Beheer van onkruide in mielies en koring – Deel 11: Radiatorbossie

1944
Saailing.
Volwasse radiatorbossie.
Digte stand van radiatorbossies.
Blommetjie, vrugpluis en saad.

Wetenskaplike naam: Senecio consanquineus
Afrikaanse naam: Radiatorbossie, Hongerbos-Senecio
Engelse naam: Ragwort, Starvation Senecio

Kort beskrywing

Plante is heldergroen, vertakte, halfkruidagtige bossies en groei regop tot ‘n hoogte van ongeveer 80 cm. Stingels is yl behaard, groen, met bruin strepe. Blare het kenmerkende skerp, getande rande en beide oppervlaktes het kort, klewerige haartjies, stamloos, stingelomvattend, geoord en tot 9 cm lank en 2 cm wyd. Blommetjies is eindstandig en word gedra in langwerpige hofies met heldergeel blare. Die vrugpluis is nou silindervormig, ligbruin, gerib met wit borselhare op die ribbe, soms gebuig en tot 4 mm lank en 0,5 mm breed. Die wit borselhare val vroeg af en word maklik deur wind versprei.

Verspreiding

Senecio spp. is inheems en kom wydverspreid in Suid-Afrika voor. Ander bekende species is S. madagascariensis wat meer in die oostelike dele van die land voorkom en S. latifolius wat hoofsaaklik in KwaZulu-Natal voorkom.

Radiatorbossie plant slegs met saad voor en is ‘n vlak ontkiemer. Dit is ‘n winteronkruid wat vroeg in die herfs ontkiem en tot digte stande kan ontwikkel nadat oeste van lande afgehaal is.

Beheer

Bewerking
Vlak grondbewerking kan effektiewe beheer verskaf.

Chemies
Radiatorbossies kan met na-opkoms onkruiddoders beheer word. Onkruiddoders geregistreer vir die beheer van radiatorbossie in koring en mielies is gelys in Tabel 1 en Tabel 2. Radiatorbossie kan ook algeheel gespuit word met ‘n sistemiese onkruiddoder, soos glifosaat, of ‘n kontakdoder, soos paraquat, nadat die gewas klaar geoes is.

TABEL 1: Onkruiddoders geregistreer op mielies vir die beheer van radiatorbossie.

Aktiewe bestanddeel Formule Tyd van toediening
bendioxide 480 g/liter Na-opkoms van onkruid
terbutilasien /s-metolachlor 497.2 / 102.8 g/ℓ Voor-opkoms en vroeg na-opkoms van die onkruid

 

TABEL 2: Onkruiddoders geregistreer op koring vir die beheer van radiatorbossie.

Aktiewe bestanddeel Formule Tyd van toediening
bendioxide 480 g/liter Dien toe op jong, aktief-groeiende onkruide
chlorsulfuron 400 g/kg Dien toe wanneer gewas in twee- tot vyfblaar-stadium is
chlorsulfuron/metsulfuroon-metiel/tribenuron metiel 119/79/222 g/kg Dien toe wanneer koring in vier- tot sesblaar-stadium is
dicamba 700 g/kg Slegs vir gebruik in tenkmengsels met Enhancer (10 g – 12 g) en Reaper (10 g) en ‘n benatter
metsulfuroon-metiel 200 g/kg

600 g/kg

Dien toe wanneer gewas in drie- tot vyfblaar-stadium is
metsulfuroon-metiel/tribenuron-metiel 120/600 g/kg Slegs in tenkmengsels met 2,4-D ester (100 ml) of Voloxynil B 225 EC (0,75 liter)

 

Die effektiwiteit van onkruiddoders neem egter af hoe groter die bossies word. Produsente moet poog om te spuit voor dit blom en saad stort. Tyd van toediening is van kritieke belang, maar dikwels is die gewas nog nie klaar geoes wanneer radiatorbossie in die saailingstadium is nie. Volg die spesifieke aanduidings en dosisaanwysings slaafs na op elke produk se etiket.

Kontak altyd ‘n betroubare chemiese adviseur voor die gebruik van enige chemikalieë om die korrekte dosis en spesifikasies op die etiket na te kom.

Kontak die skrywers by elbe.hugo@syngenta.com (Elbe Hugo) en deweth@arc.agric.za (Hestia Nienaber).