Daar was dalk nie vanjaar gespletehoefdiere by die NAMPO Oesdag te sien nie, maar dit het beslis nie die mensevoete van die diereafdeling weggehou nie. Talle kreatiewe en innoverende metodes het steeds die boodskap oorgedra en die diere wat wél daar was, het vir baie oe’s en aa’s gesorg.
Boerboele bly ’n groot trekpleister, en dit was net eenvoudig onmoontlik om verby die babahondjies te stap. Streng biosekuriteit is toegepas en hande moes eers ontsmet word voor jy een vir ’n foto kon vashou.
Jy kan selfs na dese ’n miniatuurdonkie of -perd as troeteldier oorweeg. Telers soos Chris en Marina van der Merwe van Magnificent Miniature Creations het hulle kennis gedeel oor die oorsprong van hierdie diere en hoe dit deesdae as troeteldiere dien. Donkies raak só tuis dat sommige van hulle selfs in hul eienaars se kamers slaap. Hulle is geharde diere sonder piep met ’n lewensverwagting van ongeveer 40 jaar. Geen wonder dat vele NAMPO-besoekers jaarliks sommer net daar ’n bestelling plaas nie.
Telersgenootskappe het hulle uitstalruimtes beman en kreatiwiteit ingespan om hulle rasse te bemark, hetsy digitaal of met opgestopte of lewensgrootte diere uit karton. Die Brahman-span het ’n spesiale program vir skole aangebied om leerders speel-speel oor dié ras in te lig.
Produkte eie aan die verskeie bok-, skaap-, vark- en beesrasse is verkoop waaruit jy kon kies en keur: van Wagyu-biltong, boerbokkouse en leerkussingslope tot sagte speelgoed van suiwer wol.





























