoste vir gars is duurder as die van ander graan soos koring en mielies, omdat die gars fisies meer hanteer word in die proses van inname tot dit na die koper/verwerker versend word. Daar is ook meer risiko’s met die opberging daarvan.

Redes vir risiko’s en hoër koste van garsopberging
In ’n vrye mark word alles gedoen om die koste vir produsente so laag as moontlik te hou. Daar is egter bykomende koste in die opberging van gars as gevolg van die volgende redes:

  • Verskillende garskultivars moet apart opgeberg word.
  • Gars word apart in twee stikstofbande opgeberg.
  • Die gewas moet teen ’n lae temperatuur gedroog en daarna afgekoel word om die ontkiemvermoë (ontkiemingskapasiteit en -energie) te behou.
  • Gars is ’n produk wat ’n hoër sifselinhoud het, met gevolglike hoër skoonmaakkoste as die van ander graan.
  • Die graan moet van een buis na ’n ander buis oorgegooi word voordat dit vir ’n verwerker uitgelaai word.
  • Monsters van elke 50 ton gars moet geneem word vir analisedoeleindes.
  • Garsmonsters word ontleed vir 27 graderingspesifikasies, waaronder die stikstofinhoud, ontkiemings­kapasiteit en ontkiemingsenergie.

Opbergingsinfrastruktuur
Omvangryke kapitaalinvestering is oor tyd gemaak by silo’s wat gars opberg omdat gars streng kwaliteitsvereistes het en meer risiko inhou vir die opberger.

Alternatiewe strukture soos bunkers en silo­sakke se koste kan goedkoper wees, maar dié strukture het eiesoortige uitdagings wat die risiko vir veral moutgars­opberging kan verhoog. Dit kan daartoe lei dat die operasionele verliese in silosakke en bunkers hoër is as in betonsilo’s. Silosakke voldoen aan die opbergingsvereistes, maar kan maklik beskadig word en vog inkry. Dit blyk dat gars in bunkers ’n groter risiko as silosakopberging inhou. Dit is veiliger om gars in ’n betonsilo waar die produk makliker berook, deurlug en gesirkuleer kan word, te stoor.

Verwerkers is van mening dat bunkers oorsee en in Australië goed werk om gars op te berg en dat die opberging daarvan in Suid-Afrika teen ’n laer koste in bunkers gedoen kan word. Daar moet egter in ge­dagte gehou word dat hierdie lande voergars in groot maat vir die veevoermark produseer en dat die een­heidskoste vir opberging dus laer sal wees. In Suid-Afrika word mielies op groot maat vir die veevoermark geproduseer. Plaaslike produsente spesialiseer daarin om moutgars te produseer en verwerkers kan nie ’n besending moutgars selekteer uit ’n groot besending voergars wat aan moutgarsvereistes voldoen nie.

Graan SA/Sasol fotokompetisie
– Johan Norval, 2011

Afkeurings
Vir gars om vermout te word vir die brou van bier, moet dit voldoende ontkiem in die vermoutingsproses. Dit vereis dat gars “aan die lewe gehou” moet word vandat dit geoes word totdat dit vermout word. Dit is die grootste fundamentele verskil tussen die opberging van moutgars en enige ander graan. Die vermoutingsbedryf het dus gars nodig wat die vereiste ontkiemings­persentasie met uitlaai haal, anders kan hulle nie die mout in die brouproses gebruik nie.

Tydens produsentelewering word graderingsver­eistes vir moutgars volgens die Wet op Landbouprodukstandaarde bepaal. Ontkiemingspersentasie is ook ’n graderingsvereiste van die verwerker, maar kan nie met inname bepaal word nie, omdat dit ’n tydsame proses in ’n laboratorium vereis. Tydens inname word gars gegradeer, maar ontkieming kan nie getoets word nie. Daar is dus geen waarborg dat dit aan die vereistes gaan voldoen wanneer dit opgeneem word vir vermouting nie. Die probleem is nie dat moutgars nie aan die graderingsvereistes voldoen nie, maar dat alle graderingspesifikasies nie tydens oesinname gemeet kan word nie.

