Nuwe implemente ’n bewys van veerkragtigheid deur innovasie

Gepubliseer: 11 Augustus 2026

33
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
-medewerker

NAMPO 2026 was weer eens ’n uitstalvenster vir innoverende idees en nuwe produkte. Vervaardigers het na die behoeftes van produ-
sente geluister en heel­wat nuwe idees is vanjaar tydens die land-
bouhandelskou ten toon gestel.

Die gebruik van hommeltuie is deesdae nie meer vreemd nie, maar hierdie masjiene benodig pasgemaakte toerusting en ondersteuning om hul effektiwiteit te verhoog. Om in hierdie behoefte te voorsien het NIC Trailers ’n hommeltuigspuitwaentjie uitgestal. Met die ontwerp van die wa is voorsiening gemaak vir ’n kompartement om die hommeltuie te vervoer, plek om die chemie te meng en spasie vir ’n kragopwekker om die batterye te laai. Vanaf die dak kan die operateur gemaklik die hommeltuig dophou terwyl die werk verrig word.

Produsente is altyd bewus van koste en wil nie noodwendig meer as een implement aanskaf om meer as een taak te verrig nie. Agri Afrika se Cross Till 3-in-1-grondbe-werkingswerktuig bied ’n oplossing hiervoor. Dié implement kan vertikale bewerking goed doen, maar met slegs ’n klein verstelling kan onkruide liggies uitgewerk word sonder om die oes te begrawe. Deur die skottel nog verder te verstel, kan dit die oesreste behoorlik insny soos ’n gewone swaardiens-skotteleg dit sal doen. Dit is sonder twyfel ’n meerdoelige implement.

Agri Afrika se Cross Till 3-in-1-grondbewerkingswerktuig kan vertikale bewerking doen, onkruide uitwerk en oesreste insny.

Die onttrekking van klein en middelslag-mielieplanters deur die groot planterver-
vaardigers het ’n geleentheid in die mark laat ontstaan. Rovic het weer nuwe produkte ten toon gestel en een hier­van was hul selfvervaardigde planter. Dié maatskappy is bekend vir die kwaliteitimplemente wat hulle vervaardig en hierdie nuwe implement behoort nie teleur te stel nie.

Verbeterde effektiwiteit en doeltreffendheid is altyd belangrik vir enige produsent. Die strooi van kalk gaan gewoonlik gepaard met stof en fyn kalk wat wegwaai. Rula Agri het hierdie pro­bleem tot ’n groot mate oorkom deur ’n kalkstrooier en ’n skeurploeg te kombineer. ’n Hoëdruk-Venturi-stelsel word gebruik om die kalk na die tande te versprei en dit dan onder die grond toe te dien. Met die tande wat op verskillende dieptes werk, word die kalk dus op verskillende dieptes toegedien. Hierdie implement kan ook gebruik word om die kalk teen verskillende peile in die land toe te dien.

’n Hommeltuigwaentjie deur NIC Trailers.

Grondsoorte en -diepte varieer aansienlik – selfs in een land. Sommige areas in ’n land moet vlak bewerk word terwyl ander diep bewerk moet word. Stark-implemente van Bloemfontein het hierdie probleem opgelos deur ’n inlyn ripper te vervaardig waar die werksdiepte van die tande hidroulies beheer kan word. Elke grondsoort kan optimaal bewerk word deur die grondbewerkingsdieptekaart op te stel en die trekker daar-
volgens in te stel. Dit behoort bewer­kingskoste te verlaag en opbrengsverhogings in die land tot gevolg te hê. Tradisioneel sou die vlakker gronde dalk te diep bewerk word  wat gewoonlik heelwat meer trekkrag vereis. Alternatiewelik sal die gronde wat dieper bewerk moet word, dalk te vlak bewerk word, wat weer ’n verlaging in opbrengs tot gevolg sou hê. Met hierdie innoverende implement kan opbrengste gemaksimeer en koste geminimeer word.

Die gebruik van tegnologie neem daagliks toe. Die groot trekker­vervaardigers is konstant besig om hul presisiestelsel te verbeter. Landini het vanjaar hul Smart Cab- digitale oplossings vir verhoogde doeltreffendheid en produktiwiteit ten toon gestel. Wat hierdie platform uniek maak, is die feit dat dit reeds met ander platforms versoenbaar is en dat tegnologie van verskillende vervaardigers dus maklik gebruik kan word. Die platform maak dit ook moontlik vir die produsent om sy vloot intyds te monitor en van ’n afstand te bestuur. Trekkervervaardigers poog werklik om verskillende stelsels met mekaar te laat kommunikeer sodat die produsent die vryheid het om die beste tegnologie te gebruik, ongeag van die vervaardiger.

Rula Agri se kalkstrooier word aan die skeurploeg gekoppel om kalkvermorsing te stop.

Ten spyte van die soveelste nat NAMPO is Suid-Afrika eintlik ’n waterskaars land. Vir besproeiing is dit belangrik om die water wat beskikbaar is optimaal te gebruik. Met die 360 Rain-masjien wat deur Cerealis vertoon is, kan besproeiingsprodusente water bandplaas. Die water kan direk teen die stam van die gewas ge­plaas word sodat die wortels die water optimaal kan opneem. Verder help die band­plaas van die water ook om verdamping te onderdruk. Hierdie masjien gaan sonder twyfel vir sommige produsente ’n oplossing bring.

Die presiese plasing en oriëntasie van ’n mieliepit in die grond het ’n invloed op produksie. Cerealis het vanjaar hul ArrowTube bekendgestel wat produsente in staat stel om elke pit te optimeer – nie net volgens afstand tussen die plante nie, maar ook betreffende oriëntasie in die plantvoor. Pitte word altyd met die punt na onder geplaas, gevolglik groei die eerste worteltjie reguit af en die koleoptiel groei reguit na bo. Hierdie pitte wat met hul punte na onder wys het ’n groter kans om te groei as toestande dalk minder gunstig is. Pitte wat dieselfde georiënteer is maksimeer verder elke plant se vermoë om sonlig op te vang deurdat die blare in dieselfde rigting staan en so word die opbrengspotensiaal verhoog.

Stark-implemente het ’n inlyn ripper vervaardig waar die werksdiepte van die tande hidroulies beheer kan word.

Elke nuwe implement of idee wat tydens NAMPO vertoon is, plaas egter ’n verantwoor-
delikheid op die produsent. Nuwe produkte moet ondersoek word om te bepaal of dit ’n voordeel vir die boerdery inhou en of die koste gespandeer die moeite werd sal wees. Dit is hier waar veerkragtigheid inkom. Produsente moet onderskei tussen wat kan werk en watter idees om eerder verby te laat gaan – daar moenie sommer voor die voet gekoop word nie.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991.

Rovic se nuwe vastebalkplanter vir die kleiner mark.
Die ArrowTube van Cerealis maak dit moontlik om die geplante pitte se oriëntasie te standariseer sodat al die pitte dieselfde in die plantvoor lê.