Sit organiese misstowwe die pot mis?

Gepubliseer: 6 Julie 2026

49
David Hamman, landboukundige, Agri-Analytix

Pietman Botha,
SA Graan/Grain-medewerker

Gegewe die verwagte hoë kunsmispryse soek alle produsente na alternatiewe. Baie begin kyk na die inbring van organiese misstowwe soos hoendermis, beesmis, varkmis of dalk iets anders. Dit is nie ’n slegte plan nie, maar soos altyd moet produsente katvoet loop.

Mis word wêreldwyd as ’n waardevolle bron van plantvoeding en organiese materiaal beskou. Bene­wens die bydrae van makro- en mikrovoedingstowwe, speel dit ’n belangrike rol in die verbetering van grond se fisiese, chemiese en biologiese eienskappe. Die agronomiese waarde van mis word egter grootliks bepaal deur die samestelling daarvan, die bestuur van toedieningspraktyke en die interaksie tussen grond-, klimaat- en gewasfaktore. Gevolglik behoort mis nie as ’n volledige vervanging vir ’n wetenskap-gebaseerde bemestingsprogram beskou te word nie, maar eerder as ’n aanvullende komponent van ’n geïntegreerde grondvrugbaarheidsbestuurstelsel.

’n Beesmiskoek.

Agronomiese voordele van mis
Voorsiening van plantvoedingstowwe
Mis bevat ’n wye reeks plantvoedingstowwe, insluitend stikstof (N), fosfor (P), kalium (K), kalsium (Ca), magnesium (Mg), swael (S) en verskeie noodsaaklike mikro-elemente. Anders as sintetiese kunsmis, wat tipies slegs een of enkele voedingstowwe voorsien, dra mis by tot die algehele voedingstofstatus van die grond.

’n Belangrike kenmerk van mis is dat ’n groot gedeelte van die voedingstowwe in organiese vorm voorkom. Hierdie voedingstowwe word geleidelik deur mikrobiese mineralisasie vrygestel, wat ’n langertermynbron van plantvoeding kan bied.

In Tabel 1 word die samestelling van organiese misstowwe aangetoon, soos onderskeidelik in die Fertasa-bemestingshandleiding en deur die KwaZulu-Natal Departement van Landbou gepubliseer.

Oor die algemeen is pluimveemis die hoogste in voedingstowwe en beesmis relatief laag in voe­dingstowwe. Die samestelling van mis hang dikwels af van die kwaliteit van die voer wat die dier inneem. Hoe ryker die voer aan proteïene is, hoe ryker is die mis aan stikstof. Net so, hoe meer fosfor en kalium daar in die voer is, hoe meer is dit in die mis aanwesig. Dit is waarom produsente misstowwe moet laat ontleed om die werklike syfers te verkry.

Binne ’n jaarperiode vanaf toediening is ongeveer 90% van die totale stikstof en fosfor van hoendermis beskikbaar vir plantopname. By beesmis word slegs ongeveer 20% van die totale stikstof en 40% van die totale fosfor vir die plant beskikbaar binne dieselfde typerk. Dit is ook waar dat hoe hoër die mis se voedingstofinhoud is, hoe meer elemente is beskikbaar vir die plant. Indien produsente reeds met ’n organiese bemesting­stelsel werk, kan dit voordelig wees om tydens grondont­ledings ook vir stikstof en organiese materiaal te laat ontleed.

Verhoging van organiese materiaal
Die toevoeging van mis verhoog die organiese koolstofinhoud van die grond, wat op sy beurt verskeie voordelige effekte het. Organiese materiaal verbeter aggregaatstabiliteit, verhoog porositeit, bevorder waterinfiltrasie en verhoog die grond se waterhouvermoë.

Verder dien organiese materiaal as ’n energiebron vir grondmikroörganismes, wat mikrobiese diversiteit en biologiese aktiwiteit stimuleer. Hierdie prosesse dryf voeding-
stofsiklusse en dra by tot die ontwikkeling van ’n meer funksionele grondekosisteem.

