Tydens ’n gesprek tussen Graan SA en landboufinansiers op 10 September 2026 by NAMPO Kaap, is die ernstige finansiële druk waaronder vele graanprodusente in die Wes-Kaap – en veral in die Swartland – verkeer, openlik bespreek. Uit die gesprek het duidelik geblyk dat verskeie produsente ná opeenvolgende moeilike produksiejare min finansiële reserwes oor het, terwyl noodsaaklike kapitaalvervanging uitgestel is en winsgewendheid steeds onder druk bly. Opeenvolgende moeilike jare, ’n lae interna-
sionale graanpryssiklus, ’n ondoeltreffende prysvormingsmeganisme en hoë insetkoste plaas veral produsente in die Swartland onder ernstige finasiële druk.
Die belangrikste en mees konstruktiewe boodskap uit die gesprek was dat produsente so vroeg as moontlik met hul finansiers moet praat. Daar was sterk konsensus dat pro-
aktiewe kommunikasie noodsaaklik is om probleme betyds te identifiseer en moontlike oplossings te ondersoek. Hoe vroeër produsente hul uitdagings met banke, koöperasies en ander finansiële vennote bespreek, hoe groter is die moontlikheid om realistiese en werkbare oplossings vir hul spesifieke omstandighede te vind.
Finansiers het beklemtoon dat die huidige uitdagings nie met ’n kombersbenadering hanteer kan word nie. Elke boerdery se finansiële posisie, produksiegeskiedenis en kapitaalstruktuur verskil, wat beteken dat individuele oplossings vir individuele om-
standighede gevind moet word. Die fokus moet wees op die beskerming van produk-
tiewe kapitaal en die langtermynvolhoubaarheid van boerdery-ondernemings.
Die gesprek het verder beklemtoon dat die afgelope sewe jaar vir vele produsente besonder uitdagend was. Sommige het oor dié tydperk bloot gelyk gebreek, terwyl ander finansieel agteruitgegaan het. Dit beteken dat baie produsente vandag die seisoen met aansienlik minder finansiële buffers tegemoetgaan as in die verlede.
Geen enkele rolspeler kan die huidige finansiële druk alleen oplos nie. Produsente, banke, koöperasies en insetverskaffers sal saam moet werk om hierdie uitdagings die hoof te bied. Insetbedrywe moet ingelig bly oor die werklike omvang van die situasie, terwyl sterk verhoudings tussen produsente en finansiële instellings as ’n belangrike deel van die oplossing beskou word.
Graan SA het die organisasie se deurlopende pogings om die winsgewendheid en mededingendheid van die koringbedryf te verbeter, beklemtoon. Dit sluit onder meer werk rakende die liggingsdifferensiaal en ander bedryfsake in wat daarop gemik is om produsente se posisie op langer termyn te versterk. Graan SA het benadruk dat finansiële ondersteuning op plaasvlak hand aan hand moet gaan met strukturele hervormings wat die onderliggende winsgewendheid en mededingendheid van graanproduksie verbeter.
Die gesprek het afgesluit met die erkenning dat beide kort- en langtermynoplossings noodsaaklik sal wees. Langtermyninstrumente soos gesubsidieerde oesversekering bly belangrik, maar die onmiddellike fokus moet wees op praktiese maatreëls wat produ-
sente kan help om die huidige druk te oorbrug sonder om die produktiewe vermoë van hul boerderye verder te verswak.
Die boodskap aan produsente is daarom eenvoudig: Moenie wag totdat finansiële probleme kritiek raak voordat die gesprek begin nie. Praat vroeg met jou finansier. Oop kommunikasie, sterk verhoudings en oplossings wat by individuele boerderye se om-
standighede aanpas bied die beste kans om deur hierdie uitdagende tydperk te kom en produktiewe boerdery-ondernemings vir die toekoms te beskerm.

















