Graan SA hof toe oor Sojaboondifferensiaal

Valerie Cilliers, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 8 Oktober 2026

85

Die geskil tussen Graan SA en die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) oor die berekening van sojaboonliggingsdifferensiale het nou ’n regsaak geword. Graan SA het ’n interdik-
aansoek teen die JSE se besluit gebring om die model met veelvuldige verwysingspunte (MRP-model) te staak en na ’n enkelverwysingspuntstelsel terug te keer. Die JSE het aangedui dat hy die aansoek sal teenstaan.

’n Proses wat in 2021 begin het
Die gesprek oor die metodologie het reeds in 2021 begin, toe Graan SA die JSE op die tekortkominge van die bestaande enkelverwysingspuntstelsel vir sojabone gewys het. Daaruit het ’n proses gevolg waarin dr Johann Strauss saam met Graan SA, onafhanklike wetenskaplikes en tegniese spesialiste, ’n alternatiewe metode ontwikkel en getoets het.

Vanaf 1 Maart 2024 is die MRP-model op die lewerbare sojaboonkontrak toegepas en oor twee bemarkingseisoene getoets. ’n Tegniese komitee is deur die JSE saamgestel om die model aan die hand van sewe vooraf ooreengekome kriteria te beoordeel, insluitend handelsvolumes, markdeelname en die lewering van JSE-silosertifikate. Dié tegniese komitee is egter nie gekonsulteer toe die finale besluit oor die MRP geneem is nie.

Op 20 Julie 2026 het die JSE aangekondig dat die MRP-model nie sou voortgaan nie en dat die sojaboonkontrak na ’n enkele verwysingspunt sou terugkeer. Graan SA se leier-
skap en lede het kort daarna tydens ’n optog in Sandton ’n petisie en memorandum aan die JSE oorhandig om die besluit teen te staan.

Jeremia Mathebula (visevoorsitter van Graan SA) en Richard Krige (voorsitter) tydens die vreedsame oorhandiging van die memorandum aan die JSE.

Waarom betwis Graan SA die besluit?
Graan SA se kommer fokus onder meer op die wyse waarop die loodsprojek geëvalueer is. Volgens die organisasie is daar nie voldoende deursigtige kriterium-vir-kriterium-redes verskaf oor hoe die finale besluit aan die hand van die oorspronklik ooreenge-
kome evalueringsraamwerk beoordeel is nie.

Boonop verstaan Graan SA dat die tegniese komitee nie die geleentheid gebied is om ’n formele aanbeveling oor die MRP te maak nie, aangesien die komitee nie weer saamge-
roep is om die aangeleentheid te bespreek nie.

Die JSE het wel erken dat handelsvolumes, oop posisies en fisiese lewerings gedurende die loodsperiode verbeter het. Hulle het egter tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie verbeterings ook deur eksterne marktoestande beïnvloed is en dat ’n direkte oorsaak-
like verband tussen die MRP-model en die verbeterings nie bewys kon word nie.

Graan SA meen dat die kwantitatiewe bewyse volledig beoordeel behoort te word en nie bloot van die hand gewys moet word omdat ’n direkte oorsaaklike verband nie geïsoleer kon word nie. Die organisasie is verder van mening dat kwalitatiewe terug-
voer, wat slegs een van die vyf evalueringskriteria was, moontlik te swaar teenoor die model se kwantitatiewe prestasie geweeg is.

Volgens Graan SA behoort die belangrikste vrae te wees of die metodologie wetenskap-
lik verdedigbaar, objektief meetbaar en prakties uitvoerbaar is, en of dit tot ’n meer billike en doeltreffende markuitkoms kan lei.

Die inligtingsprobleem
’n Belangrike deel van die debat is die beskikbaarheid van akkurate inligting oor die sojaboonverwerkingsmark.

Die JSE het onder meer gewys op uitdagings rakende die verkryging van akkurate en ouditbare inligting oor verwerkingsaanlegte, verskille tussen aanlegte, die gebruik van historiese inligting en die vertroulikheid van kommersieel sensitiewe data.

Graan SA meen egter dat daar moontlike maniere is om die nodige inligting beskikbaar te stel onder om individuele maatskappye se vertroulike sakebelange bloot te lê. Die organisasie wys daarop dat soortgelyke inligting reeds deur statutêre prosesse inge-
volge die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte ingesamel word.

Volgens Graan SA kan meganismes soos vertroulikheidsooreenkomste, onafhanklike verifikasie en die anonimisering of samevoeging van data oorweeg word.