’n Opberger moet aan die verwerker van moutgars kan waarborg dat dit met uitlaai aan die vereistes van die Wet op Landbouprodukstandaarde voldoen. Dit is heel haalbaar om aan die meeste van die vereistes te voldoen, behalwe aan die ontkiemingspersentasie. ’n Opberger weet egter nie voordat moutgars vir uitlaaidoeleindes voorberei word of dit aan die koper se ontkiemingsvereistes gaan voldoen nie. Die ontkiemingsenergie en -kapasiteit van moutgars moet vanaf die lewering daarvan deur produsente tot by die uitlaai daarvan aan verwerkers deur uitsonderlike goeie silobestuur behou word. Hierdie vereistes vir bykomende silobestuursinsette bring koste mee. Omdat moutgars “aan die lewe gehou moet word” om sy ontkiemingsvermoë te behou, vereis dit meer intensiewe bestuur as wat vereis word vir ander grane.

Groter opbergingsrisiko
Dit kom daarop neer dat die opberging van moutgars met ’n gro­ter risiko gepaard gaan as ander grane soos koring en mielies. Dit is ook een van die redes waarom silo’s vir moutgarsopberging teen addisionele koste spesiaal aangepas is om moutgars te hanteer en op te berg. Die ontkiemingsvermoë van enige saad is direk gekoppel aan die voginhoud en temperatuur waarteen dit opgeberg word. Vir hierdie doel moet moutgars wat in silo’s opgeberg word, se temperatuur met inname so spoedig moontlik verlaag word tot ’n aanvaarbare punt. Dit is dus uiters belangrik dat die voginhoud en temperatuur oor die tydperk van opberging reg bestuur word, onder meer met goeie deurlugting en temperatuurmonitering. Die tydperk van opberging kan vanaf vier maande tot ’n jaar en selfs langer duur.

Morfologiese samestelling
Die morfologiese samestelling van moutgars verskil van koring en dit alleen kan beteken dat die normale hanterings- en opbergings­koste vir moutgars hoër is as die van koring. Die relatiewe digtheid van gars verskil ook van ander graan soos koring, wat beteken dat minder tonne per kubieke meter opgeberg kan word. Dit verhoog opbergingskoste verder.

Kwaliteitstandaarde
Verdere faktore wat bydra tot die hoër koste van moutgarsopber­ging is die kwaliteitstandaarde soos vervat in die graderingspesifikasies van die koper. Gars moet per kultivar apart gestoor word en ook in verskillende stikstofbande.

Toenemende afkeurings van moutgars
Daar is verskeie aspekte wat ’n indirekte tot ’n direkte invloed het op afkeurings:

Strenger kwaliteitsvereistes
Strenger kwaliteisvereistes is die grootste drywer vir afkeurings. Hier speel ontkiemingsenergie- en -kapasiteitsvereistes die grootste rol.

Verbouingspraktyke en seisoenale klimaatsfaktore
Die tweede grootste oorsaak van afkeurings is kwaliteitsaspekte wat gekoppel is aan verbouingspraktyke en seisoenale klimaatsfaktore. Hiervan is te hoë of te lae stikstofvlakke, te lae vetkorrel­persentasie en gebarste pitte waarskynlik die grootste oorsake dat moutgars nie voldoen aan graderingspesifikasies nie.

Reënval, droogte en temperatuur speel in die onderskeie gewasstadiums ’n groot rol in die uiteindelike stikstofinhoud van gars wat vir moutdoeleindes gelewer word. Omdat die stikstofinhoud van moutgars met inname getoets word, is dit in ’n mindere mate ’n risiko vir opbergers. Reënval in oestyd is die ander groot risiko vir garsopberging. Dit kan die ontkieming van gars nadelig beïnvloed afhangende van die hoeveelheid reën en hoe lank die gars nat bly tydens en na die reën.

