Beste Grootneef
Wanneer die Vrystaatse koue met wit gerypte vlaktes byt, dink ek soms terug aan Oupa en Ouma op Liefdefontein. Hulle het nie baie daaroor gepraat nie, maar ek onthou tog hoe hulle soms laat aand gedeel het wat hulle as konsentrasiekampkinders beleef het.
Nadat die Engelse oorlog teen die twee republieke uitgebreek het, is alle weerbare mans en seuns met hul kommando’s fort in ’n poging om die Engelse oormag te stuit. Die Kakie-golf is aanvanklik netjies teruggedryf met unieke krygskuns by Magersfontein en ander slagvelde.
Die Boeremagte het plase as voedselpunte en vir mediese sorg gebruik. Vrouens en kinders het gesorg vir biltong of beskuit vir die kommando’s wat daar aangedoen het.
Maar die Engelse magte – raadop en gefrustreerd met die stand van sake met ’n oorlog wat al hoe duurder geraak het – het toe die skrikwekkende besluit geneem om ’n beleid van verskroeide aarde te volg. Dit het beteken dat veldbrande gestig is om skuiling en weiding uit te wis, alles om die toegang na voedselbronne vir die kommando’s te vernietig. Die omvang van vernietiging met duisende stuks vee – skaap en bees – wat eenvoudig doodgeskiet is, was boonop ’n aanval op die Boeremagte se moraal.
Dit was egter net die begin; plaasopstalle moes ook vernietig word. Die vrouens en kinders wat nog huis en haard in die eensame platteland bymekaargehou het, se hulp en bystand aan die kommando’s moes gebreek word. Die Engelse soldate het plaashuise afgebrand en vrouens met hul kinders gevange geneem om in konsentrasiekampe aangehou te word.
Hierdie kampe het mense laat vergaan in tente wat nooit voldoende skuiling in die somer of die winter kon bied nie. In baie van die kampe was daar nie genoeg water of kos nie. Dit was ’n verterende ellende – die aanhouding van onskuldiges agter doringdraad. Na raming het ongeveer ses-en-twintig-duisend vroue en kinders in hierdie kampe omgekom. Dan was daar die Engelse boelies en Hanskakies wat kampwagte was. Groot meneer en ver van die front het hulle dit so moeilik moontlik gemaak vir dié wat sonder hoop of nuus van geliefdes aangehou is.
Dit kon op die einde selfs die taaiste Boerekryger op kommando laat knak – om te sien en te hoor hoeveel van hul geliefdes in die kampe vergaan. Die rye grafte langs elke konsentrasiekamp is steeds die stille getuies van die ellende wat op vrouens en kinders afgedwing is.

Die uiteinde was die Vrede van Vereeniging, waar burgers hul wapens moes inhandig en ’n eed van getrouheid aan die Britse Kroon moes aflê. Vir die Bittereinders was dit soos gal om hul gewere neer te lê en ’n pen op te neem om getrouheid te sweer teenoor ’n vyand wat alles vernietig het.
Hierna is die hekke van die konsentrasiekampe oopgemaak en die oorlewende vroue kon met hul kinders terugloop na afgebrande opstalle. Min of geen nuus was bekend van wat van hul mans geword het nie. Was hulle dood, gevangenes op Ceylon of êrens in ’n veldhospitaal?
By die uitgebrande opstal gekom, vertel Ouma hoe hulle hulpeloos gekyk het of daar nog iets bruikbaar was om ’n skuiling mee te bou. Dis toe dat sy as jongmeisie tussen die as en roet in die voorhuis op ’n ou familiefoto van voor die oorlog afgekom het – deurboor met ’n koeëlgat. En toe die groot wag om te sien of enige ander oorlewende familielede by hulle sou aansluit.
Ouma was ’n kampkind, maar tot haar oudag wou sy nie graag oor die lewe in die konsentrasiekamp vertel nie, behalwe van die verskriklike koue van die Vrystaatse nagte. En van die tuiskoms by ’n uitgebrande opstal, met ’n familiefoto wat tot niet geskiet is.
’n Snoesige winter met ’n kaggelvuurtjie, ’n soetwyntjie en ’n warm bed om in te slaap is hemels. Om agter ’n doringdraad aangehou te word in ’n tentjie, om honger te gaan slaap en wakker te word, met mense wat om jou in hoesbuie uitbars, moes hel op aarde gewees het …

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.














