
Vir Neethling Dippenaar van Swellendam lê die kern van ’n suksesvolle graanboerdery nie in ’n enkele kultivar, tegnologie of groot besluit nie. Dit lê in die vermoë om oor jare ’n stelsel te bou waarin die grond beter word, mense verantwoordelikheid neem, aksies betyds uitgevoer word en die onderneming voortdurend leer en aanpas. As finalis in Graan SA se Graanprodusent van die Jaar 2026 staan hy aan die hoof van ’n moderne, uitgebreide graanonderneming, maar wanneer hy gevra word om die sukses daarvan in een woord saam te vat, is sy antwoord eenvoudig: “Passie.”
Gebou op geslagte, gevorm vir die volgende een
Neethling se boerderypad het nie by hom begin nie. Hy praat met trots van ’n fami-lieonderneming wat oor geslagte opgebou is en waarin sy pa, Michael, vandag steeds elke dag saam met hom werk. Ná matriek aan Hoërskool Swellendam het Neethling ’n BCom in Landbou-ekonomie en daarna ’n BCom Honneurs in Logistieke Bestuur aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. In 2007 het hy teruggekeer na Diptka en by die familieboerdery aangesluit.
Destyds was graan en ’n sterk Merino-veefaktor nog nou verweef. Wat gevolg het, was ’n geleidelike maar fundamentele verandering in hoe die familie oor hul grond en produksiestelsel gedink het. Minimumbewerking, die behoud van oesreste en uitein-
delik ’n groter skeiding tussen die vee- en graankomponente sou die koers van die onderneming verander. Vir hom is dit egter steeds ’n generasieverhaal: Die doel is nie bloot om vandag suksesvol te wees nie, maar om iets te bou wat oor geslagte volhoubaar bly.
Groei deur doelbewuste uitbreiding
Die boerdery het sedert 2007 aansienlik uitgebrei. Benewens die oorspronklike fami-
lieplase rondom Swellendam is daar mettertyd grond in die Rûens, Klipdale-, Napier- en Bredasdorp-omgewings bygevoeg, terwyl twee Karoo-eenhede die veekomponent ondersteun. ’n Belangrike keerpunt was die aankoop van Karoo-grond in 2011, wat dit moontlik gemaak het om meer vee na natuurlike veld te verskuif en die graanlande toenemend volgens minimumbewerkings- en deklaagbeginsels te bestuur.
In 2013 het die familie saam met drie ander boerderygroepe Klipdale Boerdery gevestig nadat ’n groep plase in die Overberg beskikbaar geraak het. Verdere aankope en huur-
grond het daarna gevolg. Tog benadruk Neethling dat groei nie bloot ’n wedloop na meer hektare is nie. Die voorkeur is vir funksionele, aaneenlopende produksie-eenhede wat doeltreffend bestuur kan word, met hul eie personeel, masjinerie en verantwoordelikheidstrukture.
Ons boer eintlik met grond
As daar een beginsel is wat Neethling se produksiefilosofie vasvang, is dit sy stelling: “Ons boer nie met gewasse of diere nie, maar met grond.” Grondgesondheid is vir hom die basis waarop al die ander besluite berus. Oor jare het die onderneming grondver-
steuring toenemend verminder, oesreste op die lande behou en organiese materiaal opgebou. Hoendermis vorm ’n belangrike deel van dié strategie en word nie bloot as voeding gesien nie, maar as ’n manier om organiese materiaal, grondstruktuur en grondlewe te verbeter. Volgens hom is die resultaat veral sigbaar in moeilike jare: Beter grondstruktuur en ’n permanente deklaag help om vog langer te bewaar, met die gevolg dat opbrengste in droër seisoene vandag veel minder skerp terugval as in die verlede.
Minimum versteuring, maksimum bewaring
Op die graanlande word minimumbewerking toegepas en die grond word hoofsaaklik net deur die tandplanter tydens plant versteur. Ná stroop bly die lande deur die somer onaangeraak en word someronkruid chemies beheer. Die volgende winter se gewas word direk in die vorige oes se reste geplant. Dié stelsel het nie oornag ontstaan nie.
Neethling en sy pa het somerbewerkings eers uitgeskakel, waarna strooibaal en veebe-
weiding stelselmatig verminder is totdat oesreste uiteindelik op die lande kon bly. Dit was ’n geleidelike verandering in denke – weg van die idee dat ’n netjies bewerkte land noodwendig ’n beter land is, na ’n stelsel waar die grond so min as moontlik versteur en soveel as moontlik beskerm word.



