Bonormale reën voorspel vir dié kusgebiede

Gepubliseer: 17 April 2020
Cobus Olivier, wetenskaplike: Voorspellingsnavorsing, Suid-Afrikaanse Weerdiens

2519

Soos die herfs inbeweeg, begin ons kyk na die vroeë winter se seisoenale voorspellings, spesifiek vir die winterreënvalareas in die suidwestelike gedeeltes van die land. Vir herfs (Maart-April-Mei; Figuur 1 links) word daar bonormale reënval vir die sentrale en oostelike kusgebiede verwag, maar ondernormale reënval elders. Reënval in hierdie tydperk verlaag gewoonlik drasties oor die somerreënvalgebiede in die noord-ooste, maar beduidende reënvalsyfers is normaal oor die suidelike kusgebiede. Grootliks ondernormale reënval word verwag vir die suidelike kusgebiede.

In die laat herfs (April-Mei-Junie; Figuur 1 middel) en vroeë winter (Mei-Junie-Julie; Figuur 1 regs) wys voorspellings op bonormale reënvalomstandighede in die suidwestelike gedeeltes, waar reënval weer drasties begin verhoog soos daar nader aan die wintermaande beweeg word. Daar is ongelukkig onsekerheid oor seisoenale voorspellings van reënval gedurende die wintertydperk, aangesien voorspellingstelsels se vaardigheid relatief laag is in vergelyking met somer- seisoenale voorspellings, wat baie beter is.

Temperatuur
Die temperatuurvoorspellings dui aan dat dit meestal warmer as normaal sal wees gedurende die middagperiodes, soos aangedui in die maksimumtemperatuurvoorspellings (Figuur 2). Die aand- en oggendtemperature vir die sentrale gedeeltes van die land sal weer kouer as normaal wees – aangedui deur die minimumtemperatuurvoorspellings (Figuur 3). Temperature begin ook normaalweg gedurende herfs drasties val en dit moet in ag geneem word vir die voorspelling van warmer temperature.

Figuur 1: Reënvalvoorspellings vir Maart-April-Mei (MAM), April-Mei-Junie (AMJ) en Mei-Junie-Julie (MJJ). Kaarte wys die waarskynlikheid van bonormale (groen) en ondernormale (bruin) reënval relatief tot die klimatologie.
Figuur 2: Maksimumtemperatuurvoorspellings vir Maart-April-Mei (MAM), April-Mei-Junie (AMJ) en Mei-Junie-Julie (MJJ). Kaarte wys die waarskynlikheid van bonormale (rooi) en ondernormale (blou) temperatuur relatief tot die klimatologie.
Figuur 3: Minimumtemperatuurvoorspellings vir Maart-April-Mei (MAM), April-Mei-Junie (AMJ) en Mei-Junie-Julie (MJJ). Kaarte wys die waarskynlikheid van bonormale (rooi) en ondernormale (blou) temperatuur relatief tot die kli­matologie.