Herstel balans in dié debat

Gepubliseer: 9 April 2020

1207
Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

Ek skryf hierdie hoofartikel terwyl ek in die vliegtuig sit. Oorkant my sit drie jongmense. Een dra ’n koronavirus-masker en hulle bestel vegetariese toebroodjies, nie vleis nie. Dalk is hulle bang vir voëlgriep of hulle meen hulle gaan die planeet red as hulle minder vleis eet. Dit is nie onbekende tendense by ons nuwe geslag mense nie.

Al drie dra oorfone en hulle lyftaal wys hulle wil niks met die res van die wêreld om hulle te doen hê nie. Ek sien die een geniet nogal sy bier; wonder of hy weet dit word van gars gemaak.

Landbou kan nie anders as om kennis te neem van hierdie verbruikerspatrone nie, maar die vraag is hoeveel tyd ons daaraan moet spandeer om die mense die voor-die-hand-liggende goed te leer. Is dit ’n kwessie van die een doen en die ander nie nalaat nie? Die winsmotief en volhoubaarheid dwing alreeds elke produsent om na sy insette en die planeet te kyk. Ons wil tog immers almal sien dat ons nageslag ook beleef hoe dit voel om die aarde te bewerk en ander van kos te voorsien.

Die druk oor ons produksiemetodes en die insette wat ons in die proses gebruik, raak al hoe groter. Hierdie oorfoongenerasie wil op verpakkings en hul fone kan sien waar alles vandaan kom en hoe dit geproduseer is. My vraag is egter wat die balans in die debat gaan herstel. Solank as wat daardie geslag vir hulle kos kan betaal, gaan hulle dikteer hoe ons dit moet produseer. Hulle verwagtinge hou egter min verband met die koste van produksie. Die koste om GM- en nie-GM-graan apart te produseer, op te berg en te verwerk, raak onbekostigbaar vir gewone mense. Dus voorsien ek dat die twee strome in die toekoms duideliker gaan word en dat dit met prys onderskei gaan word.

Produsente se dilemma is dat die verbruiker wat kan betaal, hulle waarskynlik in ’n blik gaan druk om die hele oes op ’n duurder manier te produseer. Dan moet enige surplusse in ’n mark verkoop word wat nie vir daardie duur prosesse kan betaal nie. Die alternatief is om net op die marksegment te fokus waar prys die belangrikste faktor is en wat – sonder oorfone – na die gehuil van honger kinders moet luister en plan moet maak om hulle te voed. ’n Minimum basiese voedselveiligheid is almal se reg, maar vir die res gaan die verbruiker vir sy geite en onkunde oor landbouproduksie moet betaal. Jy kan heeldag vir ’n mielieplant WhatsApp’s stuur dat hy sy pitte vierkantig moet maak sodat dit makliker kan maal, maar of daai papboom vir jou gaan luister, is ’n ander saak!

My paaie het die afgelope week met twee groepe wêreldleiers in die landbou gekruis. Die leierskap van PepsiCo het Suid-Afrika besoek en na hulle nuutste toevoeging (Pioneer Foods) kom kyk. Die maatskappy se jaarlikse omset is een duisend miljard rand! ’n Baie indrukwekkende bedrag as ’n mens dink die hele Suid-Afrika se begrote inkomste is ’n bietjie meer as een en ’n half duisend miljard rand. Wat my egter meer beïndruk het, was die leiers se wêreldburgerskap (global citizenship). Hulle verantwoordelikheidsin en vermoë om bo die plaaslike landspolitiek uit te styg, was verstommend. Iemand wou nog terugkrap na die verlede, toe word hulle vierkantig in hulle spore gestuit en op die toekoms gerig. Hulle het die gesprek behendig gestuur in die rigting van die “koalisie van gewilliges” om die wêreld vorentoe te neem. Dit was vars!

’n Ander wêreldleier van Syngenta wat Suid-Afrika besoek het, was by die opening van die 2020 Leadership Academy for Agriculture (voorheen die Graanakademie). Hy het ons jong leiers kom motiveer om die probleme van ons tyd aan te pak: aardverwarming, geopolitieke probleme en die swak winsgewendheid van die landbousektor wêreldwyd. Dit was vir my goed om te weet daar is nog ander mense in die wêreld wat saam met ons oplossings soek en nie net probleme veroorsaak nie.