’n Produsent wat aanhou bou – aan grond, mense en die volgende geslag

Alzena Gomes, kommunikasie- en skakelbeampte, Graan SA
Gepubliseer: 30 September 2026

91
Henk Michau

Van 100 ha huurgrond in Limpopo tot ’n gevestigde graanboerdery in die Oos-Vrystaat: Henk Michau se boerderypad is een van aanhou probeer, aanpas en weer opstaan. As finalis in Graan SA se Graanprodusent van die Jaar 2026 is sy verhaal veel meer as dié van hektare en opbrengste. Dit is ’n verhaal van geloof, harde werk, vertroue, langter-
mynverhoudings en ’n familie wat doelbewus besig is om die aflosstokkie na ’n volgende geslag aan te gee.

’n Boerderypad wat van kleins af gevorm is
Willem Hendrik “Henk” Michau se boerderywortels lê op Tuinplaas in Limpopo, waar hy grootgeword het onder die vlerk van sy pa, Hendrik, wat dieselfde jaar as Henk se geboorte in 1969 begin boer het. Ná matriek het Henk hom as motorwerktuigkundige bekwaam – ’n agtergrond wat later ’n duidelike invloed op sy praktiese benadering tot masjinerie en instandhouding sou hê. Van 1993 tot 1994 het hy by sy oom Piet Michau naby Harrismith gaan boer voordat hy na Limpopo teruggekeer het. In 1995 het hy grond by sy pa begin huur en sy eie pad as produsent begin stap. Aanvanklik was dit omtrent 100 ha; mettertyd is meer huurgrond bygevoeg en in 1999 kon hy sy eerste eie grond koop. Daar het hy uitgebrei, ontwikkel en – soos hy dit self stel – baie geleer.

Die moed om weer van voor af te begin
Teen 2015 het die intensiewe boerderystelsel in Limpopo toenemend uitdagend geraak. Dalende grondwatervlakke, stygende energie­vereistes, arbeidsintensiteit en die druk van ’n besproeiingsonderneming het hom laat vra of dié model op lang termyn nog die regte een vir sy gesin was. Die besluit wat gevolg het, was allesbehalwe klein: In 2016 is die Limpopo-belange verkoop en het Henk en sy vrou, Riana, hul boerderylewe na Reitz in die Vrystaat verskuif. Hy vertel hoe hy sy seun, Coetzee, die plaas kom wys het en, te midde van die stilte van die Oos-Vrystaat, gevoel het: Hier gaan ons vrede vind. Daaruit het die naam Vredevind Boerdery gegroei. Dit was nie net ’n geografiese skuif nie; dit was ’n besluit om die vreugde van boerdery weer sentraal te stel.

Van Zwartfontein af word geleenthede gebou
Vandag vorm Zwartfontein die kern van die Michau-boerdery, aangevul deur verskeie gehuurde produksie-eenhede in die Reitz-omgewing. Die stelsel bestaan hoofsaaklik uit droëlandgraan, met veld en ’n kleiner aangeplanteweidingskomponent wat verdere diversifikasie moontlik maak. Wat opvallend is, is Henk se benadering tot huurgrond: Dit word nie as “iemand anders se grond” behandel nie. Kontoere, waterbane en lande word verbeter en grondregstellings word gedoen asof die eiendom sy eie is. Langter-
mynverhou­dings met grondeienaars maak hierdie benadering moontlik. Sy uitgangs-
punt is dat uitbreiding nooit net oor meer hektare moet gaan nie – die grond moet by die bestaande stelsel pas en die boer­dery moet steeds dit wat hy reeds doen, behoorlik kan doen.

Luister eerste na wat die grond sê
Produksie by Vredevind begin letterlik onder die grondoppervlak. Henk en Coetzee is lief vir profielgate: Voordat ’n land volgens ’n voorafbepaalde resep bewerk word, wil hulle weet wat in die profiel aangaan. Grondtipe, verdigting, vog en chemiese status bepaal of daar konvensioneel gewerk, vlak bewerk, geenbewerking toegepas of met strip-till voortgegaan word. Hulle beskryf hulself nie as produsente wat deur ’n spesi-
fieke bewerkingsfilosofie “vasgevang” wil wees nie. As die grond sê ’n tand is nodig, word dit gebruik; as vog eerder bewaar moet word, word die grond so min as moontlik versteur. Juis in die Oos-Vrystaat, waar reënval en die tydsbereke­ning daarvan groot variasie kan toon, is vogbewaring ’n kernbeginsel.

Presisie wat by die basiese beginsels begin
Mielies en sojabone vorm vandag die spil waarom die gewasstelsel draai, hoofsaaklik in ’n 50/50-wisselboustelsel. Elke jaar word ’n gedeelte van die lande intensief gekarteer en grondontledings op ’n fyn rooster gedoen, waarna kalk-, fosfaat- en kaliumregstellings presies volgens behoefte toegedien word. Die Michau-span het gesien hoe lande oor ’n aantal jare wesenlik kan verander wanneer grondchemie doelgerig reggestel word. Stroper- en produksiedata vorm deel van die besluitnemingsbasis, terwyl opbrengsmik-
punte eerder uit hul eie langtermynprestasie as uit algemene aannames afgelei word. Henk het reeds in 2015 met presisiekartering en die sistema­tiese opbou van stroper-
data begin; ’n dekade later is dié beginsel diep in die boerdery se besluitneming gevestig.

