Komende seisoen dalk ’n inhaalkans vir produsente

Gepubliseer: 7 September 2020

229
Petru Fourie,
landbou-ekonoom en
navorsingskoördineerder,
Graan SA

Landbou in Suid-Afrika het die afgelope paar produksieseisoene baie wisselvallige klimaatsomstandighede ervaar, wat strek vanaf uiterste droogtes met besonder hoë temperatuureenhede tot rekordoeste met reën wat net op die regte tyd voorgekom het.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se jongste syfers, het die nasionale ekonomie met 2% ingekrimp, terwyl die ekonomie van landbou met 27,8% gegroei het. Indien daar slegs op die graan- en oliesaadgewasse gefokus word, is die mielie-oes sowat 38% hoër as verlede jaar, terwyl die sonneblom- en sojaboonoes onderskeidelik met 16% en 8% groter is. Afgesien daarvan dat die afgelope seisoen onthou sal word as ’n jaar waar gunstige klimaatsomstandighede voorgekom het, het somergraanpryse ook op relatief hoë vlakke verhandel, wat die graanekonomie oor die algemeen mooi ondersteun het.

Wanneer die beraamde produksiekoste vir somergraangewasse bepaal word, is dit belangrik om te let op die reënvoorspelling vir die seisoen. Weervoorspellers is optimisties oor die komende seisoen, nadat bekendgemaak is dat ’n La Niña-patroon besig is om te versterk. ’n La Niña kan ’n redelik goeie reënvalseisoen oor die somerreënvalgebied tot gevolg hê. Weens dié hoë waarskynlikheid van bo normale reënval, kan goeie oeste geproduseer word wat weer druk op plaaslike pryse kan plaas.

Samestelling van begrotings
Met die 2020/2021-seisoen wat naderkruip, is dit weer tyd om somme te maak. Die ontleding van bruto marges is ’n algemene en gewilde manier om die relatiewe winsgewendheid van graangewasse binne ’n boerdery met mekaar te vergelyk. Hierdie artikel gee ’n riglyn oor die winsgewendheid van mielies teenoor die van sonneblom en sojabone. Die verantwoordelikheid berus steeds by elke produsent om sy eie brutomargeberekening te doen.

Produksiekoste verskil radikaal van buurman tot buurman weens elke graanprodusent se eie unieke stelsel, die tipe boerderyeenheid en produksiepraktyke. Alhoewel hierdie as ’n goeie maatstaaf dien, word elke produsent aangeraai om sy persoonlike somme te maak en daarvolgens besluite te neem wat die beste vir sy omgewing en situasie is.

Kommoditeitspryse
Die moeilikste deel met die oog op die opstel van die somergraanbegroting is om die prys van die kommoditeit vir die komende jaar te voorspel. Die Safex-vooruit-termynkontrak wat in die berekeninge gebruik is, is as volg:

  • Mielies vir lewering in Julie 2021 = R2 700/ton
  • Sonneblom vir lewering in Mei 2021 = R5 850/ton
  • Sojabone vir lewering in Mei 2021 = R6 250/ton

Die 2021-termynpryse is bepaal deur die gemiddelde prys sedert die begin van verhandeling, vir daardie spesifieke kontrakmaand, te bereken. Met die inagneming van die vervoerdifferensiaal, hanteringskoste en bemarkingskommisie is ’n produsenteprys bereken.

Opbrengs
’n Ander moeilike faktor om te bepaal tydens die opstel van begrotings, is die bepaling van die opbrengs van die gewas vir die komende jaar, as gevolg van die onsekerheid van klimaatstoestande. Tydens die vergelyking van gewasse se winsgewendheid heers vrae oor watter opbrengsscenario’s vir elke gewas gebruik moet word: Byvoorbeeld, indien ’n gemiddelde opbrengs van 4 t/ha vir mielies gestroop sou word, wat is die gelyke opbrengs wat vir sonneblom of sojabone in dieselfde klimaat en grond behaal sou kan word? Agronome en kundiges in die bedryf is geraadpleeg met die bepaling van die verskillende gewasse se vergelykende opbrengsscenario’s.

Gewasse
In hierdie artikel word gepoog om ’n aanduiding van die verskil in winsgewendheid tussen die drie vernaamste somergewasse – mielies, sonneblom en sojabone – te illustreer. Die bruto marges vir grondbone en sorghum word ongelukkig nie in hierdie artikel vergelyk nie, aangesien die grootte van die mark vir die laasgenoemde gewasse baie beperk is. Volgens berekeninge blyk graansorghum meer winsgewend as mielies in die meeste van die omgewings te wees, maar produsente moet daarop let dat sorghum nie sonder ’n kontrak aangeplant moet word nie.