Die kwessie is volgens Graan SA veral belangrik omdat sojaboonverwerkingskapasiteit in die hande van ’n betreklik beperkte aantal rolspelers gekonsentreer is. Dit kan vol-
gens die organisasie ’n inligtingswanbalans skep, aangesien produsente nie noodwen-
dig toegang het tot dieselfde inligting oor verwerkingsvraag, -voorraad, -kapasiteit en fisiese markpryse as groot kopers en verwerkers nie.

Wat kan die verskil vir produsente beteken?
Graan SA se jongste ontleding plaas die moontlike finansiële impak van die twee meto-
dologieë in perspektief. Volgens die organisasie se berekeninge is die gemiddelde vervoer aftrekking onder die MRP-metodologie ongeveer R113/ton, teenoor sowat R333/ton onder die enkelverwysingspuntstelsel. Dit verteenwoordig ’n verskil van ongeveer R220/ton.

Wanneer die berekening oor die relevante sojaboonvolumes en silopunte toegepas word, raam Graan SA die totale verskil op ongeveer R650 tot R696 miljoen, afhangende of die verwysingspunt Randfontein of Driefontein gaan wees.

Hierdie bedrag is ’n berekende verskil tussen die twee metodologieë en nie ’n bevestig-
de verlies wat reeds deur produsente gely is nie. Graan SA voer egter aan dat dit die potensiële omvang van die kosteverskil illustreer indien die enkelverwysingspuntstelsel ingestel word.

Volgens die organisasie kan ’n hoër liggingsdifferensiaal in die JSE-termynkontrak die potensiaal vir groter aftrekkings van die kontantprys wat produsente ontvang, verhoog.

Graan SA meen daarom dat die vraag nie bloot is watter metodologie tegnies eenvou-
diger is nie, maar watter metodologie die mees doeltreffende en realistiese prysontdek-
king ondersteun.

Een verwysingspunt vir ’n groeiende bedryf
Benewens die feit dat die JSE na ’n enkelverwysingspunt wil terugkeer, is daar ook voorgestel dat Randfontein vanaf die bemarkingseisoen wat op 1 Maart 2027 begin, moontlik deur Driefontein vervang kan word.

Die voorgestelde Driefontein-verwysingspunt is nader aan groot sojaboonverbruiksge-
biede rondom Isando en Boksburg. Markdeelnemers is genooi om teen 14 Augustus 2026 kommentaar op die voorstel te lewer.

Vir Graan SA is die verandering van Randfontein na Driefontein egter nie die fundamen-
tele oplossing nie. Die organisasie meen dat die gebruik van slegs een geografiese verwysingspunt steeds pro bleme kan skep in ’n sojaboonbedryf waarin produksie en verwer kingsvraag oor verskillende streke versprei is.

Volgens Graan SA kan produsente wat naby ’n aktiewe verwerker of groot verbruiks-
punt geleë is, steeds met ’n liggingsdifferensiaal gekonfronteer word wat gebaseer is op ’n teoretiese vervoerroete vanaf ’n enkele verwysingspunt, eerder as op die mees doeltreffende werklike beweging van die produk.

Meer as net vervoerkoste
Die debat oor liggingsdifferensiale raak volgens Graan SA dus aan ’n breër vraag oor prysontdekking in die graanmark. Die organisasie meen dat die liggingsdifferensiaal nie bloot as ’n berekening van teo retiese vervoerkoste beskou moet word nie. Streeksaan-
bod, vraag, verwerkingskapasiteit, voorraadvlakke en vervoervloei verander voortdu-
rend. Die MRP-model is juis ontwikkel om hierdie geografiese en markdinamika beter in die berekening te weerspieël.

Graan SA is ook bekommerd dat die huidige stelsel produsente se vermoë kan beperk om verskille tussen liggings deur arbitrage te benut. Die organisasie wys verder op kommer wat deur prof Matt Roberts, ’n deskundige konsultant wat deur die JSE aange-
stel is, oor onder meer nuldifferensiaal-leweringspunte en arbitrage geopper is.

Die pad vorentoe
Graan SA wil graag sien dat die beskikbare data, navorsing en ontledings volledig oorweeg word en dat die metodologie vir liggingsdifferensiale uiteindelik op ’n deursigtige, bewysgebaseerde en billike grondslag bepaal word.

Vir produsente is die uitkoms belangrik omdat die liggingsdifferensiaal nie bloot ’n tegniese syfer op ’n termynkontrak is nie. Dit kan ’n invloed hê op die prys wat produ-
sente in die fisiese mark ontvang en op die doeltreffendheid waarmee sojabone deur die waardeketting beweeg.

Die debat oor die MRP-model is dus nog lank nie afgehandel nie. Terwyl die regsproses voortgaan, bly die kernvraag dieselfde: Watter metodologie weerspieël die Suid-Afri-
kaanse sojaboonmark die beste en verseker dat prysontdekking so doeltreffend, deursigtig en billik moontlik plaasvind?