Natuurlike variasie
Dit gebeur wel soms dat natuurlike variasie in die produk veroorsaak dat stikstofafwykings voorkom, veral by die minimum stikstof van 1,5% en maksimum stikstof van 2%. Verliese weens te lae of te hoë stikstof is vir die opberger se rekening. Die verlies word grootliks deur die risikomarge ondervang, maar wanneer bo normale afkeurings soos die laaste twee seisoene plaasvind, is die risikomarge te min om vir die verliese te vergoed.

Druk van verwerkers
Die gedeelte van die moutgarswaardeketting wat produsente en opbergers insluit, ervaar toenemend druk vanaf verwerkers. Die graderingspesifikasies word al hoe nouer en die vereistes, groter koste en moontlike verliese wat hiermee gepaard gaan, wentel uiteindelik af na die produsent. So maak verwerkers ook minder toegewings of konsessies as in die verlede wanneer byvoorbeeld die stikstofinhoud van ’n betrokke seisoen aan die hoë of lae kant is. Moutgars word dus deesdae baie meer as in die verlede afgekeur, wat tot toenemende en potensieel groot verliese vir die opberger kan lei.

Hoë N-vlakke en lae ontkiemingspersentasie
Die hoër N-vlakke word aan droë produksietoestande toegeskryf – veral aan die einde van die seisoen. ’n Tekort aan vog met rypwording veroorsaak dat die proteïeninhoud en dus stikstof in die pit verhoog. Normaalweg wissel die stikstofinhoud van gars tussen 1,5% en 2%, maar vir die 2018- en 2019-produksieseisoene was die grootste gedeelte van die garsoes in die Wes-Kaap se stikstofinhoud tussen 1,85% en 2%. Dit wil voorkom of die hoë stikstofinhoud ’n negatiewe impak op die ontkiemingspersentasie het, aangesien daar nie in die vorige paar normale jare soveel afkeurings weens lae ontkiemingspersentasies was nie.

Risikomarge
Die rede vir ’n risikomarge in die garsbedryf is om die opberger te vergoed vir die risiko wat hy loop omdat ontkieming nie met inname gemeet kan word nie en gars soos enige saad sy ontkiemingskrag oor tyd kan verloor.

Soos reeds genoem, is daar ’n risiko dat die moutgars nie aan die koper se graderingsvereistes voldoen wanneer dit uitgelaai word nie. Hierdie risiko word deur die opberger gedra. In die geval waar moutgars afgekeur word, word dit na voergars afgegradeer. Die koper het aan die produsent ’n moutgarsprys betaal, die opberger moet dan die afgekeurde moutgars terugkoop en as voergars verkoop. Die verskil tussen die moutgars- en die voergarsprys is vir die opberger se rekening.

Om die risiko van verliese weens afkeurings te ondervang, word daar ’n risikomarge aan die opberger betaal. Die risikomarge word bepaal op grond van die geskiedenis en voorkoms van afkeurings. Die afgelope twee seisoene was daar aansienlik meer afkeurings en die huidige risikomarge is nie voldoende nie.

Daar is tans geen versekeraar in landbou wat bereid is om die risiko te verseker nie. Opbergers is dus genoodsaak om te probeer bepaal wat die verlies oor die langer termyn gaan wees en daarvolgens ’n risikomarge te bepaal wat die moontlike verliese kan opmaak. Die risikomarge word gewoonlik van die produsenteprys van moutgars verhaal.

Huidige risikomarge is onvoldoende
In die Suid-Kaap was die risikomarge voldoende, behalwe in die 2012- en 2013-produksiejaar, toe daar reënval in oestyd was en die bedryf groot verliese gely het. In die 2018-produksiejaar was die risikomarge nie voldoende om opbergers te vergoed vir afkeurings en gepaardgaande verliese nie.

Die risikomarge is ’n bykomende koste wat bo en behalwe die normale koste aan gradering, hantering en opberging van moutgraan gehef word. Daar is ook ander bykomende hanteringskoste wat nie by die hantering en opberging van ander grane nodig is nie.