Koring, kanola en gars – elkeen met ’n doel
Die kernwisselboustelsel bestaan vandag uit koring, kanola en gars. Kanola het oor die afgelope dekade ’n toenemend belangrike rol ingeneem en is veel meer as net ’n breek-
gewas. Die ontwikkeling van die plaaslike kanolabedryf en verwerking naby Swellendam het nuwe produksiegeleenthede geskep, terwyl verbeterde kultivars die gewas se opbrengspotensiaal en betroubaarheid versterk het. Koring volg hoofsaaklik ná kanola en reageer sterk op goeie reënval, maar bly terselfdertyd die gewas wat die vinnigste onder droogte ly. Gars word dikwels op meer marginale lande gebruik omdat dit droogtetoestande beter kan hanteer. Neethling se keuses word egter nooit rigied volgens ’n vaste resep gemaak nie. Volhoubaarheid, opbrengspotensiaal, markvoor-
uitsigte en die plek wat ’n gewas binne die groter wisselboustelsel inneem, bepaal uiteindelik die besluit.
Presisie begin by regstelling
Presisieboerdery word doelbewus gebruik om verskille binne lande aan te pak. Grond word gekarteer en kalsium-, fosfaat- en kaliumtekorte word volgens behoefte reggestel. Waar moontlik word kalk en ander grondregstellings veranderlik toegedien, terwyl hoendermis ook volgens voorskrifkaarte gestrooi word om spesifieke kaliumtekorte aan te pak.
Wat vir Neethling belangrik is, is dat presisie nie bloot tegnologie om tegnologie se ontwil word nie. Dit moet ’n meetbare agronomiese probleem oplos. Dieselfde beginsel geld vir bemesting. Stikstof word oor verskillende groeistadiums verdeel en plantstatus word gedurende die seisoen gemonitor. Die doel is om die plant te voer wanneer sy behoefte ontstaan, eerder as om bloot aan die begin van die seisoen ’n voorafbepaalde resep toe te dien en te hoop dat die seisoen daarby aanpas.

Die basiese dinge – maar presies betyds
Neethling se honneursgraad in logistieke bestuur kom sterk op die plaas na vore. Hy beskryf homself as iemand wat daarvan hou om te organiseer en seker te maak dat die regte aksie op die regte tyd gebeur. In ’n onderneming met verskillende produksie-eenhede en ’n groot seisoenale werkslading is tydsberekening volgens hom dikwels belangriker as die nuutste produk of boerderygier. “As jy die basics op tyd reg doen,” verduidelik hy, “is jy klaar 90% reg.” Daarom word kultivars, plantdatums, bemesting, bespuiting en oeslogistiek as ’n geïntegreerde stelsel bestuur. Nuwe idees word ondersoek, maar dit moet prakties, bekostigbaar en herhaalbaar wees voordat dit deel van die standaardpraktyk word.
Plaagbeheer sonder om die stelsel prys te gee
Ironies genoeg het die verbetering in grondstruktuur en die toename in organiese materiaal ook nuwe uitdagings gebring. Slakke het een van die grootste plaagprobleme geword, veral tydens die opkomsfase van gewasse. Die deklaag en biologies aktiewe grond skep juis ’n gunstige habitat vir hulle. Neethling erken dat drastiese grondbe-werking of die verwydering van oesreste slakdruk vinnig kan verminder, maar dié oplossing sou jare se grondopbou ondermyn. Daarom word ’n kompromie gevolg:
Waar nodig word net die boonste grondlaag liggies versteur om die slakke se habitat te ontwrig. Swamsiektes bly ook ’n risiko in die klam kusklimaat en siekteweerstand speel ’n belangrike rol in kultivarkeuse. Chemiese middels word streng beheer, voorraad word gereeld nagegaan en selfaangedrewe spuite word verkies vir akkurate grondtoediening.
Bestuur sonder sentiment, maar nie sonder gevoel nie
Finansiële bestuur in die onderneming word gedryf deur inligting, rekordhouding en ’n duidelike onderskeid tussen wat noodsaaklik is en wat bloot gewoontes geword het. Sy uitgangspunt is dat elke aksie op ’n plaas tyd, arbeid, slytasie en insette verg – en daarom moet elke bewerking of aktiwiteit ’n doel hê. Rekords van produksie, imple-
mentgebruik, onderhoud en ander bedryfskoste word noukeurig bygehou en gebruik om toekomstige besluite te ondersteun. Maandelikse bestuursgesprekke binne die groter boerderystrukture skep ’n vaste ritme waarin resultate, bemarking, produksie en volgende stappe bespreek word. Geen sensitiewe syfers is nodig om die filosofie te verstaan nie: Besluite word sover moontlik op feite geneem, nie op sentiment nie.
Masjinerie moet die kalender dien
Dieselfde beginsel geld vir meganisasiebestuur. Dienste, herstelwerk en die gebruik van implemente word sistematies aangeteken sodat die werklike prestasie en betroubaar-
heid van elke masjien beoordeel kan word. Kritieke toerusting – veral dié wat ’n kort plant-, spuit- of oesvenster moet haal – kry voorkeur wanneer vervanging oorweeg word. Minder kritieke trekkers en implemente kan langer in die stelsel bly. Die onder-
neming beskik oor ’n sterk eie meganisasiebasis, maar kontrakteurs word gedurende oestyd strategies ingespan om addisionele stroop- en vervoerkapasiteit te verskaf. Vir Neethling is die doel nie om elke moontlike funksie self te besit nie. “Doen dit waarin jy goed is,” is die onderliggende beginsel; koop kapasiteit in wanneer dit meer doeltreffend is.