Klein proewe voor groot spronge
Tog is presisie vir die Michaus nie net GPS en kaarte nie – dit is ook die dissipline om te meet voordat jy verander. Kultivars, plantestand, rywydtes, voeding en nuwe produkte word eers op kleiner blokke beproef voordat dit na ’n groter deel van die boerdery uitgerol word. Coetzee vertel hoe ’n aanvanklike proef op ’n klein oppervlakte eers uitgebrei is nadat die resultate herhaalbaar geblyk het. Dieselfde benadering geld vir kultivarkeuse: Kultivars word langs mekaar op dieselfde lande geplant om ’n regverdige vergelyking te kry, terwyl verskillende groeiklasse gebruik word om klimaatrisiko te versprei. Hulle glo nie daaraan om iets bloot toe te pas omdat dit nuut is nie. Dit moet in húlle omstandighede werk.

Die regte voeding op die regte tyd
Een van die duidelikste areas waarin die boerdery verder verfyn word, is plantvoeding. Grondregstellings vorm die fondament, maar die fokus verskuif toenemend na tyds-berekening: Wanneer het die plant werklik ’n bepaalde voedingselement nodig? In plaas daarvan om alle topbemesting in een beweging af te handel, word voeding waar moont-
lik oor verskillende groeistadiums versprei. ’n Hoogloopspuit is selfs aangepas om ’n strooier te dra, sodat aanvullende voeding later in die plant se groeisiklus toegedien kan word. Vir Henk en Coetzee is die beginsel eenvoudig: Die duurste inset is nutteloos as dit op die verkeerde tyd of plek toegedien word. Die doel is nie noodwendig om méér te gebruik nie, maar om elke inset meer effektief te laat werk.

Henk, Riana en Coetzee het in 2016 vrede in die Oos-Vrystaat gevind, vandaar die naam “Vredevind Boerdery”.

Plaagbeheer: voorkoming, tydsberekening en dissipline
Noordelike blaarskroei en rooispinmyt in mielies asook snywurm en Sclerotinia in sojabone is van die uitdagings wat deurlopend ge­monitor word. Waar nodig word voorkomende beheer toegepas, met lugbespuiting beskikbaar wanneer toestande of gewasstadium dit vereis. Henk plaas besonder sterk klem op die veilige hantering van chemikalieë. Voorraad word in ’n gifkamer wat toegesluit word beheer en aangeteken, beskermende toerusting is verpligtend en die mengvolgorde van produkte word streng gevolg. Slegs die produkte wat vir ’n spesifieke bespuiting benodig word, word na die land geneem – ’n eenvoudige maatreël wat die risiko van verkeerde mengsels beperk. Hoogloopspuite en seksiebeheer dra verder by tot akkurate toediening.

Coetzee is tans besig om die veekomponent van die boerdery uit te bou en is deel van alle besluite wat op die plaas geneem word.

Bestuur is om vandag reeds vir môre te dink
Wanneer Henk oor die bestuur van die onderneming praat, kom ’n paar temas telkens na vore: daaglikse beplanning, akkurate rekords, aanpasbaarheid, kostedissipline en goeie mense. Produksiedata word digitaal vasgelê, insette en meganisasie word gemo-
nitor en beplanning sluit produksie-, hulpbron- en risikobestuur in. Maar tussen al die tegnologie bly daar ook iets baie tipies van Henk: die klein boekie in sy lessenaar waarin hy reeds jare lank planne en notas neerskryf. Vir hom vertel goeie rekords wat gebeur het; goeie beplanning bepaal wat volgende moet gebeur. In die paneelgesprek is dit ewe duidelik dat finansiële volhoubaarheid vir hom nie van ’n enkele groot besluit afhang nie, maar van honderde kleiner besluite wat reg geneem word. Hy skryf sy pad ook toe aan geloof, genade, harde werk, geduld en ’n positiewe ingesteldheid.

’n Werktuigkundige se respek vir yster
Henk se opleiding as motorwerktuigkundige is steeds sigbaar in die werkswinkel. Dienste, herstelwerk en brandstofverbruik word aangeteken en selfs die gebruik van slytasiedele word gemonitor om toekomstige behoeftes beter te beplan. Sy filosofie is nie om toerusting bloot te vervang omdat dit oud geword het nie. Ouer trekkers word eerder na ligter take verskuif, sodat hul nuttige leeftyd verleng en nuwe toerusting vir die werk gereserveer word waar kapasiteit werklik nodig is. Kontrakteurs word strate-
gies gebruik – veral wanneer sojabone binne ’n beperkte stroopvenster afgehaal moet word, of waar lugbespuiting nodig is. Die eie meganisasievloot en infrastruktuur word dus aangevul eerder as onnodig gedupliseer.