Henk Harmse, produsent in die Koster-omgewing, by ’n hoop gekomposteerde hoendermis op sy plaas.

Verbetering van katioonuitruilkapasiteit
Die humusfraksie wat uit organiese materiaal ontwikkel, beskik oor ’n hoë katioonuit-
ruilkapasiteit (KUK). Dit verhoog die grond se vermoë om voedingstowwe soos stikstof, kalium, kalsium en magnesium te adsorbeer en teen uitloging te beskerm.

Potensiële verbetering van nutriëntbenutting
Onder gepaste bestuurstoestande kan die kombinasie van verbeterde grondstruktuur, verhoogde biologiese aktiwiteit en verbeterde vogretensie lei tot beter wortelontwik-
keling en meer doeltreffende benutting van plantvoedingstowwe.

Beperkings en risiko’s verbonde aan misgebruik
Hoë variasie in voedingstofsamestelling
Een van die grootste beperkings van mis is die inherente variasie in voedingstofinhoud. Faktore soos dierspesie, voerbron, strooiselmateriaal, bergingstydperk en komposte-
ringspraktyke beïnvloed die finale samestelling aansienlik.

Hierdie variasie bemoeilik akkurate voedingstofbeplanning en beklemtoon die noodsaaklikheid van gereelde misontledings voordat dit toegedien word.

Lêhoendermis.

Ongebalanseerde voedingstofverhoudings
Die verhouding tussen stikstof, fosfor en kalium in mis stem selde ooreen met die werklike behoeftes van gewasse. Wanneer mis op grond van stikstofvereistes toegedien word, word dikwels oormatige hoeveelhede fosfor en kalium toegedien.

Langtermynopbou van fosfor kan sinkbeskikbaarheid beperk, terwyl verhoogde kaliumvlakke magnesiumopname deur plante kan onderdruk. Sulke wanbalanse kan uiteindelik opbrengspoten­siaal en gewaskwaliteit negatief beïnvloed.

Stikstofverliese
Die stikstofkomponent van mis is onderhewig aan verskeie verliesmeganismes. Ammoniumstikstof kan deur ammoniakvervlugtiging verlore gaan, veral wanneer mis op die grondoppervlak toegedien word. Nitraatvorming deur nitrifikasie verhoog weer die risiko van uitloging en denitrifikasie.

Die netto stikstofbydrae van mis is dus dikwels aansienlik laer as die totale stikstofinhoud wat deur laboratoriumontledings aangedui word.

Tydsberekening van voedingstofvrystelling
Die tempo waarteen voedingstowwe uit organiese materiaal gemineraliseer word (verander word na plantbeskikbare vorms), word beïnvloed deur temperatuur, vogtoestande, suurstofbeskikbaarheid en die koolstof-tot-stikstofverhouding van die materiaal.

Gevolglik stem voedingstofvrystelling nie altyd ooreen met die tydstip van maksimum gewasbehoefte nie, wat die risiko van tydelike tekorte of verliese verhoog.

’n Hoop braaikuikenmis wat besig is om te komposteer.

Opbou van oplosbare soute
Sekere misstrome, veral hoender- en voerkraalmis, kan aansienlike hoeveelhede oplosbare soute bevat. Herhaalde toedienings kan grond se elektriese geleidings-
vermoë verhoog en sodoende ont­kieming, wortelgroei en wateropname negatief beïnvloed.

Hierdie risiko is besonder relevant in semidroë produksiegebiede waar natuurlike uitloging beperk is.

Opbou van swaar metale
Spoorelemente soos koper en sink word gereeld as voeraanvullings gebruik. Langtermyntoedienings van mis kan aanleiding gee tot progressiewe opbou van hierdie elemente in die bogrond.

Hoewel toksiese vlakke selde binne kort tydperke bereik word, behoort hierdie risiko in intensiewe veeproduksiestelsels gemonitor te word.