Ten spyte van die toename in risiko weens afkeurings die laaste twee jaar en toename in die produsenteprys van gars, is die risikomarge oor die afgelope paar jaar nie aangepas nie. Sommige opbergers het ’n bykomende risikomarge van hul kliënte vereis, terwyl ander dit nie gedoen het nie. Die wat dit nie gedoen het nie, is ontmoedig om moutgars op te berg en hulle mag verkies om dit nie meer te doen nie.

Al wat gedoen kan word om hierdie risiko vir verliese te beperk, is om ’n groter risikomarge te verhaal. Opbergers kan dit nie as ’n diensverskaffer van die verwerker verhaal nie, maar kan dit net van die kliënt wat die gars by hom in opberging hou tot die verwerker instruksie gee om die gars uit te laai, verhaal. Daar moet onderskeid gemaak word tussen die opbergingsrisiko wat die opberger dra (en wat sy oorsprong in opberging het) teenoor gars wat van die staanspoor af met ’n hoë N-inhoud by die silo gelewer is.

Die verskil tussen die moutgars- en voergarsprys vir die 2018-oes wat in 2019 en 2020 verwerk is, is ongeveer R2 200/ton. Die finansiële verlies vir opbergers weens die hoeveelheid moutgars wat hulle verloor het, is ver bo die totale bedrag wat deur die risikomarge ingevorder is. Die grootste gedeelte van die afkeurings kan nie aan opberging toegeskryf word nie. Die afkeurings was hoofsaaklik weens hoë stikstofvlakke en ’n te lae ontkiemingspersentasie.

Goeie samewerking en vertroue al uitweg
Dit is dus duidelik dat garsverbouing en -opberging sowel as die verwerking daarvan nie so eenvoudig soos die van ander grane is nie.

Goeie samewerking en vertroue in die totale waardeketting (vanaf produsent en opberger tot by verwerker) is noodsaaklik om die verbouing, opberging en verwerking van moutgars te optimaliseer sodat elke rolspeler volhoubaar sy gespesialiseerde funksie kan verrig. Mededinging neem toe en dit word toenemend van elke deelnemer in die waardeketting vereis om meer produktief en kos­tedoeltreffend te wees. Die kwaliteitstandaarde van kopers word strenger en maatreëls om voedselveiligheid te verseker dra ook tot hoër koste by.

Opbergers is dus minder geneë daartoe om moutgars op te berg. In die binneland is daar alternatiewe gewasse wat verbou en opgeberg kan word, maar vir produsente en opbergers in die Wes-Kaap is alternatiewe gewasse om te verbou wat vir opberging geskik is, beperk.

Samevatting
Die opberging van moutgars hou wesenlik meer risiko’s in as die van ander grane. Berging van moutgars is boonop duurder as dié van ander graan, omdat dit vir ’n periode van tussen vier tot twaalf maande aan die lewe gehou moet word. Ook is dit nie regverdig dat die opberger vir die kwaliteitsrisiko’s wat ontstaan weens produksiepraktyke en klimaatsfaktore tydens produksie moet instaan nie. Die opberger behoort net verantwoordelik te wees vir risiko’s wat ontstaan weens praktyke wat aan die opberging van die graan gekoppel kan word. Die risikomarge ondervang ’n gedeelte van die risiko’s verbonde aan garsopberging, maar is nie voldoende vir jare waar daar bo gemiddelde afkeurings is nie. Gegewe die afkeurings in 2018 en 2019 is die risikomarge onvoldoende om die opbergings­risiko’s waaraan opbergers blootgestel is, te ondervang. Weens die bykomende bedryfsfunksies wat nodig is vir die opberging van gars sal die opbergingskoste daarvan in verhouding tot koring en hawer altyd duurder wees.

Bronne
Afgri, Agbiz Grain, GWK, Senwes, Overberg Agri en SSK.