’n Span wat saam Vrystaat toe gekom het
Miskien vertel min dinge meer van die Michau-boerdery as die feit dat ’n groot deel van Henk se arbeidsmag saam met hom uit Limpopo na die Vrystaat getrek het. Heelwat van die werknemers werk reeds twee dekades of langer saam met die familie. Vandag bestaan die permanente span uit ’n betreklik klein, ervare kern, met ’n lae personeel-
omset. Henk moedig werknemers aan om voorstelle te maak en terugvoer te gee en glo dat betrokkenheid verantwoordelikheid en spanwerk versterk. Veiligheidsopleiding, beskermende toerusting en formele arbeidsprosesse is deel van die bestuur, maar die kultuur daaragter is persoonlik: Hierdie is mense wat saam deur droogtes, verhuising, uitbreiding en verandering gekom het.

Henk doen dit wat hulle aanpak so reg as moontlik, en streef daarna om Vredevind beter agter te laat vir die mense wat ná hom kom.

Meer beheer tussen stroper en koper
Bemarking is een van die areas waar die boerdery doelbewus probeer het om meer beheer oor sy eie produk te kry. Die ontwikkeling van ’n silokompleks op die plaas beteken graan hoef nie noodwendig op die dag van stroop verkoop te word nie. Dit verbeter oeslogistiek, verminder wagtyd en gee Henk en Coetzee meer keu­ses oor wanneer en aan wie graan gelewer word. Hulle werk met bemar­kingsvennote, han-
delaars en kopers, maar gebruik ook Graan SA-inligting, markontledings en produksie-vooruitsigte om besluite te ondersteun. Vir Coetzee gaan dié infrastruktuur net soveel oor beheer as oor prys: om te keer dat waarde tussen die land en die uiteindelike koper deur klein ondoeltreffendhede “weglek”.

Verhoudings as ’n boerderybate
Henk praat dikwels oor die “engeltjies” wat op hul boerderypad verskyn het – mense wat op kritieke oomblikke ’n deur oopgemaak, raad gegee of vertroue in hom gestel het. Tog wys die paneelgesprek dat hy self verstaan dat sulke verhoudings nie toevallig ontstaan nie. Integriteit, werksetiek, ’n positiewe houding en betrokkenheid in jou gemeenskap skep oor jare ’n reputasie waarop ander bereid is om te vertrou. Henk is betrokke by die Riemland-studiegroep, Graan SA, Vrystaat Landbou en Langspruit-boerevereniging en ondersteun plaaslike instellings soos skole, kerke en die ouetehuis. Vir hom beteken gemeenskapsbetrokkenheid nie noodwendig groot projekte nie; dit beteken om teenwoordig te wees, jou kant te bring en verhoudings te bou wat oor dekades hou.

Volhoubare transformasie begin by produktiwiteit
Oor die groter beleidsomgewing is Henk se uitgangspunt prakties. Grondhervorming en transformasie moet volgens hom op ’n ordelike, regverdige en volhoubare manier geskied, met die suksesvolle produktiewe benutting van grond as ’n kernmaatstaf. Hy sien ’n  toekoms vir Suid-Afrikaanse landbou waarin voedselsekerheid, moderne tegnologie, presisieboerdery, aanpassing by klimaatsverandering en die ontwikkeling van nuwe produsente saam vorentoe beweeg. Hy beskou Graan SA as belangrik vir navorsing, opleiding, markinligting, tegniese kennis en die netwerke waardeur produsente van mekaar kan leer.

Stroper- en produksiedata vorm deel van die besluitnemingsbasis.
Eie opberging verbeter oeslogistiek, verminder wagtyd en gee hulle meer keuses oor wanneer en aan wie graan gelewer word.

Die aflosstokkie is reeds in twee hande
Die volgende hoofstuk van Vredevind word reeds geskryf. Coetzee is nie bloot ’n seun wat “eendag” moet oorneem nie; hy is reeds betrokke by produksiebesluite, bemarking, proewe en die strategiese rigting van die graanonderneming, terwyl hy terselfdertyd sy eie veekomponent uitbou. Groot besluite word saam deurgepraat – in die kantoor, in die bakkie en dikwels vir ure in die stroper. Henk se doel vir die volgende aantal jare is juis dat verantwoordelikheid stelselmatig oorgedra word sodat die aflosstokkie sonder ’n skielike breuk na die tweede geslag kan beweeg.

Om dit te laat werk
Henk Michau se verhaal is nie dié van ’n boerdery waar alles volgens plan verloop het nie. Inteendeel. Daar was droogtes, verkeerde draaie, moeilike verhuisings, produksieri-
siko en tye waarin ’n nuwe plan gemaak moes word. Maar een ingesteldheid loop deur die hele verhaal: Jy hou aan. Jy leer. Jy bou verhoudings. Jy verbeter die grond onder jou voete en jy maak seker die volgende geslag verstaan nie net wat julle doen nie, maar waarom. Dertig jaar nadat Henk op huurgrond begin het, bly daardie dryfkrag opvallend dieselfde. Hy boer nie om die grootste te wees nie. Hy wil dit wat hulle aanpak, reg doen – en Vredevind beter agterlaat vir die mense wat ná hom kom.