Somergraanscenario’s vir 2027

Gepubliseer: 23 Oktober 2026

45
Heleen Viljoen, senior landbou-ekonoom, Graan SA

Graan SA en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het ’n jaarlikse ooreenkoms waarvolgens BFAP scenariobeplanning vir die organisasie doen. Dit sluit scenariobeplanning vir onderskeidelik somer- en wintergrane in, wat voor die onderskeie plantseisoene uitgevoer word. Die doel van die verslag is tweeledig: Aan die een kant is dit daarop gemik om produsente met inligting toe te rus sodat besluitneming vergemaklik word, en aan die ander kant dien dit om belangrike aspekte in die bedrywe te simuleer wat Graan SA kan bystaan met onderhandelinge en besluitneming waar nodig.

Om te verseker dat produsente die geleentheid gebied word om dié verslae te bespreek, word die inligting bekendgemaak deur webinare wat aangebied word. Dié opnames is beskikbaar deur te kliek op Link 1 en 2 .

In 2026 word somergraanprodusente weer deur onsekerheid in die gesig gestaar as gevolg van geopolitieke en klimaatuitdagings. Dit bemoeilik veral aanplantingsbesluite aangesien insetkoste ongekende hoogtes bereik het. 2026 se Somergraanscenario-verslag het ’n groot fokus geplaas op geopolitieke faktore, insetkoste, die moontlike effek van El Niño en die rol wat dit kan speel in markdinamika.

Aan die makro-ekonomiese kant
Soos wat graanprodusente die 2026/2027-seisoen benader sal die makro-ekonomiese omgewing waarskynlik deur drie sleutelfaktore gevorm word: energiepryse, inflasie en geopolitieke onsekerheid. Terwyl wêreldwye ekonomiese groei steeds landbouvraag ondersteun, hou stygende produksiekoste ’n beduidende risiko vir winsgewendheid in.

Die grootste kommer bly die voortdurende onstabiliteit in die Midde Ooste en die impak daarvan op wêreldwye energiemarkte. Hoër ruoliepryse het reeds brandstof-, vervoer- en kunsmiskoste verhoog – alles faktore wat graanproduksie direk beïnvloed. Vir Suid-Afrikaanse graanprodusente beteken dit dat insetkoste  heel moontlik deur die seisoen hoog sal bly, veral as spanning voortduur.

Plaaslik het Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte begin verbeter namate inflasie meer gematig geraak het en rentekoerse begin verlaag het. Hoër brandstofpryse het egter hernieude inflasionêre druk bygevoeg, wat die waarskynlikheid van beduidende verde-
re rentekoersverlagings verminder. Dit kan finansieringskoste relatief hoog hou vir produsente wat op produksiekrediet staatmaak.

Vyf moontlike scenario’s word in Tabel 1 uiteengesit. Indien daar geen verandering in die makro-ekonomiese omgewing is nie en die wêreldekonomie groei toon, kan kom-
moditeitspryse moontlik ondersteuning sien, maar dan sal winsgewendheid streng afhang van opbrengs en kostebestuur.

In die beste scenario, waar oliepryse daal, geopolitieke spanning verlig word, die rand stabiel is en inflasie matig bly, kan produsente moontlik ’n daling sien in brandstof- en kunsmiskoste. Dit kan direk lei tot ’n verlaging in insetkoste en beter marges.

Effek van El Niño
’n El Niño wat al sterker word is een van die belangrikste risiko’s vir graanprodusente voor die somerplantseisoen van 2026/2027. Histories word El Niño-gebeure verbind met ondergemiddelde reënval en hoër temperature oor groot dele van Suid-Afrika se somerreënvalgebied, wat dikwels lei tot ’n laer opbrengspotensiaal en verhoogde produksierisiko.

Hoewel elke El Niño anders ontwikkel, is die grootste kommer die moontlikheid van vertraagde reën vir aanplanting, langdurige droë tydperke tydens kritieke groeista-
diums van gewasse en verhoogde hittestres tydens bestuiwing. Hierdie toestande kan die opbrengste van mielies, sonneblomme en sojabone nadelig beïnvloed, veral in marginale produksiegebiede.

Uit ’n markperspektief is El Niño egter nie net ’n plaaslike weerkundige kwessie nie. Die verskynsel kan landbouproduksie in verskeie groot graanproduserende lande gelyk-
tydig ontwrig. Indien weerverwante verliese in sleuteluitvoerstreke sou voorkom, kan wêreldgraan- en -oliesaadpryse ondersteun word, wat plaaslike pryse sal ondersteun ten spyte van groter oordragvoorrade.

Dit is wel belangrik om te kyk na die effek wat El Niño op Suid-Afrika se plaasvlak kan hê. Hiervoor het BFAP vier verskilende scenario’s gemeet teenoor die basis- bruto marge vir ’n sonneblom-sojaboon-mielie-rotasie. Gegewe hoe sterk die El Niño is, kan somergraanprodusente se bruto marge afneem met tussen 24 tot 88% teenoor die basis. Tydens die BFAP-webinaar is daar ook vier verskillende scenario’s uiteengesit oor hoe somergraanprodusente se bruto marge verander gegewe die sterkte van El Niño. Hierdie scenario’s kan waargeneem word in Figuur 1.

Figuur 1: Scenario’s vir somergraan- bruto marges gegewe die sterkte van El Niño.
Bron: BFAP-GSA-somergraanscenariowebinaar

Samevatting
Die 2026/2027-somergraanseisoen word gekenmerk deur ’n buitengewoon hoë vlak van onsekerheid. Graanprodusente sal nie net die plaaslike produksie-omgewing moet be-
stuur nie, maar ook die impak moet verreken van internasionale geopolitieke gebeure, wisselende energiepryse, makro-ekonomiese ontwikkelings en die moontlike gevolge van ’n El Niño-gebeurtenis. Hierdie faktore kan die mark in verskillende rigtings stuur, met gevolge vir beide insetkoste en graanpryse.

In die meer gunstige scenario’s kan laer energiepryse, stabiele ekonomiese toestande en produksie-uitdagings in ander wêrelddele graanpryse ondersteun en winsgewend-
heid verbeter. Aan die ander kant kan verhoogde geopolitieke spanning, stygende insetkoste en droër toestande weens El Niño ernstige druk op marges plaas. Die werklikheid is dat geen enkele scenario met sekerheid voorspel kan word nie, en produsente moet voorbereid wees op vinnige veranderinge in marktoestande.

Te midde van hierdie onsekerheid bly gedissiplineerde risikobestuur van kardinale belang. Produsente behoort hul bemarkingsplanne vroegtydig op te stel, realistiese prysteikens te identifiseer en geleenthede te benut wanneer markte winsgewende vlakke bereik. Goeie kostebestuur, voldoende likiditeit en deurlopende monitering van weer- en markontwikkelings sal noodsaaklik wees om risiko te beperk. Uiteindelik sal die produsente wat die beste vaar waarskynlik dié wees wat nie op een uitkoms staatmaak nie, maar eerder buigsaam genoeg bly om by verskillende scenario’s aan te pas soos die seisoen ontvou.

Vir meer inligting oor die verslae, kontak gerus vir Helga Otterman (helga@bfap.co.za), Divan van der Westhuizen (divan@grainsa.co.za) of Heleen Viljoen (heleen@grainsa.co.za).