Insetpryse
Omdat produsente prysnemers aan die inset- sowel as uitsetkant is, kan hoër insetkoste nie bloot net aan verbruikers deurgegee word nie. Produsente word dus gedwing om prysstygings te absorbeer. Volgens Graan SA se berekeninge het mieliesaadpryse vir die 2020/2021-produksieseisoen gemiddeld met 2,2% en sonneblomsaadpryse gemiddeld met 5,8% gestyg, terwyl sojaboonsaadpryse met 6,8% gedaal het. Verskillende aannames word met die opstel van die begrotings gemaak. In die geval van kunsmis (die grootste deel van ’n produsent se veranderlike koste) is ’n gemiddeld van al die kunsmismaatskappye se pryslyste vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) bereken en in die begrotings geïnkorporeer. Op ’n gemiddelde basis het die samestelling van N, P en K in die mieliebegrotings ’n skrale jaar-op-jaar-daling getoon, terwyl sekere chemiese produkte tot en met 10% gestyg het. Met die berekening van byvoorbeeld brandstofkoste is vooruitskattings met behulp van toekomstige rand/dollar-wisselkoerse en toekomstige ruoliepryse vasgestel (September 2020, Desember 2020 en Junie 2021). Die toekomstige brandstofprys is baie moeilik om te bepaal, maar die verwagting is dat pryse relatief sywaarts behoort te beweeg. Geen kortings is in ag geneem tydens die opstel van die begrotings nie.

Kostestruktuur van begrotings
Die kostestruktuur van die begrotings is uit veranderlike en vaste koste saamgestel. In die begrotings is veranderlike koste byvoorbeeld saad, kunsmis, onkruiddoder en diesel.

Hierdie koste verander soos daar meer of minder van die inset gebruik word. Die afgelope jare is heelwat nuwe veranderlike koste tot die begrotings bygevoeg, soos verskansingskoste, bemarkingskoste en oesversekering, om net ’n paar te noem. Indien sekere koste nie gebruik word nie, kan dit van die totale veranderlike koste afgetrek word. Die vaste of oorhoofse koste is uitgawes wat aangegaan moet word of daar geproduseer word of nie. Alhoewel vaste koste drasties van produsent tot produsent verskil, word ’n x-bedrag daarvoor voorsiening gemaak om ’n beraamde totale produksiekoste te bereken. Hierdie koste moet by die veranderlike koste per hektaar getel word om die totale produksiekoste te bereken.

Vergelyking vir 2020/2021-produksieseisoen
In die tabelle word die beraamde produksiekoste (veranderlike sowel as vaste koste) vir die komende produksieseisoen (2020/2021) uiteengesit. Die tabelle en grafieke vergelyk die insetkoste per item, gelykbreekpryse en opbrengste asook bruto marges met mekaar.

Oostelike produserende streek
In Tabel 1 word die produksiekoste vir die oostelike dele van die land (Oos-Vrystaat en oostelike Hoëveld) uiteengesit. Die produksiekoste van mielies, sonneblom en sojabone met hul onderskeie opbrengsmikpunte word vir die Oos-Vrystaat vergelyk, terwyl slegs mielies en sojabone in die oostelike Hoëveld vergelyk word. Volgens Graan SA se produksiekosteberekeninge beloop die veranderlike koste om mielies in die Oos-Vrystaat vir ’n 5,0 t/ha-opbrengsmikpunt te produseer ongeveer R9 718/ha, terwyl dit ongeveer R11 560 vir ’n 6,0 t/ha-opbrengsmikpunt in die oostelike Hoëveld is. Indien dié Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (uitgesluit vaste koste) realiseer, moet ’n produsent in die Oos-Vrystaat 4,08 t/ha stroop om gelyk te breek, waar ’n produsent in die oostelike Hoëveld 4,73 t/ha moet stroop. Wanneer die gelykbreekopbrengste vir die totale koste (ingesluit vaste koste) egter bereken word en die totale koste van ’n mielieprodusent (byvoorbeeld in die Oos-Vrystaat) nie gedek kan word nie, raak dit ’n ernstige probleem en bekommernis.

Tabel 1 illustreer verder die uiteensetting van insetkoste vir die verbouing van sojabone en sonneblom. Aannames wat met die opstel van die sojaboonbegroting gemaak is, is dat 50% van die saad deur produsente teruggehou is, terwyl die ander 50% gesertifiseerde saad is. Die begroting sluit ook ’n koste vir N, P en K in. Gegewe die insetkoste (vaste plus veranderlike koste) soos wat in Tabel 1 vir sojabone aangetoon is en die gemelde Safex-prys moet ’n opbrengs van ongeveer 1,54 t/ha in die Oos-Vrystaat en 1,57 t/ha in die oostelike Hoëveld behaal word om gelyk te breek.

Alhoewel sonneblom op klein skaal in die Oos-Vrystaat aangeplant word, lyk die winsgewendheid relatief goed en kan die gelykbreekopbrengs en Safex-prys in Tabel 1 gesien word.

