GEBRUIK VAN HOENDERMIS in ’n bemestingsprogram vir graanverbouing

Gepubliseer: 3 Julie 2026

57
Hendrik Barnard, plantvoedingsadviseur, Opticrop

Dit behoort elke produsent se doelwit te wees om die grond waarop geboer word se produktiwiteit en winsgewendheid so ver moontlik te verhoog. Daar is verskeie faktore wat hierop ’n invloed het. Om te verwag dat ’n enkele aksie of produk die pyp gaan rook is onrealisties – vir die beste resultaat is dit belangrik om ’n holistiese benadering te volg. Die belangrikste aspek is waarskynlik om te bepaal wat die doelwitte is, en daardie doelwitte sal bepaal watter aksies geïmplementeer moet word.

Vir die laaste klompie jare, veral na die Covid-19-pandemie, is sterk klem geplaas daarop om minder afhanklik te wees van chemiese insette, juis as gevolg van die koste en beskikbaarheid van insetprodukte. Tradisioneel maak produsente daarop staat om oplos­sings vir die plaas in sakke, kanne en pakkies te koop. Dit sal dwaas wees om nie alternatiewe en meer natuurlike metodes te ondersoek en te gebruik om die afhanklikheid daarvan te verminder nie.

Een manier is om grondgesondheid ’n prioriteit te maak. Daar is verskeie opinies oor wat die begrip “grondgesondheid” behels, maar daar is drie hooffak­tore wat ’n invloed daarop het: grondchemiestatus; grond- fisiese eienskappe en grondbiologie.

Al drie hierdie interafhanklik faktore sal gesament­lik bepaal hoe gesond of produktief die grond is. Die grond se fisiese eienskappe kan nie verander word nie, maar die grondchemie en grondbiologie kan wel beïnvloed word. Die grond waarop daar geboer word is die produsent se grootste bate; dus maak dit sin om hierdie bate ten alle koste te beskerm en so ver as moontlik te verbeter. Hoe gesonder die grond, hoe meer produktief sal dit wees.

Daar is verskeie aksies wat gebruik kan word om hierdie doelwit te bereik. Individuele produsente het natuurlik beperkinge as dit kom by watter praktyke hulle verkies.

Van die opsies wat oorweeg kan word, sluit in:

  • wisselbou;
  • die gebruik van multispesiedekgewasse of weidings­gewasse;
  • geenbewerking of minimum bewerking;
  • die gebruik van organiese materiaal; asook
  • die gebruik en integrasie van gekomposteerde hoen­dermis.

Vir die doel van hierdie artikel word gefokus op die integrasie van gekomposteerde hoendermis by die verbouing van graangewasse.

Die gebruik van gekomposteerde hoendermis hou verskeie voordele in.

1. Verskaffing van basiese plantvoedingselemente
Gekomposteerde hoendermis bevat ’n verskeidenheid nutriënte wat noodsaaklik is vir plantvoeding.

Dit bevat nie net makro-elemente soos stikstof, fosfaat, kalium, kalsium en magnesium nie, maar ook swael en ’n verskeidenheid van mikro-elemente soos yster, sink, koper, mangaan en boor wat noodsaaklik is vir plantgroei.

Om te weet hoeveel daar van elke element is, moet die gekomposteerde hoendermis ontleed word. Daar kan redelike verskille wees in ontledings van verskillende bronne en selfs siklusse van dieselfde bron. Die mees praktiese manier om hierdie probleem te oorkom, is om met langtermyn- gemiddelde waardes te werk. ’n Algemene ontleding word getoon in Tabel 1.

Gemeet teen huidige kunsmispryse, is die waarde van die stikstof, fosfaat en kalium in ’n ton gekomposteerde hoendermis ongeveer R1 770. Wanneer al die nutriënte in ag geneem word, is die totale waarde natuur­lik baie hoër.

Die fokus is normaalweg op die makro-elemente terwyl die waarde van die mikro-elemente meestal geïgnoreer word. Mikro-elemente is van onskatbare waarde en speel ’n belangrike rol in die mineralise­ring en beweging van makro-elemente. Om voldoende vlak­ke van alle elemente in die grond te hê is beslis die ideaal.