Verantwoordelikheid word afgewentel
Die boerdery se arbeidsmodel weerspieël die skaal waarop dit funksioneer. Elke produksie-eenheid het ’n bestuurder, met operateurs wat onder hom verantwoorde-
likheid vir spesifieke take en toerusting aanvaar. Neethling kommunikeer nou met die bestuurders, maar probeer doelbewus vermy om self elke besluit op elke plaas te neem. Die ideaal is dat ’n eenheid kan funksioneer sonder dat die eienaar voortdurend elke aksie moet bestuur. Personeel weet wat van hulle verwag word, wanneer die besige tye van die jaar aanbreek en wanneer langer ure nodig sal wees. In rustiger tye word dié ekstra inspanning weer gebalanseer. Die relatief lae personeelomset weer-
spieël die stabiliteit binne die span. Neethling verwys ook met trots na werknemers wat binne die onderneming gegroei het – onder andere iemand wat as jong tuinwerker begin het en vandag ’n bestuurder is.
Bemarking begin by die vryheid om te wag
Neethling se bemarkingsbenadering is daarop gerig om produksie- en verkoopbesluite van mekaar los te maak. Graan word nie noodwendig onmiddellik ná stroop bemark wanneer groot volumes die mark bereik nie. Waar moontlik word bemarking oor die daaropvolgende tydperk versprei en markgeleenthede benut soos dit ontstaan. Vir kanola word ’n minimumprysstrategie gebruik wat ’n onderste vlak beskerm, maar steeds ruimte laat om aan ’n sterker mark deel te neem. Wêreldtendense, internasio-
nale produksie, tegniese markinligting en plaaslike toestande word gereeld bespreek. SSK bly ’n belangrike bemarkingsvennoot. Neethling is ook ’n sterk voorstander daarvan dat produsente nie noodwendig elke skakel van die waardeketting self hoef te besit nie, mits die bestaande stelsel doeltreffend en produsentgerig funksioneer.
Kennis word sterker wanneer dit gedeel word
Gemeenskap is vir hom baie meer as formele lidmaatskap. Hy is aktief by die Diptka-boerevereniging betrokke en het reeds as voorsitter gedien. ’n Historiese plaasskool en latere kerksaal op die familiegrond is doelgerig ingerig en word gratis vir die boere-
vereniging beskikbaar gestel. Die familie het ook oor vele jare ’n sterk geskiedenis van betrokkenheid by landboubesighede en georganiseerde landbou opgebou. Vandag dien hy ook op die kerkraad van die NG Moedergemeente Swellendam. Net so belangrik is die informele kennisnetwerk tussen produsente. Die chemiekoopgroep waarvan hulle deel is, het volgens hom lankal méér as bloot ’n koopplatform geword: Produsente deel daagliks waarnemings oor peste, siektes, produkte en proewe. As een persoon iets raaksien, word die hele groep vinniger en slimmer.
Landbou se grootste geleentheid lê in vaardigheid
Sy siening oor bemagtiging en transformasie is sterk gekoppel aan vaardigheidsontwik-
keling en volhoubare deelname aan die ekonomie. Hy glo landbou bied groot ruimte vir werknemers om deur opleiding en ervaring na hoogs gespesialiseerde rolle te ontwik-
kel. Grond alleen, sonder kennis, ervaring en die hulpbronne om dit produktief te benut, skep volgens hom nie noodwendig volhoubare transformasie nie. Vir Graan SA sien hy ’n duidelike rol: Produsente moet hul energie gebruik om so doeltreffend moontlik kos te produseer, terwyl ’n organisasie soos Graan SA die regulatoriese, be-
leid- en regeringskakeling moet hanteer wat individuele produsente nie self kan dra nie. Hy verwag terselfdertyd dat georganiseerde landbou relevant moet bly en sigbare waarde vir sy lede moet lewer.
Die volgende fase: die potensiaal wat reeds onder hul voete lê
Ná ’n tydperk van sterk uitbreiding is sy fokus vir die volgende fase minder op bloot groter word en meer op konsolidasie. Die nuwe plase moet verder ontwikkel word, presisieboerdery moet na ’n volgende vlak beweeg en die “verskuilde potensiaal” van bestaande grond moet ontsluit word. Tog ken ’n produsent die gevaar daarvan om te sê hy sal nooit weer uitbrei nie.
Geleenthede kom dikwels onverwags, erken hy, en daarom sal die onderneming steeds oopkop bly. Wat waarskynlik nie sal verander nie, is die filosofie waarmee besluite geneem word: Kyk na die grond, doen die basiese dinge uitstekend, tree betyds op, meet die resultaat en bly leer. Want onder al die tegnologie, skaal en presisie bly die dryfkrag dieselfde as toe hy in 2007 by sy pa aangesluit het – ’n opregte liefde vir boerdery en ’n passie om dit môre nét ’n bietjie beter te doen as vandag.

















