Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 21: Fluweelboon (Mucuna pruriens L.)

929

Hierdie artikel is die 21ste in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplante weiding-rotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word.

Dit is noodsaaklik om ’n plantspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel. Hierdie artikel fokus op ’n dekgewas met weidingsgewaspotensiaal wat gebruik word om grondtoestande te verbeter en hoëgehalteweiding vir herkouers te verskaf.

Mucuna pruriens (L.), fluweelboon of velvet bean

Fluweelboon is ’n slingerende eenjarige peulgewas wat tot 7 m lank kan word. Daar is twee algemene variëteite, M. pruriens var. pruriens en var. utilis. Hierdie spesie is ’n baie bekende groenbemesting en dekgewas.

Fluweelboon is baie sterk en sy groei onderdruk metgeselspesies. Indien fluweelboon in ’n tussenverbouingstelsel gekweek word, moet dit verkieslik ten minste 45 dae ná die ander gewas – veral ’n gewas soos mielies – gesaai word om tussenspesiemededinging te oorkom.

Agro-ekologiese verspreiding

Mucuna pruriens kan subtropies of tropies wees. Hierdie spesie groei in talle verskillende habitats, wat weiding, die rand van woude, langs paaie, op rivierwalle of selfs in beboste gebiede insluit. M. Prurienskan by goed-gedreineerde sandgrond asook kleigrond aanpas.

Hierdie spesie is nie droogtebestand nie, aangesien dit ’n vlak wortelstelsel het, en dit aard ook nie goed in versuipte toestande nie. Fluweelboon vereis ’n lang groeiseisoen en is sensitief vir ryp. Dit vereis dus ten minste 180 rypvrye dae. Aangesien die spesie nie in koue, nat grond aard nie, moet dit indien dit as ’n gewas aangeplant word, nie geplant word voordat die grond warm temperature bereik het nie.

Aangesien fluweelboon nie temperature onder 5°C kan hanteer nie, word temperature van 20°C tot 30°C tydens die groeiseisoen aanbeveel. ’n Ideale grond-pH om fluweelboon suksesvol te kweek, is 5 tot 6,5 in ligte, sanderige leemgrond. M. puriens is aanpasbaar by ’n wye reënvalstrek van so laag as 400 mm tot >1 200 mm.

Fluweelboon lyk belowend in ’n vroeë vegetatiewe stadium.
Fluweelboon in ’n laat vegetatiewe stadium.

Bestuur en benutting

Mucuna pruriens staan bekend as ’n algemene voergewas met groot waarde. Hierdie spesie is bekend vir sy verstommende onkruidbeheervermoëns. Die algemeenste gebruik van fluweelboon is as ’n dekgewas en groenbemesting.

Dit word algemeen gebruik om grond wat met onkruid vervuil is, te herwin. Wanneer fluweelboon aangeplant word, is daar nie ’n groot mate van grondvoorbereiding nodig nie en verkieslik met geenbewerking. Die beste metode om fluweelboon te plant, is om dit in die grond te plant met ongeveer 1 m tussen rye en 20 cm tot 80 cm tussen plante (20 kg/ha tot 40 kg/ha saad). Sade is groot, dus kan die saaddiepte soveel as 10 cm wees, maar nie minder as 3 cm nie. Saad hoef nie geskuur of met Rhizobium geïnokuleer te word voordat dit geplant word nie.

Hierdie spesie word ook dikwels as tussengewas saam met mielies gebruik en word dan gelos om te groei nadat die mielies geoes is om die grond se vrugbaarheid in stand te hou en te verhoog voordat die volgende seisoen se gewas gevestig word. Die beste opsie is om fluweelboon gedeeltelik saam met mieliereste of ander dekgewasse te bewei om herkouers in ’n subtropiese gebied deur die droë winterseisoen te onderhou.

Fluweelboon het ’n hoë droëmateriaalproduksie vir ’n subtropiese peulgewas. Opbrengste wissel van 5 t/ha tot 13 t/ha, afhangend van die reënval. Aangesien dit bekend is dat grondfosfaat (P) ’n belangrike groei-element vir peulgewasse is, kan fluweelboon hoë opbrengste lewer, selfs in marginale grond met ’n lae beskikbare P-waarde.

Beëindig die dekgewas deur dit op ’n laat vegetatiewe stadium (einde van Februarie) te rol.
Peule van die fluweelboon.