Grafiek 1 toon die inligting soos geïllustreer en bereken in Tabel 1 in grafiekformaat. In Grafiek 1 word ’n brutomargevergelyking (blou staaf – slegs veranderlike koste) sowel as ’n nettomargevergelyking (rooi staaf – veranderlike plus vaste koste) tussen dié gewasse getoon. Opsommend toon die grafiek dat somergraanverbouing in die oostelike dele van die land grotendeels winsgewend is en dat die verwagte hoër kommoditeitspryse vir die komende seisoen winsgewendheid oor die algemeen ondersteun. In die grafiek is dit opmerklik dat sonneblom en sojabone se winsgewendheid beter as dié van mielies is. Die winsgewendheidsituasie vir oliesade vertoon dus beter as die van mielies.

Grafiek 1: Margevergelyking tussen gewasse vir die Oos-Vrystaat en oostelike Hoëveld.

Westelike produserende streek
In Tabel 2 word beraamde produksiekoste vir die westelike dele van die land deurgegee (Noordwes en Noordwes- sentrale Vrystaat) uiteengesit, terwyl Grafiek 2 weer eens die brutomarge- en nettomargesituasie vir die westelike dele van die land illustreer.

Alhoewel Tabel 2 en Grafiek 2 nie in detail bespreek gaan word nie, is die kernpunt dat sonneblom (op papier) ’n staatmakergewas vir Noordwes bly, alhoewel die voorkoms van siektes (spesifiek Sclerotinia) sonneblomopbrengste die laaste paar seisoene uiters negatief geaffekteer het. Volgens berekening en indien die Safex-pryse realiseer, blyk somergraanverbouing in die westelike dele van die land oor die algemeen relatief winsgewend te wees, behalwe waar mielies op gronde met marginale opbrengspotensiaal aangeplant word en wanneer totale insetkoste (vaste koste plus veranderlike koste) in berekening gebring word.

Grafiek 2: Margevergelyking tussen gewasse vir Noordwes en Noordwes- sentrale Vrystaat.

Besproeiing
Wanneer die koste per hektaar tussen droëland en besproeiing vergelyk word, is daar ’n aansienlike verskil. Die verskil in veranderlike koste is hoofsaaklik weens die hoër plantdigtheid onder besproeiing, wat ’n verhoging in saad- sowel as kunsmiskoste tot gevolg het. Buiten die genoemde insetprysstygings gaan ’n besproeiingsprodusent gebuk onder ander koste wat onder meer elektrisiteit, water en spilpuntonderhoud insluit. Tabel 3 dui die beraamde produksiekoste vir besproeiingsgewasse vir die Noord-Kaap en Limpopo vir die komende seisoen (2020/2021) aan.

Volgens berekeninge is die veranderlike koste om mielies onder besproeiing vir ’n 14,0 t/ha-opbrengsmikpunt in die Noord-Kaap te produseer ’n skokkende R29 480/ha, terwyl dit sowat R23 595 vir ’n 12,0 t/ha-opbrengsmikpunt in Limpopo is. Indien die Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (slegs veranderlike koste) realiseer, moet ’n besproeiingsprodusent in die Noord-Kaap sowat 12,63 t/ha stroop, terwyl die gelykbreekpunt in Limpopo rondom 9,55 t/ha is. Volgens dié syfers is dit duidelik dat produsente hulle veranderlike koste vir mielies sal kan dek, maar die prentjie lyk heelwat anders indien die vastekostekomponent in berekening gebring word. Met inagneming van die vaste koste is mielieproduksie onder besproeiing besonder uitdagend en moet bo gemiddelde opbrengste behaal word.

In Grafiek 3 word die marges tussen verskillende gewasse weer eens getoon, nou net onder besproeiing. Opsommend toon die grafiek dat sojabone se winsgewendheid beter as dié van mielies is.

Grafiek 3: Margevergelyking tussen gewasse onder besproeiing vir die Noord-Kaap en Limpopo.

Slotsom
Die winsgewendheid van enige gewas is ’n funksie van die kommoditeitsprys, opbrengs en produksiekoste. Indien enige van hierdie faktore gevolglik verander, verander die winsgewendheid van die bepaalde gewas. Weens die Safex-mielieprys wat tydens die skryf van hierdie artikel teen ’n gemiddeld van ongeveer R2 700/ton die komende seisoen verhandel, is mielieproduksie oor die algemeen relatief winsgewend. Behalwe dat mieliepryse teen relatief goeie vlakke verhandel, word relatief goeie sonneblomen sojaboon-Safex-pryse vir die komende seisoen verwag. Dis nie algemeen dat al die pryse van die somergraangewasse op relatief hoë vlakke verhandel nie en dus heers daar ’n groot dankbaarheid vir die beter graanekonomiesituasie waarin die bedryf homself bevind.

Voordelige landboutoestande die komende seisoen kan lei tot goeie gemiddelde mielie-oeste. Indien ’n surplus geproduseer word, kan dit pryse volgende jaar met strooptyd onder druk plaas en nader aan uitvoerpariteit laat verhandel. Verder word daar wel verwag dat ’n uitbreiding in sojaboonhektare die komende seisoen kan realiseer weens die beter winsgewendheidsituasie.