’n Belangrike voordeel wanneer hoendermis gebruik word as deel van ’n geïntegreerde program, is dat nutriënte stadig deur die loop van die seisoen vrygestel word soos wat die organiese materiaal afgebreek word.

2. Gebalanseerde grondbiologie
Gekomposteerde hoendermis is ’n goeie bron van voedsel vir grondmikrobes. Om organiese materiaal as grondbedekking te hê sal ook ’n goeie habitat skep vir ’n wye reeks mikro­örganismes. Hierdie organismes is verantwoordelik daarvoor om organiese materiaal af te breek en om nutriënte te mobiliseer wat dan die plante van voe­ding-
stowwe voorsien.

Hoe meer divers die populasie van mikrobes is, hoe beter. Maar dit is iets wat moeilik bereikbaar is wanneer ’n praktyk van monokultuur toegepas word. Wanneer rygewasse geplant word, is daar ’n beperkte populasie mikrobes wat gevoed word met die wortel-
eksedate van daardie spesifieke gewas. Deur hoendermis deel te maak van die sisteem is dit moontlik om die diversiteit van mikrobes te verbeter.

3. Verbeterde grondstruktuur
Verbeterde mikrobe-aktiwiteit sal op sy beurt weer aanleiding gee tot ’n verbeterde grondstruktuur. Daarmee saam kom verbeterde waterinfiltrasie, waterbergings-
kapasiteit en beter belugting. Die vrystelling van nutriënte is ook meer effektief met ’n verbeterde grondstruktuur. Toediening van gekomposteerde hoendermis het die potensiaal om die koolstof in die grond te verhoog, wat op sy beurt die katioon-
uitruilkapasiteit (KUK) van die grond kan verhoog.

Ander praktyke soos minimum bewerking, wisselbou en die plant van dekgewasse sal natuurlik ook voordelig wees om die grondstruktuur te verbeter. Soos vroeër genoem is dit egter elke individuele produsent se keuse om te bepaal watter van hierdie praktyke haalbaar is.

Rou of ongekomposteerde hoendermis
Ongekomposteerde hoendermis kan gebruik word, maar daar is sekere nadele wat oorweeg moet word. Rou hoendermis werk goed as die volume hanteerbaar is. Dit kan gebandplaas word indien produsente daarvoor ingerig is. Die hoendermis hanteer egter moei­lik en dit vertraag die plantproses omdat dit geneig is om maklik verstop-
pings te veroorsaak. Dit sal verkieslik gesif moet word om van die vere ontslae te raak.

Onder die grond kan die rou hoendermis dalk onkruid versprei en die ammoniak-
vrystelling kan nadelig wees vir plantwor­tel­ontwikkeling. Ongekomposteerde hoendermis het nie dieselfde langdurige voordele as gekomposteerde hoendermis nie.

Foute om te vermy
Met hierdie praktyk is die grootste gevaar dat daar te veel mis toegedien word – meer is nie noodwendig beter nie. Om die regte hoeveelheid toe te dien moet die produsent weet wat die grondstatus is. Gereelde grondontledings is dus belangrik om te besluit hoeveel mis om toe te dien. Terwyl daar baie voordele is deur die organiese fraksie in die grond te verhoog, is dit belangrik om te onthou dat die mis nutriënte bevat. Wanneer daar te veel mis toegedien word, is daar ’n gevaar dat wanbalanse kan ontstaan.

Die gevolge is presies dieselfde as wanneer daar te veel chemiese fosfaat of kalium toegedien word. Die beskikbaarheid van nutriënte in mis is ook onderworpe aan dieselfde reëls as chemiese kunsmis. Die grond se pH kan as ’n eenvoudige voorbeeld gebruik word. Waar die grond se pH te laag is, sal die normale chemiese bindings en beperkinge ook van toepassing wees op die nutriënte in die hoendermis. Tabel 2 is ’n skematiese voorstelling van Mulder se Kaart. Daar is enkele voorbeelde van die anargistiese verhoudings tussen ’n paar elemente wat tipies buite balans kan raak wanneer te veel mis toegedien word.