Onkruidsade en patogene
Onvoldoende gekomposteerde mis kan lewensvatbare onkruidsade bevat wat nuwe besmettings in lande kan vestig. Daarbene­wens kan verskeie plant- en dierpatogene in vars mis voorkom.

Behoorlike kompostering verminder beide hierdie risiko’s aansienlik deur verhoogde temperature tydens die ontbindingsproses.

Grondverdigting
Die toediening van groot volumes mis vereis dikwels die gebruik van swaar toerus­ting. Verkeer onder nat toestande verhoog die risiko van grondverdigting, wat porositeit verminder, wortelontwikkeling beperk en waterinfiltrasie benadeel.

Kompostering in proses.

Omgewingsimpakte
Oormatige of wanbestuurde mistoedienings kan aanleiding gee tot fosforafloop en stikstofverliese na oppervlak- en grondwaterstelsels. Hierdie prosesse dra by tot eutrofikasie van waterliggame en die verswakking van waterkwaliteit.

Vanuit ’n omgewingsperspektief word fosforopbou in die bogrond dikwels as een van die grootste risiko’s van langdurige misgebruik beskou.

Aanbevole bestuurspraktyke
Om die voordele van mis te maksimaliseer en die gepaardgaande risiko’s te beperk, word bestuursbeginsels aanbeveel soos:

  • gereelde ontleding van beide grond en mis;
  • berekening van toedienings gebaseer op werklike voedingstof­inhoud;
  • deurlopende monitering van grondfosfor- en -kaliumvlakke;
  • integrasie van mistoediening met konvensionele bemestingsprogramme;
  • maksimale benutting van kompostering waar prakties uitvoerbaar;
  • inwerking van mis om ammoniakverliese te beperk;
  • vermyding van toedienings op versadigde of nat gronde; en
  • gereelde evaluering van grond se fisiese en chemiese eienskappe.

Toedieningshoeveelhede van mis vir grondverbetering
Wanneer mis as deel van ’n grondverbeteringsprogram gebruik word, verskil die optimale toedieningshoeveelhede van dié wat uitsluitlik vir voedingstofvoorsiening aangewend word. Die primêre doel van grondverbetering is om die organiesemateriaal-
inhoud, biologiese aktiwiteit, grondstruktuur en waterhouvermoë van die grond te verbeter. Om hierdie voordele te realiseer word daar gewoonlik hoër toedienings benodig as wat slegs vir die voorsiening van plantvoedingstowwe vereis word.

Die maksimum ekonomiese en agronomiese toedieningshoe­veelheid word egter meestal beperk deur die risiko van fosfaatakkumulasie eerder as deur die behoefte aan organiese materiaal.

Tipiese toedieningshoeveelhede vir verskillende missoorte
Tabel 2 verskaf riglyne wat as vertrekpunt gebruik word vir grondverbeteringsdoeleindes.

Die werklike toedieningshoeveelheid behoort altyd gebaseer te word op die voedingstofinhoud van die mis, die bestaande grondvrugbaarheidstatus en die langtermynbestuursdoelwitte van die produsent.

Grondverbetering versus voedingstofvoorsiening met beesmis as voorbeeld
Vir grondverbeteringsdoeleindes kan die volgende algemene riglyne vir toediening gebruik word:

5 tot 10 t/ha
Hierdie vlak kan as ’n onderhoudstoediening beskou word. Dit stimuleer mikrobiese aktiwiteit en dra by tot die instandhouding van organiesemateriaalvlakke, maar die impak op organiese koolstof in grond sal op kort termyn beperk wees.

10 tot 20 t/ha
Hierdie reikwydte word dikwels as die mees praktiese en ekonomiese vlak vir grondverbetering beskou. Meetbare verbeterings in grondstruktuur, waterinfiltrasie, voedingstofsiklusse en biologiese aktiwiteit word dikwels waargeneem.

