ʼn Nuwe seisoen

Gepubliseer: 11 Augustus 2026

26

Beste Grootneef

Die winter het net na vyf die middag lang skaduwees oor die werf gestoot terwyl die son oor die westerkim wegsak. Uit die vlei stu die koue lug met ysige vingers bult op – sodat selfs die water in die boonste krip in die oggende gevries is.

’n Rokie trek lui uit die skoorsteen; die wind is stil vanaand. Dis tyd om huis toe te stap. Met die deur toe, merk ek dat die vlamme in die kaggel nog voel-voel aan die droë stompies. Weldra vat die fynhout vlam en dreun die kaggelvuur. Dit laat die huis veilig, warm en dig voel, net soos Laurika dit sing.

Die Vrystaatse vlaktes sprei alkant om. ’n Jakkals laat van hom hoor van die spruit se kant af. Tarentale roep soos ’n droë kruiwawiel – op pad bloekombome toe. Die sinkdak kraak soos die nag en die koue neerdaal. Wagter lê pens eerste vuur se kant toe, met pote wat roei in sy hondedroom soos hy weer vanmiddag se meerkat jaag.

Winter dwing stof tot nadenke met lang aande en die kaggel wat die koue uit die voorhuis hou. Soos bome hul blare afskud en teruggee aan die veld, so ook is die winter vir elke mens ’n geleentheid om af te skud wat onnodig is, al is daar ook snoeiwerk nodig. Om weer te word wat jy is en besluite te neem wat groeikrag losmaak. Om reg te wees vir die nuwe seisoen. En betyds planne te maak van wat anders en beter gedoen kan word. Om vir lewe te besluit en aan te beweeg.

Uit die kombuis rinkel die borde, messe en vurke soos vroulief regmaak vir aandete. Die laaste sout en peper word ingeroer vir die pot se finale prut.

Ek besluit om ’n spesiale bottel wyn oop te maak en ’n glasie vir my en vroulief te skink. Sommer om die winter te vier. Die Kaapse vrug uit die wingerd flonker rooi wanneer deur die wynglas na die kaggelvuur gekyk word.

Dit is nag, dit is huis, dit is vrede. Dit is samesyn. Dis ’n winters­aand in die Vrystaat.

Ek gooi laataand ’n laaste stompie op die kole en kyk hoe die vonke by die skoorsteen op trek. Soos gras is die mens – vandag hier en môre weg. Wees tyd- en seisoenbewus, die uurglas loop maar altyd deur, dag vir dag.

Die volgende oggend is ek voor sonuit na buite. ’n Nuwe dag begin met mis oor die gronddam. Die werkers se stemme klink vrolik soos hulle aangestap kom.

Op pad stoor toe stap ek by die perskeboom verby. Die takke is netjies teruggesnoei. Die groeipunte begin vol raak – ook die boom voel dit aan, die nuwe seisoen is enkele weke weg. Onder die skurwe stam maak die boom gereed om nuwe bloeisels en lote te stoot.

Die boom staan geëts terwyl die son se eerste strale van die nuwe dag die bult goud verf. Die perskeboom vertel vanoggend sy eie storie – uitbranding is nie verpligtend nie. En ’n nuwe seisoen van groei lê voor die deur. Maak reg en hou vas – hierdie somer sal ’n boer ’n plan moet maak.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.