Grondbewaring en -gesondheidsvoordele

Fluweelboon is weerstandig teen die aanvalle van sekere plae en siektes as gevolg van die inhoud van toksiese sekondêre metaboliete, wat aan hierdie spesie die vermoë gee om onkruid te klop. Navorsing het ’n beduidende toename in organiese materiaal getoon wanneer fluweelboon as dekgewas gebruik word. Die grond se voginhoud het ook met 20% tot 30% toegeneem, en ’n hoër katioon-uitruilvermoë, laer pH, laer skyndigtheid en ’n vermindering in mikrovoedingstof-herwinning getoon.

Terselfdertyd is ’n vermindering gedokumenteer in die skade en mortaliteit wat deur Pythium, Rhizoctonia en Fusarium op mieliesaailinge veroorsaak word, waarskynlik as gevolg van die tipe organiese materiaal wat by die grond gevoeg word, en die uitwerking daarvan op die grond se mikroklimaat en/of die allelopatiese uitwerking (Versteeg & Koudokpon, 1990).

Bestuursuitdagings

Hoewel fluweelboon gebruik word om onkruid in ’n landbou-omgewing te beheer, is dit ’n indringerspesie en kan ’n negatiewe impak op omgewings buite die aanplantingsgebied hê. ’n Paar landbounadele van fluweelboon sluit in:

  • Dit is vatbaar vir brand tydens die droë seisoen van die jaar, veral wanneer dit geplant word in gebiede wat deur middel van kap-en-brand bestuur word.
  • Dit word deur sommige knaagdiere ontblaar.
  • Dit kan sekere insekte lok wat sap uitsuig.

Wanneer ’n peulgewas soos M. pruriens saam met of tussen mielies gekweek word, verminder die mielie-opbrengs dikwels in die eerste siklus. Die erns van hierdie vermindering hang af van die peulgewasspesie en die digtheid en bestuur daarvan.

As gevolg van die gebrek aan ’n gewas om die stikstof te absorbeer wat deur ontbinding vrygestel word, is verlies van stikstof in die grond as gevolg van loging en vervlugtiging in navorsingsprojekte aangeteken. Dit beteken dat die stikstof geïmmobiliseer is juis op die tydstip wanneer die gewas die grootste vraag na hierdie voedingstof het.

Diereproduksie-aspekte

Ten spyte daarvan dat fluweelboon so ’n nuttige voergewas is, kan die sade dikwels vir soogdiere toksies wees, met gevalle wat by varke aangemeld is. Hierdie redelike hoëproteïenvoer (groenmateriaal en peule) kan deur die meeste lewende hawe buiten varke en hoenders geëet word, aangesien die sade ’n teenvoedingsfaktor bevat wat die groei van nieherkouers vertraag.

Afhangend van die stadium van volwassenheid is die ru-proteïeninhoud van die droë blare tussen 10% en 25% en 20% en 35% in die graan. Fluweelboon se verteerbaarheid is 60% tot 65%. Talle verslae dui aan dat M. pruriens ’n lae smaaklikheid of ’n uiters hoë smaaklikheid het, en dit hou dikwels verband met die klimaatstoestande waarin dit gekweek word, en dit word verder geraak deur die manier waarop dit bestuur en benut word.

Gevolgtrekking

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat Mucuna pruriens die funksionele eienskappe van ’n agro-ekostelsel sal verhoog, wat die produktiwiteit daarvan deur die biobeheer van onkruid en siektes sal verhoog, benewens die opbou van organiese materiaal (OM) en N in die grond.

Fluweelboon het ook getoon dat grondlewe verbeter kan word, en wanneer grond se eienskappe verander, sal grondvog en temperatuur beter gereguleer word en die grond sal teen erosie beskerm word. Beter graanoeste kan uiteindelik ook met tussenverbouing en/of multi-spesiedekgwasse verkry word. Alternatiewelik, wanneer fluweelboon as dekgewas gebruik word, kan dit gedurende die droër seisoen gedeeltelik deur herkouers bewei word om hulle groei te handhaaf.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Versteeg, MN & Koudokpon, V. 1990. Mucuna helps control Imperata in southern Benin. pp. 7 – 10, Bulletin 7, West African Farming Systems Research Network: Benin, Africa