20 tot 40 t/ha
Hierdie vlak verteenwoordig ’n aggressiewe grondbouprogram wat gewoonlik op gedegradeerde gronde of gronde met baie lae vlakke van organiese materiaal toegepas word. Die risiko van voedingstofakkumulasie neem egter beduidend toe.

Meer as 40 t/ha
Sulke hoë toedienings behoort slegs onder spesifieke omstandighede oorweeg te word, veral waar gekomposteerde materiale gebruik word en waar grondontledings bevestig dat fosforvlakke laag is. Gereelde monitering van grondvrugbaarheid is noodsaaklik.

Fosforakkumulasie: die grootste beperkende faktor
In hoë-opbrengsmielie- en sojaboonproduksiestelsels is fosforakkumulasie dikwels die grootste risiko wat met langdurige misgebruik gepaard gaan.

As voorbeeld kan ’n hoendermisproduk wat ongeveer 25 kg P/ton bevat, teen ’n toediening van 10 t/ha ongeveer 250 kg P/ha verskaf. Ter vergelyking verwyder ’n 7 ton/ha mielie-oes tipies slegs ongeveer 25 tot 35 kg P/ha. Herhaalde toedienings kan dus binne ’n relatief kort tydperk lei tot oormatige fosforopbou in die bogrond.

Om hierdie rede behoort mis primêr aangewend te word op lande of sones waar grondontledings lae fosfor- en kaliumvlakke aandui. Veranderlike toediening gebaseer op roosterpatroon-grond­ontledings kan ’n belangrike rol speel om voedingstofbalanse te verbeter en die risiko van oormatige opbou te beperk.

Aanbevole benadering vir grondbou
Vir die meeste graanproduksiestelsels bied ’n geïntegreerde benadering die beste balans tussen grondverbetering en voedingstofbestuur. Hierdie benadering behels:

  • jaarlikse ontleding van die misbron (of selfs meer);
  • gebruik van roosterpatroon-grondontledings om sones met lae fosfor-, kalium- en organiesemateriaalvlakke te identifiseer;
  • toediening van ongeveer 10 tot 20 t/ha gekomposteerde beesmis op hierdie sones;
  • inwerking van die mis kort ná toediening om stikstofverliese te beperk;
  • verrekening van slegs ’n gedeelte van die eerste jaar se fosfor- en kaliumbydrae in die kunsmisprogram;
  • handhawing van ’n aanvangsbemestingsprogram om vroeëseisoenvoeding te verseker; en
  • herontleding van grondvrugbaarheid elke twee tot drie jaar om die impak van die program te monitor.

Dié benadering lewer dikwels betekenisvolle verbeterings in grondstruktuur, waterinfiltrasie, organiesemateriaalvlakke en biologiese aktiwiteit sonder dat ernstige fosforakkumulasieprobleme ontwikkel. In die praktyk lewer herhaalde toedienings van 10 tot 20 t/ha gekomposteerde beesmis elke twee tot vier jaar gewoonlik beter langtermynresultate as jaarlikse swaar toedienings.

Gevolgtrekking
Mis verteenwoordig ’n waardevolle bron van plantvoeding en organiese materiaal wat betekenisvolle voordele vir grondgesondheid en gewasproduksie kan inhou. Die voedingswaarde daarvan word egter gekenmerk deur aansienlike variasie, terwyl risiko’s soos voe­dingstofwanbalanse, stikstofverliese, soutopbou, fosforakkumulasie en grondverdigting deeglike bestuur vereis.

Die grootste agronomiese waarde van mis word gerealiseer wanneer dit as deel van ’n geïntegreerde grondvrugbaarheidsbestuurstrategie gebruik word waarin grondont-
ledings, voedingsbalanse en gewasvereistes ’n sentrale rol speel. Met hierdie benadering kan mis ’n belangrike bydrae lewer tot beide volhoubare grondbestuur en hoë opbrengspotensiaal.

Vir meer inligting kan David Hamman (Pr.Sci.Nat. Reg. No. 400156/17) gekontak word by david@agrianalytix.co.za of 082 339 8323.