Uit hierdie tabel is dit duidelik dat daar probleme kan ontstaan met die beskikbaarheid van elemente indien die grondstatus nie in ag geneem word nie, en wanneer daar te veel mis toege­dien word. Dit is nie raadsaam om ’n aanbeveling te maak van die regte hoe­veelheid wat toegedien kan word sonder om die grondstatus en onttrekkingsyfers van die gewas wat geplant gaan word in ag te neem nie.

Een van die voordele wat hier bo bespreek is, is dat hoendermis die mikrobe-aktiwiteit kan verhoog. Dis is egter belangrik om te onthou dat die meeste Bacillus-spesies nie van suur grond hou nie. Alhoewel ’n bakterie ’n wye reeks van pH’s kan verdra, ver­kies die meeste ’n pH wat meer aan die alkaliese kant is. Die reaksie op gronde met ’n lae pH sal dus nie optimaal wees nie. Voordelige swamme verkies weer ’n pH tussen 4,5 en 5,5 (KCl). Hierdie dui op die belangrikheid van grondchemie en hoe die biologie daarvan afhanklik is. Wanneer chemiese balanse nie reg is nie, kan die biologie nie optimaal wees nie.

’n Verdere gevaar wat bestaan, veral wanneer te veel hoendermis toegedien word en veral in nat jare soos die afgelope seisoen, is dat ongewenste patogene kan kop uitsteek. Die komposterings­proses is uiters belangrik om hierdie risiko so ver moontlik te verlaag.

As dit kom by omgewingsgesondheid is dit natuurlik ook be­lang­rik om die afloop van minerale te beperk om sodoende die besoedeling van die omgewing en natuurlike waterbronne te verhoed.

Volg ’n holistiese benadering
Die beste resultaat sal altyd verkry word wanneer ’n holistiese benadering gevolg word. Wanneer ’n plantvoedingsprogram uitgewerk word, is dit belangrik om te weet wat die wegspringplek is en wat die doelwit is.

Dit is ’n goeie plan om ’n kombinasie van organiese en chemiese voedingstowwe te gebruik. Chemiese kunsmis is vinnig beskikbaar, terwyl die organiese komponent stadige vrystelling deur die loop van die seisoen bied.

Die ideaal sal dus wees om die regte chemiese kunsmismengsel, met inagneming van grondontledings en die hoeveelheid mis wat gestrooi word, te bandplaas tydens plant. Dit sal die jong plante ’n goeie wegspring gee. Hoendermis wat breedvoerig uitgestrooi word se doel is weer om die nutriënte wat nodig is vir plantgroei oor die totale opper-
vlakte van die land te versprei om vir die hele groei­seisoen beskikbaar te wees. Dit bevorder ook die biologiese aktiwiteit oor die hele land.

Stikstof kan op die regte fenologiese stadiums uitgestrooi word. Dit is vinnig beskikbaar vir die plant en sal verseker dat die vege­tatiewe groei voldoende is. Om gekomposteerde hoendermis te bandplaas kan oorweeg word, maar die volgende moet in ag geneem word:

  • Die regte toerusting word benodig om gekomposteerde hoendermis met ’n planter te bandplaas. Verskeie aanpassings sal waarskynlik aan toerusting gemaak moet word om so ’n praktyk te akkommodeer.
  • Selfs met die regte toerusting sal dit ’n uitdaging wees om groot volumes gekomposteerde hoendermis te bandplaas. Dit sal baie moeilik wees om byvoorbeeld 2 ton/ha te bandplaas.

Langtermynoorweging
Die langdurige toediening van gekomposteerde hoendermis het beslis die potensiaal om grondstatus te verbeter. Op lang termyn kan die grondbiologie en grondstruktuur verbeter, wat kan lei tot verlaagde chemiese insette en beter winste.

Vir meer inligting kan Hendrik Barnard by 082 883 3623 gekontak word.